Menu terloops
In Leefstyl & Aktueel [15 Jul 2026]

‘Klippe kou’: Ontmoet die spanne van nuwe dokkiereeks


‘Klippe kou’ is ’n dokkie-realiteitsreeks wat vier spanne volg soos hulle veteraanmotors opbou en regmaak vir die legendariese Bull Run by Vanwyksvlei – ontmoet dié avontuurlustige spanne.

Deur Redaksie
‘Klippe kou’: Ontmoet die spanne van nuwe dokkiereeks
Kyk lokprent

Wanneer Klippe Kou op 15 Julie op kykNET begin, gaan vier spanne die uitdagende pad na die legendariese Weg, Ry & Sleep Bull Run in Vanwyksvlei aanpak. Van lewenslange beste vriendinne tot jarelange makkers en avontuurlustige egpare – elke span bring hul eie storie, uitdagings en persoonlikheid na die reis.

Stofkartel: Veertig jaar se vriendskap en een groot avontuur

KLIPPE KOU

Vir Charmaine “Champoo” Nolte en Michelle Geere het Klippe Kou begin as ’n plan tussen twee beste vriendinne wat al byna 40 jaar lank saam deur die lewe stap.

“Ons oorspronklike plan was eintlik om Frankryk toe te gaan om ons 40 jaar as beste vriendinne te vier,” vertel Charmaine. “Toe besluit ons: as ons nie Frankryk toe kan gaan nie, dan bou ons ’n ou Land Rover en ry Bull Run!”

Agter die avontuur en die humor lê ‘n vriendskap wat deur regte lewenskrisisse getoets is – van Charmaine se pa se stryd teen Parkinson se siekte, tot die aand toe Michelle se ma tydens ’n huisroof vermoor is.

“Ek was by hom tot sy laaste asem, en daar is iets aan daardie ervaring wat ‘n mens vir altyd verander,” sê Charmaine. “En ek het gesien hoe Michelle, ten spyte van haar eie verlies, aanhou opdaag – vir haar familie, en ook weer vir haarself. Dit het my geleer hoe ongelooflik sterk liefde kan wees.”

Vir Michelle bly haar ma se dood die grootste klip wat sy nog moes kou. “Sy was vir so baie mense die mees ongelooflike voorbeeld,” sê sy. “Glad nie perfek nie, maar pragtig wys en vol pret.”

“Ons is basies familie,” sê Michelle. “As sy sê kom, dan is ek in.”

Vir Charmaine bly die grootste les een oor grense: “Jy kan langs iemand stap… maar jy kan nie elke klip namens hulle kou nie.” Die Weg, Ry & Sleep Bull Run het haar herinner dat daar, ten spyte van swaar goed, altyd plek is vir lag en nuwe herinneringe.

Oh What A Knight: Sê net ja

KLIPPE KOU

As daar een span is wat glo in avontuur, is dit Sharne en Ronald Knight. Toe hulle vir Klippe Kou ingeskryf het, het nie een van hulle regtig geweet waarvoor hulle hulself inlaat nie.

“Ek het nog nooit van die Bull Run gehoor voordat ons ingeskryf het nie,” lag Sharne. “En nooit in ’n miljoen jaar gedink ek gaan op ’n TV-program wees nie.”

Ronald se antwoord is korter: “Definitief nie. Glad nie. Nee, nie eers ’n bietjie nie.”

Die egpaar beskryf hulself as mense wat eerder ja sê en later uitwerk hoe die plan gaan werk. “My man is my soulmate,” sê Sharne. “Ons neem nie die lewe te ernstig op nie.”

Hul grootste verrassing? Vanwyksvlei self. “Toe ons daar aankom en dit lyk soos ’n army camp in die middel van nêrens, het ek besef hulle was ernstig oor die ‘roughing it’,” sê Sharne laggend.

Leka Djy: Moenie ‘n boek volgens sy omslag beoordeel nie

KLIPPE KOU

Craig Williams en Zale Titus ken mekaar al 25 jaar. “Ons is soos two peas in a pod,” sê Zale.

Agter die humor en kameraadskap skuil daar ook moeilike lewenservarings. Craig sê die grootste klip wat hy nog moes kou, was toe Zale hom drie jaar gelede bel om te vertel dat sy niggie – die vrou wat Craig as “die meisie van my drome” beskryf – in ’n motorongeluk oorlede is.

Vir Zale was die grootste uitdaging van sy lewe sy stryd teen dwelmverslawing. “Ek was vir 17 jaar verslaaf aan dwelms en het op straat gebly,” vertel hy. “Vandag is ek herstel.”

Dié twee meen hul motor gaan waarskynlik kykers die meeste verras. “Ons het basies nie ‘n kar gehad nie,” lag Zale. “Ons het hom baie laaste-minuut gebou, maar ons het deurgedruk.”

Craig sê die ervaring het hom iets belangriks geleer. “Ek het baie van die ander deelnemers geleer, en hulle van my. Moenie ’n boek volgens sy omslag beoordeel nie – lees eers die boek.”

Makkers: Teenoorgesteldes trek mekaar aan

KLIPPE KOU

Schalk van der Merwe en Jaco Nolte bewys dat vriendskap soms belangriker is as ooreenkomste.

“Ek is analities, hy is prakties. Ek is geduldig, hy is plofbaar,” sê Schalk oor hul dinamiek.

Jaco erken hulle kan soms kompeterend raak: “Ons werk goed saam, maar kan ook baie kompeterend wees met mekaar.”

Tog glo albei hul eerlikheid is die geheim van hul sukses. “Ons is reguit en oop met mekaar en sê dit soos dit is,” sê Jaco.

Wat hulle die meeste verras het, was nie die motors of die uitdagings nie, maar die mense. “Die ander mense in die program het diep in ons harte gekruip,” sê Jaco.

“Daar was baie oomblikke om die kampvuur waar ek baie van myself geleer het deur die stories van ander,” voeg Schalk by.


Klippe kou begin op 15 Julie om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies