Menu terloops
In Recaps [25 Des 2025]

‘Kokkedoor: Son & see’: Souttert, slaai en koebaai meraai! Als wat jy oor episode 6 moet weet


Soutterte en ’n sewelaag-slaai was op vandeesweek se spyskaart vir die oorblywende vier spanne in ‘Kokkedoor: Son & see’. 

Deur Ilza Roggeband
‘Kokkedoor: Son & see’: Souttert, slaai en koebaai meraai! Als wat jy oor episode 6 moet weet

Die vier oorblywende spanne in dié seisoen van Kokkedoor: Son & see – Shireen en RJ, Andrew en Leoné, Caroline en Anél en Hanna en Dirk – se eerste uitdaging in vandeesweek se episode was om die beste gourmet-toebroodjie te maak met die allerlekkerste oorskietkos wat op hul onderskeie stasies op hulle gewag het. Hulle kon ’n TV-braai of ’n lugbraaier gebruik en het ’n groot keuse van brood in die spens gehad. Daar is alles van koperpennieslaai en beet tot tong en skaapboud gebruik.

Die wenspan – weer Hanna en Dirk – het ’n Victorinox-messegeskenkpak ontvang. Dirk het erken die aantal kere wat hulle al gewen het, begin verwagtinge skep. Maar hy hou nog die teuels styf vas…

Kokkedoor Son en see
Ja, dis lekker om te wen, meen Dirk, maar dit beteken ook daar is bietjie meer druk vir volgende keer… Foto’s: Skermgrepe

Hannes van Wyk was die spesiale gas vir die hoofuitdaging: ’n piekniekmandjie wat ’n slaai met sewe lae, bekend as lagie-slaai, asook ’n souttert moes bevat. Voor die spanne eger kon wegspring, moes elkeen ’n Plascon-kleurkaart trek wat dan as inspirasie moes dien. Daar was drie kleure – rooi, groen en geel – asook ’n joker-kaart wat die span die geleentheid gegee het om hul eie kleur te kies. Hulle het tien minute vir beplanning en 80 minute vir die voorbereiding gekry. 

Hier is wat die spanne gemaak het: 

Kokkedoor Son & see
Caroline en Anél kry die joker-kaart en kies rooi: Die tert het salm bevat waarvan Herman gehou het, maar hy sou graag meer daarvan in die souttert wou gehad het. Die slaai het onder meer radicchio, radyse, gemarineerde klein tamaties en grenadilla bevat. Die ma-en-dogter span het komplimente vir die gemarineerde tamaties gekry en Herman het van die grenadilla in die slaai gehou. 
Kokkedoor Son & see
Andrew en Leoné speel met geel: Hul slaaibasis was broccoli, met gebraaide nektariens, appelliefies, gedroogde appel en bokmelkkaas bo-op. Die slaaisous is met dubbelroom-jogurt, suurlemoensap, heuning en mentblare gemaak. Die souttert se basis was lepelsteeltjiedeeg en die hoofbestanddeel was gekaramelliseerde uie. Herman het baie van die gebraaide nektariens in die slaai gehou en Hannes het verskeie happies van die tert gevat en was gaande oor die slaaisous. 
Kokkedoor Son & see
Hanna en Dirk kry groen: Vir hul nuwe weergawe van broodslaai het Dirk ’n pesto-slaaisous gemaak met avokado, pistasieneute, kruie en knoffel en dit op ’n groot bord gesmeer. Bo-op is slaaiblare, kruie, croutons en eiermousse, asook pecorino-skaafsels gesit. Hul tert se hoofbestanddeel was murgpampoentjies. Die tert het goed gelyk, maar die deeg was nie deurgebak nie. Dit het ook sout gekort. Die slaai was egter ’n wenner en Yolani het gesê sy kan dit eet en eet en eet… 
Kokkedoor Son & see
Shireen en RJ is rooi getooi: Die soutterte het gerookte hoender, songedroogde tamaties, rooi pepers, gekaramelliseerde rooi uie en kaas, en die slaai het rooikool, radicchio, appels en geskroeide druiwe bevat. Die rosies wat Shireen met appelskil gemaak het, moes eerder van die bord af gebly het en die druiwe moes eerder op ’n vuur geskroei geword het. Die slaai was ook eerder ’n mengelslaai en nie ’n lagie-slaai nie. Die souttert se deeg was nog rou – al het Hannes gesê dit was vir hom baie lekker. 

Wie bly en wie groet?

Die top-twee was Hanna en Dirk en Andrew en Leoné, met die pastoor-pa en sy dogter wat as die wenners aangewys is.

Dit was ongelukkig tyd vir Shireen en RJ om te groet. “Ons het ’n baie lekker tyd gehad, ons het baie geleer, baie nuwe mense ontmoet en dit was vir my ’n fantastiese ervaring met my seun,” het Shireen gesê. (Lees ook ons onderhoud met dié twee oor hul Kokkedoor-ervaring.)

En nou is dit tyd vir die semi-finaal! 

Kokkedoor Son & see
Andrew en Leoné het vandeesweek se groot uitdaging gewen.
Kokkedoor Son & see
Shireen en RJ moes groet.

Vyf wenke uit die Kokkedoor-kombuis in dié episode

  1. Wanneer jy groente in ’n souttert gebruik, maak seker om al die vog uit te druk anders kan dit te waterig wees. – Yolani 
  2. ’n Souttert moet genoeg vulsel bevat anders is dit net ’n koekie met ’n vulsel. – Herman 
  3. Die kern van kool moet uitgesny geword wanneer jy dit in ’n slaai gebruik aangesien dit nie lekker is om te eet nie. – Herman
  4. Wanneer jy jou tertdeeg blink bak, haal die boontjies of rys ná ’n tyd af sodat die deeg verder op sy eie kan bak. Die deeg moet sy blink voorkoms verloor en dan weet jy dit is deurgaar. – Herman 
  5. Onthou om genoeg sout en peper in jou tert te gebruik wanneer dit koud geëet gaan word. – Herman 

Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies