Menu terloops
In Recaps & Resensies [27 Mar 2024]

‘In die sop’: Nuwe hoop vlam hoog in die tuiste van surfers, hippies en vegetariërs


In die vierde episode van ‘In die sop’ se nuwe seisoen, maak sjef en restauranteienaar Bertus Basson en dekorkenner Misi Overturf magic in Muizenberg.

Deur Annelene Oberholzer
‘In die sop’: Nuwe hoop vlam hoog in die tuiste van <em>surfers</em>, hippies en vegetariërs

In die vierdie episode van In die Sop: Restaurant Evolusie se derde seisoen, kuier sjef en restauranteienaar Bertus Basson en dekor-kenner Misi Overturf in die Diep Suide in een van die Wes-Kaap se gewildste bestemmings. 

Dis Muizenberg, die plek wat Bertus aan “surfers en hippies . . . en vegetariërs” herinner. 

“Muizenberg is nogal ’n baie aangename plek om in te wees,” gee hy toe. En een van die aangenaamste juwele is natuurlik die restaurant Joon. Dis piepklein en omring deur talle winkeltjies in Palmer Road.

In die sop
Joon is na die eienaar, June Homan, vernoem. Foto: Verskaf

June Homan en Lindsay (June was met haar pa getroud) is nou al agt jaar in die hart van die village. Die plek waar sy haar restaurant gevestig het, het destyds behoorlik haar voete onder haar uitgeslaan. “En toe koop ek dit maar . . .”

Die restaurant is wel na haar vernoem, maar June het nie gedink dit sal goed lyk op ’n etiket nie. Só is Joon gebore. Lindsay het begin as ’n kelnerin, maar het geleidelik haarself tot binne die kombuis ingewurm.

“Ons deel alles, ons doen alles saam. Ons is ’n propperse span,” sê sy.

Lindsay was nog op die skoolbanke toe June die restaurant gekoop het. 

“Dit was toe net ek as ’n eienaar. Lateraan sien ek Lindsay gaan nou nie weg nie, sy gaan hier bly. Toe dink ek. Sy het hard gewerk en sy verdien dit,” en so maak June haar toe ’n medevennoot.

In die sop
Lindsay en June Homan is nou al agt jaar in die hart van die village. Foto: Verskaf

Argitek Stuart Thomson sê hy was van die eerste dag af een van Joon se kliënte. 

“Dis soos een van daai skatte in die geheime hart van die village waar die pizza en die koffie goed is,” sê hy.

“Dis asof sy mense bymekaar bring,” vertel Elizabeth Gunter, kombucha-verskaffer (Tea of Life). “Sy het al ’n lang tafel hier buite gehad, dink hier rondom Kersfees, vir almal wat nie by hul mense kon wees nie. [Hulle] kon ’n kaartjie koop en by die lang tafel kom aansit.”

Joon het drie tafels op die stoep, vyf tafels binne en sitplek in hul tuin aan die agterkant. Daar is verskeie muurskilderye te sien en volgens June was dit reeds daar toe sy die plek gekoop het. 

Nog ’n gereelde kliënt is die kunstenaar Serge Rinquist wat sy koffie hier kom kry. Dit was einste hy wat saam met ’n paar ander kunstenaars die kunswerke op die mure aangebring het.

“Gelukkig het dit deur die jare hier gebly en hopelik bly dit voortleef selfs ná In die sop se span hier klaar is,” is sy versugting.

Lindsay vertel dat sy en June ’n baie goeie verhouding het, maar soms is daar klein jakkalsies tuis wat dinge ’n bietjie omkrap. “Net ’n klein bietjie,” sê sy.

“Ons praat altyd oor die restaurant want dis ons hele lewe. Ek wil net hê dat my ma oukei moet wees.”

Hoe voel die gereelde inloerders oor In die sop se kuier? Ja, die dekor kan dalk verander word, maar die vibe moet nie ingeboet word nie. Die verbintenis tussen Joon en die village mag nie in die slag bly nie. En natuurlik is almal ten gunste daarvan dat Joon se naam nie verander moet word nie. 

In die sop
Lindsay was nog op die skoolbanke toe June die restaurant gekoop het. Foto: Verskaf

Hoe het Joon in die sop beland?

Lindsay sê hulle het van 2015 tot 2019 baie vinnig gegroei. June erken hulle beskik nie oor al die nodige kennis rondom ’n restaurant nie.

“As jy nou agter die stoof staan en jy kook, kook, kook en jy wil net kos uitkry . . . Jy voel die hele tyd of jy jou stert jaag,” sê June. “Jy gaan net so om-en-om in sirkels.”

June sê sy dink baie onsekerheid en hul onkunde het dinge moeiliker gemaak. 

Hulle is opgewonde oor wat Bertus na Joon kan bring en maak dit duidelik dat hulle nie baie geheg is aan enigiets nie. 

“Dis maar net dinge, jy weet,” sê June. “Maar die naam . . . Miskien is dit ’n bietjie verwaand om my eie naam aan die restaurant te koppel.”

“Die naam kán nie verander nie, want die restaurant ís June. Sy is die hele besigheid,” stel Lindsay dit baie duidelik. Nee wat, Bertus, hierdie Joon gaan bly . . .  

’n Plek met ’n hart

“Ek het al hier kom sit en huil en huil oor goed, hulle is net so amazing. Jy gaan nie altyd na ’n restaurant toe en kry daai deel nie,” vertel Elizabeth.

Serge het ook sterk gevoelens oor Joon.  

“Hulle wortels lê diep hier. Ja, ek wil nou nie die trane laat loop op kamera nie, maar dit beteken so baie vir hulle.”

Help, In die sop!

Die span is reg vir dié transformasie. Foto: Verskaf

“Die oggend toe ek besluit het om aansoek te doen (vir In die sop) . . . Ons stoof het gebreek en ons het net [mooi] niks geld gehad om die stoof reg te maak nie. 

“Toe moet ek by die huis sit met ons klein stoof daar. Dit was vyfuur in die oggend. Toe dink ek ek kan niks verloor nie, maar ek wil net nie my restaurant verloor nie,” vertel June.

June het die restaurant sowat ’n jaar ná haar man (Lindsay se pa) se afsterwe gekoop.

“Dit was die laaste kleine bietjie geld wat ons gehad het en die restaurant was ons reddende genade. Toe my pa oorlede is, het ons alles verloor. Sy het haar man verloor, ek het my pa verloor, ons het ons huis verloor . . . en met ons laaste bietjie muntstukke het June die restaurant gekoop. Dit kan nie toemaak nie,” sê Lindsay.

Bertus en die ’berg se nou straatjies

Beide June en Lindsay het senuweeagtig gevoel oor die ontmoeting met Bertus. Maar hy maak dinge gou beter.

“Die winkeltjie self is stunning met ou glaswerke, ou deurrame. Dis rêrig baie mooi en nogal vol karakter,” en Bertus hou daarvan.

June verduidelik dat net plaaslike kunstenaars toegelaat word om hul werk in Joon uit te stal. Dit is iets wat hulle steeds op die pad vorentoe wil doen. June sê sy is in beheer in die kombuis, maar sy en Lindsay erken laggend hulle boks soms so ’n bietjie daar. Vir Bertus is die kombuis baie sleg beplan: “Jy gaan jouself in ’n flippen twist in werk, dis vrek beknop,” verklaar hy.

Proetyd

Lindsay erken sy was nie juis senuweeagtig om vir Bertus te kook nie omdat sy baie ernstig op die kosmaakproses self gefokus het. Sy sit vars vis, gnocchi met sampioene en mossels vir hom voor.

Wil June nog agter die stoof staan, wil Bertus weet.

“Ek is mos lief daarvoor, jy weet. Maar as ek aan die kant moet staan en vir mense moet sê wat om te doen en check dat alles reg is, dan’s dit ook orraait,” sê sy.

“Ek was nog [altyd] meer in die kombuis en June was nog meer op die vloer met die mense. Ons hou van dit so, maar die lyne kruis soms,” sê Lindsay en bevestig dat ’n meer formele rolverdeling al reeds vantevore geopper is.

Beide June en Lindsay het senuweeagtig gevoel oor die ontmoeting met Bertus. Foto: Verskaf

Bertus voel hul disse is nie deurlopend van dieselfde gehalte nie omdat hul fokus nie heeltemal daar is nie.

“Ek wil hê jy moet die kombuis oorvat, Lindsay, en ek wil graag dat jy meer tyd met jou gaste spandeer, June,” is hoe Bertus die pad vorentoe vir hulle uitspel. Dis ook koebaai aan die pizzas, maar hallo vir platbrode.

“Nou toe, kom ons m**r hierdie ding uitmekaar uit. Dis tyd om te gaan,” is sy volgende woorde aan die twee.

Wat dink Misi?

“Hope sjarme! Ek is mal oor hierdie outydse shopfronts,” kom dit entoesiasties van haar kant af. Sy is ook heel ingenome met die Mediterreense tema wat Bertus voorgestel het. 

Dag 1

“Dis natuurlik ’n lekker wen vir ons as dit so klein is. Dis ’n lekker vinnige omdraai . . . in my kop, dink ek,” lag Misi vir haarself. “Maar almal is op mekaar.”

Gouer as nou word Joon leeggedra deur die op-en-wakker In die sop-span tot groot verbasing van June en Lindsay wat natuurlik alles waarneem.

“Dis verbasend hoeveel rommel jy het in ’n restaurant wat jy nie besef jy het nie,” kom dit van ’n verstomde June.

In die kombuis gaan dit woelig met Bertus wat vir sjefs Rahim Cassiem en Armand Durandt vertel wat van hulle verwag word. Dié, daar, doer word alles geskuif.

Kort voor lank verdwyn die bestaande toonbank voor, gevolg deur die gebreekte yskaste. Daar is een nuwe yskas op pad, danksy Bertus se vriende by Stay Cold. En vir die eerste keer in agt jaar word die koffiemasjien na ’n nuwe staanplek verskuif.

Misi het oulike vase van allerhande vorms opgespoor en dit word ’n vrolike geel geverf Verskillende gloeilampe wat tussendeur die vase gehang word, verander dit in ’n heerlike gesprekspunt. In die tuingedeelte gaan Misi die bestaande muurkuns se golwe-tema herhaal. Sy mik ook vir meer sitplek daar. Die kat teen die muur sneuwel egter. Gelukkig het Misi ’n goeie kunstenaar opgespoor wat teen die mure op haar tema kan uitbou.

Dit bly ’n gewoel en ’n gewerskaf – en byna veroorsaak die nuwe toonbank probleme. Maar Toitnette du Toit, opknappingsbestuurder, haal net haar skouers op en gaan voort om die toonbank se gal te werk tot waar dit pas.

Misi is opgewonde oor die nuwe voorkoms en spyskaart-aanslag. Die naam Joon bly. Maar dit kry nou ’n stertjie by: Joon – Muizenberg Mediterranean.

Dag 2

Die toonbank is in plek en Misi is gelukkig want sy kan nou die gevoel kry van die spasie. Ook Bertus is gelukkig met hoe die kombuis lyk. Lindsay is nou in sy visier met disse wat voorberei moet word. Seekat, onder andere.

Sy eerste stop is by Southern Cross Seafoods, om die draai van Joon.

“Vir enige sjef of restaurant is dit belangrik om so na aan hulle proviand te wees,” en hy moedig June en Lindsay aan om die verhouding met Paul van Southern Cross Seafoods te koester.

Misi vertel sy het gesukkel om die voorskote vir die restaurant gedruk te kry. 

Maar eie aan die groot hart van die village, het daar hulp van die winkel langsaan gekom: Gina Niederhamer het aangebied om met appliekwerk die probleem op te los omdat June al in die verlede vir haar ’n klip uit die pad gerol het.

Gina is ook ’n kunstenaar en van haar kunswerke word geruime tyd reeds in Joon uitgestal.

Die voorskote self is van ’n ander kunstenaar in die omgewing bekom.

“So bou ons ’n storie uit al die elemente van die gemeenskap, wat ek dink ’n mooi storie is,” sê Misi.

Op sy beurt loer Bertus in by Sirocco in Kalkbaai, nog ’n restaurant met ’n piepklein kombuisie wat in seisoentyd tot 1 000 borde per dag lewer. Hy is baie beïndruk en sê dat ’n klein kombuisie nie ’n verskoning is nie.

Die gesprek

’n Ou treinwa in Kalkbaai is die plek waar Bertus ’n goeie gesprek met June en Lindsay inwerk. Dit het hom gepla dat hul kos die vorige dag nie goed genoeg was nie. 

“Dis nou tyd om ernstig te raak, want daar is nogal baie op die spel.”

Lindsay verduidelik dat hulle die restaurant oopgemaak het onder moeilike omstandighede, en dat hulle dit gedoen het om ’n dak oor hul koppe te kry.

“Dit was nie daarop gemik om te floreer as ’n besigheid nie, maar om seker te maak ons het ’n huis en dat daar kos op die tafel is.”

Bertus het baie begrip daarvoor maar sê ook aan die twee dat hul restaurant elke rede het om super-suksesvol te wees.

“Dis goed geleë, julle is lieflike mense, julle is warm. En julle het baie redes om suksesvol te wees in daai spasie.”

June sukkel om haar emosies te beheer en die trane loop. Toe Lindsay wil weet of sy ’n sneesdoekie byderhand het, kom dit bedees van June: “Jip, ’n halwe toiletrol.”

“Hy was so brutaal eerlik. Ek dink vir ons altwee was dit ’n bietjie van ’n skop in die g*t,” erken June later.

Intussen by Joon

Hein Luttig, nutsman, kan nie die oomblik laat verbygaan om die span se been te trek nie. Hy sê iets is skeef en so byna-byna val Misi daarvoor tot waar sy met groot verligting besef dis nie waar nie.

Hein het ure spandeer om die vaas-en-gloeilamp-installasie aan mekaar te sit. 

“Ons het dit gedra soos ’n bruid se sluier,” vertel sy. Die voltooide produk is haar hoogtepunt van die dag.

Die nuwe kombuis

Bertus is baie tevrede met die nuwe voorkoms. Hy en Lindsay woel agter die potte en sy is ook baie gelukkig met die nuwe groter kombuis.

“Ek het nie woorde gehad nie, en ek het steeds nog nie woorde nie,” is Lindsay se reaksie op die nuwe kombuis. 

“En jy sal ook nie woorde hê nie,” waarsku sy vir June.  

Dag 3

’n Skadunet wat net nie wil pas nie en ’n wasbak wat laat is, is van die uitdagings wat die span trotseer. Ja, die wasbak is nie net laat nie, dis gebreek! En daar is nie tyd om ‘’n nuwe een te kry nie.

Maar Misi is ’n planmaker van formaat. Sy span die Kintsugi-tegniek (en natuurlik Q-Bond) in. Kintsugi is ’n Japannese gebruik om goud aan te wend waar die skerwe bymekaar kom.

“Dit is maar deel van die beauty. Dis nie die gebrokenheid van die item nie, maar dit is hoe dit weer bymekaar kom.”

Op pad na hul “nuwe” restaurant vertel June dat sy baie vroeg uit die vere was en sommer al die skottelgoed gedoen het om te kalmeer. En haar kop was so besig met alles, dat sy byna by haar eie restaurant verbygeloop het . . .

Oh, my Lordy,” is al wat sy uitkry met die instap. “Ek bewe byna, dis so oorweldigend. Pragtig.”

“Ongelooflik,” is Lindsay se reaksie. “Alles vloei net so mooi.”

“Dit gaan ons hele lewe verander,” kom dit van June. Maar dis nog voordat Bertus hulle na die binnehof neem.

Hierdie gaan beslis die somerbestemming word, is altwee se opinie. En June is steeds oorweldig. 

Om die lieflike tafel verduidelik Bertus meer oor die nuwe spyskaart. En wil hy by Lindsay weet hoe die vis vir haar proe. Sy besluit sy het haarself vir jare ingedoen omdat sy die afgelope ses jaar ’n vegetariër was, maar die winde van verandering waai beslis van hierdie dag af.  

Onder die mense wat instroom vir die nuwe Joon, is June se suster, Pamela Cuff. 

“Ek is heeltemal oorweldig. Sy moes dit lank gelede al gedoen het, want hierdie is haar passie.”

Lindsay sê die vlam van passie wat ’n tydjie gelede al gedoof is, brand weer van vooraf hoog. 

“Ek was net so moeg om ’n stryd te voer wat ons nooit gevoel het ons kan wen nie, maar daar is nou ’n bietjie hoop. Ons gaan dit doen, en ons gaan dit goed doen.”


In die sop: Restaurant-evolusie word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies