Die ses spanne se eerste uitdaging in die eerste episode van Klein Paradys het bepaal watter eenheid die spanne kon kies. Die spanne is ook aangesê om ’n vloerplan vir die eenheid te ontwerp. Hierdie vloerplanne is in episode twee aan die drie beoordelaars voorgelê: Wicus Pretorius (Tuis se redakteur), Magdalena Bobotoni (uitvoerende hoof van huishouding by die deftige Saxon Hotel in Johannesburg), en Jess Pieters (wenner van Netwerk24 se Smaakmaker van die Jaar-toekenning in die doen-dit-self-kategorie).
Die werkswinkel
Die deelnemers het vir die eerste keer gesien hoe die Klein Paradys-werkswinkel lyk. Die projekbestuurder, Brandt Bester, het aan hulle gesê die werkswinkel sal elke dag tussen 09:00 en 17:00 oop wees. Die spanne, wat glimbaadjies in ses verskillende kleure dra, het elkeen hulle eie werkstafel, maar die res van die gereedskap, verf en ander benodighede moet gedeel word.
Die prys vir dié episode se wenspan was ’n konsultasie met Wicus.
Die spanne het in die volgende posisies geëindig:
Johann en Lee-Ann

Asem – Eenheid 4
Puntetoekenning: 4 uit 5
Die beoordelaars was veral beïndruk met hulle stort en toilet wat apart geposisioneer is en hoe hulle beplan om die natuur om die eenheid tot hulle voordeel te gebruik.
Maggie en Gerrie

Palimpses – Eenheid 2
Puntetoekenning: 3,6 uit 5
Die slim gebruik van spasie het die beoordelaars beïndruk, maar hulle het gevoel die badkamer kan kleiner.
Mika en Jannie

22 – Eenheid 3
Puntetoekenning: 3 uit 5
Die beoordelaars was veral bekommerd omdat daar volgens hulle nie genoeg gemaklike sitplek in die plan is nie.
Juan-Louis en Elri

Intak – Eenheid 5
Puntetoekenning: 2,9 uit 5
Jess het baie gehou van wat hulle met die buite-area beplan, maar Wicus se raad aan hulle was om altyd te onthou alles moet veeldoelig wees.
Klaas en Yvett

Die Meerkat – Eenheid 1
Puntetoekenning: 2,8 uit 5
Klaas en Yvett het probeer om hulle troefkaart – dat hulle die een hele muur in hulle eenheid met muurpapier gaan versier – weg te steek, maar Jess het haar voet neergesit. Die duo het toe hulle voorneme gedeel, en Wicus het gesê dis ’n baie goeie plan, aangesien dit deesdae ’n groot trend is.
Alicia en Claudia

Kaapse Nooi – Eenheid 6
Puntetoekenning: 2,5 uit 5
Die susters van Bloemfontein sukkel veral om die Kaapse weer – nat winters en winderige somers – in ag te neem, en dit was duidelik in hulle beplanning te sien.
Die beoordelaars se kommentaar
Jess het gevoel byna al die spanne se badkamers neem te veel ruimte in beslag. Wicus het hulle weer daaraan herinner dat elke sentimeter tel wanneer dit by mikro-eenhede kom. Magdalena het die spanne gekomplimenteer met die plasing van hulle beddens en met hoe hulle die natuurskoon om die eenhede in ag geneem het.
Wat lê voor op Klein Paradys?
Dit begin duidelik raak watter spanne nie net goed kan saamwerk nie, maar ook na die raad van die beoordelaars sal luister. Die feit dat die spanne in tente langs hulle eenhede slaap en nie noodwendig elke aand ’n goeie nagrus gaan kry nie, gaan later beslis ’n invloed op hulle werk hê. En soos met alle realiteitsreekse is die groot vraag: Wanneer gaan die naels begin uitkom, en wanneer gaan die eerste trane loop?
Klein Paradys is op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.