Die derde episode van Klein Paradys het begin met die ses spanne wat elkeen ’n gereedskapkis gekry, en Johann en Lee-Ann se konsultasie wat in hulle in die vorige episode gewen het. Veral die plasing van hul bed is bespreek, maar dis nie duidelik of Johann en Lee-Ann wel Wicus se raad gaan volg nie. ’n Braai, geborg deur UCOOK, het die spanne ’n huppel in die stap gegee voor die volgende dag se harde werk begin het.
Mure en papiere
Terwyl Alicia en Claudia probeer uitwerk wat eerste moet kom – die mure of die plafon – het Klaas en Yvett skelm weggeglip om ’n natuurfoto te neem vir die muurpapier wat hulle in hul eenheid wil sit. Hulle probeer baie hard om hierdie troefkaart geheim te hou vir die
ander spanne, maar met muurpapier wat so in die mode is, het ook Maggie en Gerrie ’n idee om dit teen hul eenheid se plafon te sit.
Mika en Jannie het vinnig besef dis een ding om iets op papier te ontwerp, maar ’n heel ander ding om dit uit te voer. Juan-Louis en Elri het na die beoordelaars se raad geluister en die ontwerp van hul badkamer kleiner gemaak.
Die werkswinkel is die eerste keer oopgemaak, en die spanne was soos kinders in ’n lekkergoedwinkel. Sommige spanne is egter meer mededeelsaam as ander, en veral Jannie het veel meer gevat as wat hy moes.
Eerste uitstappie
Die spanne se eerste uitstappie was een na Stiles om teëls uit te soek. Lee-Ann en Johann moes ’n ander kleur kies omdat hul oorspronklike keuse nie beskikbaar was nie. Gerrie was onseker oor die pienk teëls waarop Maggie haar hart gesit het. Juan-Louis en Elri het hul vroue se insigte gemis. Alicia en Claudia se aandag is deur mooi krane afgelei nog voordat hulle teëls gekies het. Klaas en Yvett was ook by Stiles geheimsinnig en was doodbang een van die ander spanne sien wat hulle gekies het.
Wat is onder die seil?
Die spanne is later onkant gevang toe die aanbieder, Robbie Kruse, en die projekbestuurder, Brandt Bester, ’n groot eenheid onthul het wat die spanne saam as ’n gemeenskapsarea moet ontwikkel. Dis nou bo en behalwe hul eie onderskeie eenhede. Die spanne het besef hierdie is ’n groot knuppel in die hoenderhok. Dis óf lyf wegsteek óf inspring en werk. Wie gaan vou en wie gaan bou?
Uitdagings
Elkeen van die spanne het hul eie uitdagings. Een daarvan is dat bestellings vir alles van hout tot skroewe nie binne ’n uur of twee afgelewer kan word nie. En wanneer dit afgelewer word, moet die spanne uitwerk vir wie die aflewering bedoel is. Dis veral Jannie en Mika wat kopkrap omdat die skroewe wat hy bestel het, oënskynlik nie afgelewer is nie.
Wat volgende?
Die duiwel is in die detail. Die Klein Paradys-spanne gaan al meer begin besef beplanning is een van die belangrikste elemente om in gedagte te hou. Jannie en Mika dink hulle skroewe is nie afgelewer nie, maar is dit dalk wel? Begin die spanne nou al duwweltjies in mekaar se pad strooi?
Klein Paradys is op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.