Dinge in die ‘Kokkedoor: Son & see’-kombuis is nou op ’n mespunt gedryf met net drie spanne oor. En die finaal wink volgende week.
Eers was daar agt spanne, maar nou is daar net drie oor in die voorlaaste episode van dié seisoen van Kokkedoor: Son & see. Die spanning was snaarstyf en die glimlaggies het nie so maklik gekom nie. Dis taaier as taai – en net een glipsie kan die verskil tussen ’n plek in die finaal of huiswaarts beteken.
In die sewende episode het een van die land se bekendste sjefs die Kokkedoor-kombuis binnegestap: Reuben Riffel.

Die Goue Middeweg was ook ’n monster van ’n uitdaging. Toe Reuben die deksels begin lig, kon daar gesien word hoe van die spanne se moed tot in hul skoene sak. Dit was sy Arniston-wegbreeknaweek-visbord met verskeie addisionele komponente. Die Kokkedore moes hierdie geregte dupliseer – en hul eie familiestempel daarop afgedruk het. Uiteindelik was dit beslis een van die uitmergelendste uitdagings wat die spanne nóg moes afhandel. Sigbare emosies het verklap hoe hoog die prys was wat betaal is om daardie disse voor te kon sit.
Die eerste span wat tot die finaal deurgedring het, was Hanna en Dirk. Die twee was oorstelpt van blydskap. Dit was Caroline Linde en haar dogter, Anél van Niekerk, wie se bootjie net buite die hawe van die finaal gesink het.
“Daar’s ’n magic tussen ’n ma en dogter – en met goeie kos gaan julle die wêreld kan verander,” het Herman hulle toegevoeg.

Caroline vertel
Dit lyk asof jy en Anél ’n besondere hegte band met mekaar het. Het dit julle gehelp om Kokkedoor: Son & see beter te trotseer? En het jy sekere aspekte van jou dogter in ’n nuwe lig gesien?
“Wat ’n voorreg om so ’n lewensavontuur saam met my dogter te kon trotseer! Alleen sou ek dit beslis nie kon doen nie en sou ek nooit so iets aangepak het nie. Ek dink jy kom op ’n stadium in jou lewe waar jy al hoe meer op jou kinders staatmaak – en nie net jou eie kinders nie, maar die arme skoonseun en -dogter word ook ingesleep in hierdie ouerword-proses.
“Anél het ’n talent vir bak. Dit is die een ding wat ek opnuut weer in die stoor besef het. Sy het ’n passie en ’n aanvoeling daarvoor om te eksperimenteer en met nuwe resepte vorendag te kom. Sy is vir my ’n riem onder die hart. Ek sê altyd vir al vier ons kinders dat my en Jurie se harte bars van trots vir dit wat hulle al bereik het deur harde werk en baie ure se opoffering. Anél is ’n doelgerigte jong vrou wat alles daadwerklik aandurf.
“Die kinders, ouers en personeel is baie lief vir hulle snoepietannie want sy stap daardie onvoorwaardelike ekstra myl vir al haar kliënte, groot of klein. Ek bid vir haar ’n kreatiewe kook-toekoms toe!”
Wat dink jy is jou beste eienskap in die kombuis?
“My beste eienskap in die kombuis is om die koelkamer of yskas te recycle of te upcycle. Daar is vir my niks lekkerder as om ’n uitdaging daarvan te maak om al daardie ‘bietjies van alles’ bymekaar te sit en dit in ’n gereg om te tower nie. En om dan terug te sit en te sien hoe almal dit geniet.”
Jy het aan die begin van die reeks genoem dat Kokkedoor nog altyd jou droom was. Wat het vir jou die meeste uitgestaan van jou eie persoonlike ervaring?
“Gasvryheid! Agter die skerms. Ons is bederf met verblyf uit die boonste rakke. Daai kuiers saam met Errieda [du Toit, inhoudsvervaardiger van die reeks] in die aande . . .
“Ek is regtig iemand wat van eenvoud hou en ek sê elke dag dankie vir ’n bed en ’n warm stort. Kokkedoor het ons bederf met die beste ooit! Dit was van die klein detail soos blomme in elke huisie, heerlike etes, warm kombersies, koffie, snacks tot lekker geselsies en die ongelooflike crew! Dis nou van die kameramanne tot die personeel in die kombuis, die catering, skoonmakers, verwers, fotograwe tot die drywers en vervoer. Noem maar op – hulle was almal ongelooflik.
“Julle, my oë het oopgegaan oor die hoeveelheid mense wat by so ’n produksie betrokke is. Voor die skerms kan ek regtig niks uitsonder nie. Elke minuut van elke dag was net ongelooflik. Suzie Swanepoel, dankie vir al die lekker saamlag. Almal in die groot swart wa saam met Sanet Olivier en die span. Bathoni Robinson met haar mind-blowing insig en talent. Almal by Homebrew. Julle het dit reggekry om my FOMO te blus. Ek kon alles daarbinne beleef en ervaar!”

Wat was vir jou die hoogtepunt van jou deelname aan Kokkedoor?
“Daar was so baie hoogtepunte, veral ook elke nuwe mens wat ek ontmoet het. Soos ek genoem het, ons was omring deur talentvolle dinamiese mense wat vir ons so baie geleer het.
“Errieda, vir haar kennis wat sy so mooi aan ons almal oorgedra het . . . haar passie bly my by! Van kook tot agter die skerms. En elke gas wat kom kuier het, was weer vir my ’n nuwe leerskool. Ons is nooit te oud om te leer nie, julle! O ja, en natuurlik daardie lieflike spens en die sjefs en die uitdagings.”
Is daar goeie vriendskapsbande gesmee?
“Ek vertel graag so bietjie van elkeen van die deelnemers uit my hart. Dit was regtig soos home away from home. Daar was ’n persoonlikheid uit elke gewone normale huishouding.
“Ons het ’n huis gedeel met Yvette en Fran. Ek het lanklaas so lekker gelag soos daardie paar dae saam. Ek weet nie of julle al in die bed gelê het en dan skielik net begin lag het nie. Wel, Fran het vir baie sulke oomblikke gesorg. Yvette was die perfekte gasvrou, sy het almal die hele tyd gelukkig gehou en so was ons huisie die hele tyd die bymekaarkomplek vir almal.
“Liefste Hanna, dankie dat jy Anél so rustig gehou het deur haar langs jou te laat sit en brei. Jy luister en observeer so stilweg en jy het hierdie mooi eienskap aan Dirk oorgedra. Dirk, jou kreatiewe denke is next level, my kind. Julle is ’n great span.
“Dankie Anton, dat jy vroegoggend geselsies met ons drywers aangeknoop het wanneer ons almal se senuwees bietjie geknaag het. En Stefvan wat so stil-stil geluister het na sy pa se stories – hy gaan nog lank en lekker saam met sy pa kook.
“Frans en Una-Belle: Pollie, ons gaan Paarl toe! Julle is soos ’n lied in die hart. Skryf daardie resepte neer. Ek was in verwondering en weet alles wat julle maak, is voortreflik. Moet net nooit ophou doen wat julle doen nie, dit werk!
“Shireen en Reuven-Jon, oftewel RJ, het die mooiste verhouding en woordeskat wat daarmee saamgaan. Dankie vir al die lekker geselsies, Shireen. Jy het ’n beautiful young man grootgemaak.
“Marianne en Ronelle, ek hoop ons kan nog baie lekker kuier hier in Struisbaai want die tydjie saam was nie genoeg nie. En hou aan met lag. Dit is aansteeklik en maak alles in die lewe beter.
“Leoné en Andrew: Nou wat kan ek sê van pa’s en hulle dogters? Dit is baie spesiaal om julle saam te sien. Leoné, geniet elke oomblik saam met jou kids en families op die plaas.”

Hoe was dit om tyd met Herman en Yolani te kon spandeer?
“Herman, op jou stil sagte manier het jy tussen ons met ’n glimlag beweeg. En wat ’n voorreg om iemand persoonlik te ken wat al soveel hoogtes bereik het! Goedheid en guns wens ek vir jou toe.
“Ek wil net met julle deel. Daar was ’n dag toe ek redelik erg na my honde verlang het. Toe kom Herman se honde, Frans en Magda, ’n bietjie kuier. Die twee was daardie dag soos manna uit die hemel vir my verlangende hart.
“Yolani, ek dink ek het soms oopmond na jou gestaar. Soveel kennis en skoonheid in een mooi pakkie . . . Dankie vir al die kookwenke. Een laatmiddag wat vir my uitstaan, was toe Yolani met haar mooiste krulkopseuntjie gaan stap het. Dit was die mooiste prentjie wat ek steeds voor my geestesoog sien.”

Anél vertel
Jy en jou ma het so ’n gemaklike verhouding met mekaar. Was daar iets nuuts wat jy van haar geleer het tydens Kokkedoor: Son & see?
“Ons werk baie saam, so ek ken haar redelik goed in die kombuis. Ek het dit wel baie geniet om te sien hoe lief sy is vir sing wanneer sy onder druk is. Dit is iets wat ek nie vooraf geken het nie.”
Julle het dit tot by die top-3 gemaak. Was jy verbaas?
“Ek was baie verbaas. Ons was nooit bo nie en net eenkeer in die onderste twee voor ons ons voorskote moes ophang. Ek glo konsekwentheid kan jou baie ver kry, maar ons sou baie graag in die finaal wou wees.”
Het jy enige waardevolle lesse oor jouself en hoe jy onder druk floreer, geleer?
“Ek ken myself goed onder druk. Ek dink net ek moet werk aan my gesigsuitdrukkings. Hoe ek soms gelyk het, was glad nie hoe ek gevoel het nie.”
Verkies jy om ’n resep te volg of volg jy eerder jou intuïsie?
“Ek volg baie meer my intuïsie met kook, maar met bak sal ek verkies om ’n resep te volg. Kos is só ’n persoonlike aspek van jou self en dit is iets wat jy deel met mense vir wie jy lief is. Daarom volg ek altyd my intuïsie wanneer ek kook want dit kom uit my hart.”
Is daar enige waardevolle wenke wat jy tydens die reeks opgetel het wat julle twee snoepietannies in jul bedryf gaan toepas?
“Ons kan definitief ons wegneem-etes meer “Instagrammable” maak.”

Hoe het jy gevoel toe jy Reuben se uitdaging gesien het?
“Ek was baie op senuwees want ons Gautengers ken nie juis vis-borde nie. Maar dit was vir my vreeslik lekker om by hom te kon leer, veral hoe om ’n mossel skoon te maak.”
Herman en Yolani saam in die Kokkedoor-stoor . . . hoe was die ervaring vir jou? En hul deurentydse terugvoer?
“Ek is baie lief vir kritiek en ek weet dit lyk dalk nie altyd so nie, maar ek sal luister en altyd poog om dit beter te doen of reg te maak. Dit is maar die sportiewe kant van my. Herman en Yolani is ongelooflike mense. Ek is baie skaam en raak soms starstruck. Dit sou lekker wees om meer van hulle te sien weg van die stel af.”
Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.