In vandeesweek se episode van Kokkedoor: Son & see was dit tyd vir die semi-finaal met die snoepietannies – ma en dogter Caroline en Anél, pa en dogter Andrew en Leoné van Kwazulu-Natal, asook Hanna en haar seun Dirk al die pad van Aberdeen in die Oos-Kaap.

Die spesiale gas was sjef Reuben Riffel en die eerste uitdaging was om kos met blikkiesvis gemaak. En die beste blikkiesvis-dis het vir die wenspan elkeen ’n wonderlike Ooni-oond in die sak gebring. Dis egter hier waar die kinkel inkom – hulle moes iets in die Ooni-oond voorberei, en dit was ’n eerste vir die spanne. Sjoe!
Caroline se fokus was op Paastyd met “hot cross buns en kerrievis” en volgens Anél is haar ma geheel en al kerrievis-begeesterd. Andrew en Leoné het viskoekies met rissie-pilchards gemaak, óftewel “Ouma se viskoekies”. ’n Seekospizza met klein viskoekies (“Ouma Rita se viskoekies”) bo-op was Hanna en Dirk se plan vir die uitdaging. Hanna en Dirk was – weer! – die wenners.

Vir die Goue Middeweg-uitdaging moes die spanne Reuben se visbord maak wat geinspireer is toe Reuben vir ’n naweek in Arniston was. Die bord het bestaan uit gebraaide vis met bruinbotter, gepekelde mossels, gebraaide vinkel, jong mielies, murgpampoentjie, tamaties, beet en aartappels. Daar was ook twee souse – een met pietersielie, suurlemoen en olyfolie, en dan ook ’n aïoli wat met borrie, kardemom, knoffel en mosterd gegeur is. Die slaai was slaaiblare, kappertjiesaad, dille en roketblare. Met baie elemente op die bord, was dit ’n reuse-uitdaging vir die spanne wat ook hul eie stempel op die bord moes sit.
Hier is wat die spanne gemaak het:



Wie bly en wie ry?
Met die uitslag het Reuben gesê hy kon die goeie verhouding tussen die spanlede sien en proe. Die eerste span wat gehoor het hulle is in die finaal, was Hanna en Dirk. Ongelukkig moes een span groet en dit was Caroline en Anél wat huiswaarts keer. (Lees ons onderhoud met dié ma-en-dogter-span nadat hulle hul voorskote moes ophang.)
Dit is dus Hanna en Dirk en Andrew en Leoné wat dit in die finaal in die Kokkedoor-kombuis gaan uitspook.

Vyf wenke uit die Kokkedoor-kombuis in dié episode
- Wanneer jy met geblikte vis werk, moet jy onthou die vis is reeds gaar. Dit het dus nie lang gaarmaaktyd nodig nie en moet as’t ware net warm gemaak word. – Reuben
- Wanneer jy vis oor die kole braai, sit rou uieringe op die vis voor jy dit op die rooster sit. Die uieringe sal keer dat die vis aan die rooster vassit. – Reuben
- As jy groente oor die vuur gaarmaak, moenie olie gebruik nie aangesien dit die vuur kan laat rook en die groente dan ’n rooksmaak gee. Sprinkel dit net met sout en braai dan. – Reuben
- Geduld is nodig vir die maak van aïoli aangesien dit maklik kan skif wanneer die olie by die eiers gevoeg word. – Reuben
- Groente wat onder die grond groei soos beet en aartappels, moet in koue water opgesit word. “Hulle wil saam met die water warm word en kook.” – Yolani.
Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.