As daar nou een ding is wat elke span in Klein Paradys al besef het, is dat daar nie genoeg ure in die dag is om by alles uit te kom nie. Nie een van die spanne is eens naby aan die voltooiing van hulle badkamers nie. En hulle moet reeds begin werk aan die volgende area: die slaapkamer.
Goeie en slegte kante kom uit
Wanneer daar druk is, is dit gewoonlik wanneer mense se persoonlikhede uitkom. Sommige hanteer die druk beter, ander verkrummel daaronder.
Elri, die argitek van Potchefstroom wat saam met sy vriend Juan-Louis in ’n span is, het ’n goeie hart en help waar hy kan. Jannie, aan die ander kant, skroom nie om gereedskap weg te steek sodat net hy dit kan gebruik nie… En toe die spanne aan die uitspanarea gewerk het, het hy min gedoen om te help. Behalwe natuurlik om raad van die kant af te gee.
Johann en Lee-Ann het die drie ure hulp van ’n konstruksiespan wat hulle in die vorige episode gewen het, vir Claudia en Alicia gegee, en die susters was baie dankbaar. Maar gaan hierdie goedhartigheid dalk op ’n stadium teen Johann en Lee-Ann tel?

Oeps!
Amper elke span het foute begaan wat hulle tyd gekos het.
Juan-Louis en Elri het sement oornag in hul kruiwa gelos. Toe moet hulle sukkel met gereedskap wat in harde sement vassit.
Jannie se troffel moes uit ’n emmer harde sement gesaag word.
Alicia en Claudia het ’n saag nodig gehad om ’n ronde gat vir ligte in die dak te saag, maar hulle het nie geweet hoe so ’n stuk gereedskap lyk nie. Hulle het dus nie besef dat daar wel ’n gatsaag in die werkswinkel beskikbaar was nie.
Klaas en Yvett én Gerrie en Maggie moes van hul teëlwerk oordoen.
Die spanne besef nou deeglik hoe belangrik kundigheid is wanneer dit by konstruksie kom, en almal het beslis nuwe respek vir vakmanne wat weet wat hulle doen.

Kaarte styf teen die bors
Klaas en Yvett probeer nie net hul plan met die muurpapier vir die ander spanne wegsteek nie. Hulle wil ook probeer om ’n kaggel in hul eenheid te sit sonder dat iemand agterkom. Maar gaan daar genoeg tyd wees om dit te doen? En teen watter koste?
Klein Paradys is op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.