Sjef en restauranteienaar Bertus Basson en dekor-kenner Misi Overturf het reeds die afgelope 12 weke in jou huis gekuier het met hul vernuftige evolusie-planne wat vir soveel restaurante die lig laat skyn het. Hierdie is egter die laaste episode van die huidige reeks van kykNET se gewilde werklikheidsreeks In die Sop: Restaurant Evolusie. Maar wie weet, dalk is dit nie die laaste sien van die blikkantien nie…
In Linden, Johannesburg, gaan die span vir oulaas by die Rustic Vine, ’n klein restaurantjie en gallery, hul towerstaf rondswaai. En heel gepas, want Bertus dink hierdie is ’n baie “cool deel van die stad”.
Vanwaar?
Lientjie van Graan en haar verloofde, Robert Badenhorst, het vanaf 2009 ’n galery in Clarens gehad. Maar toe begin die kunsmark in 2016 begin afplat as gevolg van die ekonomie. Op Vrouedag in 2017, het dinge beter begin lyk met talle besoekers aan die galery en dit het tot ’n nuwe plan gelei.
“Dit was rêrig iets spesiaal. Bitter min gekoop, maar die dorp het uit sy nate uit gebars. Daai naweek het ek besluit om ietsie kleins oop te maak dat dit nie net die galery is nie. Dis waar Rustic Vine toe nou gebore is,” vertel Lientjie.
In 2013 is Robert ongelukkig oorlede. Die twee het saam ’n dogtertjie, Katryn, wat nou 14 jaar oud is.
“Ja, dit was ’n groot ding wat in my lewe gebeur het. Maar as jy ’n drie-en-’n-halfjarige dogtertjie het, besluit jy óf jy gaan jou onder die duvet toemaak óf jy gaan opstaan en jy gaan nou maar net na jou kind kyk,” onthou sy die moeilike tyd.
Die pandemie het ook hulle deure toegemaak. Maar Lientjie wou graag Robert se nalatenskap laat voortleef. Ongelukkig was die gebou nie meer beskikbaar nie en sy het besluit om weg te trek.
Geld was skraps, en sy het met haar voertuig en ’n sleepwaentjie alles wat sy kon, sélf van Clarens na Linden gebring.
“Dit was ’n moeilike drie jaar gewees. As dit nie was vir die ondersteuning van vriende en familie nie, dan dink ek nie ek sou dit kon gemaak het nie. Natuurlik, as jy ’n alleen-mamma is van ’n dogtertjie, het jy ook geen keuse nie. Jy moet net uithou en aanhou,” sê sy terwyl die emosies vlak lê.
Lekker in Linden
Faisel De, een van die huurders by Garden on 4th, is reg oorkant Lientjie se plek. Hy sê sy het deel van die leefwyse daar geword en dit sal baie leeg sonder haar wees as sy moet weggaan.
“Ek dink ook baie van die geleenthede wat sy aanbied, partykeer is daar ’n orkes wat hier optree, partykeer is daar ’n vlooimark op ’n Saterdag,” vertel Kobus Burger, lojale kliënt en vriend.
Marietjie Warrington, lojale kliënt, beskou Rustic Vine as een van Linden se bes-bewaarde geheime.
“Die oomblik wat jy hier instap, tref die rustige atmosfeer jou,” sê sy.
Lientjie sê sy wou nie dieselfde bied as die ander restaurante in die omgewing nie. Sy bly weg van burgers en ontbyt en fokus op kaasborde en wyn. Vandaar het dit verder gegroei met broodjies wat ook saam met die kaasborde aangebied word.
Uitgebreide spyskaart
“Maar ek dink ons spyskaart is te groot,” erken Lientjie. En haar beste vriendin, Samantha Clark, stem heelhartig saam en vestig haar hoop daarop dat Bertus haar ook daarvan sal oortuig.
Ook Kobus noem dat sy vriende soms oorweldig voel deur die spyskaart en sukkel om te kies wat hulle wil hê.
“Die kos is baie lekker en dis vars gemaak, maar dit vat lank. En ek dink net hulle het iemand nodig om vir hulle te sê, ‘Kyk, hierdie werk’,” sê Samantha.
’n Nuwe vennoot
Lientjie sê sy probeer haar personeel klein hou sodat sy die deure kan oophou. En vanaf Oktober verlede jaar het sy ’n nuwe besigheidsvennoot bygekry in die vorm van James Byrne.
James is die afgelope vyf jaar ’n gerehabiliteerde dwelmslaaf en alkoholis. Vir hom het dit gevoel asof hy en Lientjie na mekaar gelei is want skielik bevind hy hom by Rustic Vine – en Lientjie het ’n besigheidsvennoot en belegger nodig.
“Ek het nodig gehad om uit my kop te klim en in ’n goeie spasie te kom waar ek produktief kan wees,” sê James.
Tot waar James bygekom het, was Lientjie van Dinsdag tot Sondag, van oopmaak- tot toemaaktyd op die perseel. Nou het sy darem ’n bietjie meer tyd tot haar beskikking wat sake vir haar beter maak.
Samantha sê sy is bly Lientjie het nou iemand wat saam met haar goed kan beplan en om van die take en rolle oor te neem. Sy dink net hulle moet dit meer amptelik maak en hulle onderskeie rolle duideliker uitspel.
Besige tye
“Elke dag se besigheid moet besig genoeg wees en dit is waar dit vir ons ’n probleem is. Dis eintlik maar redelik stil in die week en naweke is maar jou besige tyd. Maar jy kan nie op naweke oorleef nie,” erken Lientjie.
Die naderende winter maak ook vir James bekommerd. Die tent is besig om tot niet te gaan, maar hulle het nie die fondse om dit te vervang nie. En intussen moet die wiele bly draai.
Lientjie hoop vir rigting van Bertus se kant af. Sy dink sy het soms tonnelvisie en sy wil so graag haar lewe vergemaklik.
“As jy ’n passie het vir iets, is dit moeilik om te sê ‘ek is klaar’. Dit is net asof jy altyd aanhou baklei. En baie trane en alles, en vrae . . . en bid. Ja, dis moeilik om net te sê ‘ek is klaar’. So moeilik as wat dit is,” sê Lientjie.
Samantha glo Lientjie was so besig dat sy tot nou toe nog nie vir haarself die geleentheid gegee het om oor Robert te treur nie. “Sy’t net in overdrive gegaan.”
Bertus land in Linden
“Johannesburg is vir my ’n unieke plek om te eet en te kuier, altyd. En ek is mal hieroor,” sê Bertus. Lientjie verduidelik aan hom dat haar disse ’n kombinasie van Suid-Afrikaanse disse met Franse flair is.
En die spyskaart?
“Baie groot!” erken Lientjie.
Sy vertel vir Bertus dat niks ingekoop word nie, maar dat hulle al hul kos self maak. Sy het nooit in die kosrigting studeer nie, dit is hoofsaaklik haar passie wat haar deur die kombuis dra.
“Genade,” is al wat Bertus uitkry toe Lientjie bevestig dat hul rekenaar en drukker in die kroeggedeelte is. Verdedigend laat sy weet dat hulle nie ’n kantoor het nie.
“Ons wynlys is eintlik baie nice, maar op hierdie stadium het ons nie rêrig genoeg kontantvloei om al die wyne op die wynlys te hê nie. So, ons het basies net ons huiswyn, wat Slanghoek is,” sê sy toe Bertus oor hul wynlys uitvra.
Bertus noem dat hy nie heeltemal vrede in sy hart het met die woord “rustic” nie.
“Rustic Vine is definitief ’n bietjie rustic en ek dink altyd soort van rustic is codeword vir k*k. Ook as iemand vir jou sê ‘check my rustic brood’ sê ek ‘maar die brood is nie so lekker nie, maar dis rustic’, so ons kom daarmee weg, jy weet. So, ek vermy die woord ‘rustic’ ten alle koste in my restaurante,” kom dit van Bertus.
Hy vind die kombuis baie klein, maar glo baie kan bereik word as dit beter georganiseerd is.
Hy is nie geneë met die feit dat hulle kos voorberei waarna dit gevries word en dan in die mikrogolfoond opgewarm word om voor te sit nie.
Hy dreig om twee mikrogolfoonde weg te gooi, iets wat Lientjie heeltemal onkant betrap. “Ons kan een hou vir jou tee,” kom hy haar tegemoet.
“Julle spyskaart is ’n Bybel, né,” terg hy vir Lientjie en Robert.
“Jy kan sien hulle is deur ’n moeilike tyd. Soos wynglase. Daar’s 20 verskillende wynglase wat niks bymekaar pas nie. Jy weet, die spyskaart is massief groot.
“En jy kan sien dis soort van amper uit desperaatheid aanmekaar geklou en aanmekaar gesit. En daar staan hy nou,” kom dit van Bertus en hy wonder hoe hulle ’n lewe uit die spasie kan maak.
Proetyd
Beesstert met wortels en kapokaartappels, ontbyt met avokado en halloumi, ’n kaasbord en ’n sout-nagereg bestaande uit verouderde cheddar, heuning van die omgewing wat met laventel en varsgemaalde koffiebone gekombineer word, word vir Bertus voorgesit.
Bertus sê hy het vinnig getel en daar is 60 geregte op hul spyskaart. Min of meer, kom dit droogweg van James.
Die beesstert was vir Bertus baie lekker en hy sê dit lyk of Lientjie kán kook. Hy gaan haar uitdaag met resepte wat meer tegnies van aard is en hy glo sy gaan dit onder die knie kry.
Bertus vertel vir Lientjie en James dat hy ’n goeie wynkeuse in hul restaurant wil sien. En dat ontbyt van die “Bybelse spyskaart” gaan verdwyn. En hy sien die restaurant veel eerder as ’n Franse bistro met vier voorgeregte en vier hoofgeregte plus twee nageregte.
Hy sê vir Lientjie hy gaan haar kombuis uitgooi en sy moet haar goedjies daar gaan groet . . .
Misi en Bertus sit kop bymekaar
Misi is gek oor die Franse flair-gevoel wat sy hier kry. Sy vertel opgewonde dat sy met Franse lappe en kandelare wil werk. Ook hout.
“Geen fieterjasies nie, maar ’n plek wat verwelkomend is,” sien sy haar planne vorentoe.
Bertus steek steeds vas by die woord “rustic” en sê vir Misi hy dink die naam moet gaan. Misi stem saam dat ’n nuwe begin op die kaarte is. Wynrakke en ’n werkshoekie moet ook ingewerk word.
Die galery gaan geverf word en die kunswerk gaan anders gehang word. Ongelukkig is daar nie genoeg in die begroting om die tent te vervang nie.
Dag 1
Geklee in swart, daag die gedugte In die sop-span by Rustic Vine op – slaggereed vir enige uitdaging!
Nutsman Hendri Hamman is reg om die tafels te skuif vir spasie en die manne spring in. Misi besluit om wel met die rustic gevoel te speel, maar sy gaan beslis Franse flair inbring.
“Daar’s so baie van die goed wat in die restaurant is wat van my eie huis af is, so dit sal lekker wees om weer baie van dit terug te kry, ek moet sê dis nogal ’n verligting,” kom dit laggend van Lientjie.
Op sy beurt sien Bertus uit na ’n funksionele kombuis. Na ’n bietjie gesonde détente oor die yskaste kom Misi en Bertus ooreen oor waar die yskaste die beste gaan pas, spasiegewys.
Sjefs Armand en Rahim word ook gou deel van die kombuis-skuiwery.
Intussen is Lientjie baie beïndruk met die In die sop-span se pakvermoë en die bekwame spoed waarteen hulle die skilderye hanteer. Maar toe Henri hoor van al die teëlwerk wat Misi gedoen wil kry, is hy bekommerd of hulle genoeg tyd daarvoor gaan hê.
Terwyl Lientjie alles gade slaan, erken sy aan Bertus dat haar hart ’n bietjie vinnig klop. En Misi se hart brand om die tent te vervang. Maar daar is net te veel ander goed om op te fokus.
“Daar het ’n hele paar dingetjies verander vandag,” kom dit van Misi. En Bertus dink dat die kombuis nog ’n uur of twee op Dag 2 gaan opslurp voordat hulle daar kan begin met voorbereiding vir die nuwe spyskaart.
“Ongelukkig, sjoe, as mense sukkel, dan raak dit nogal ’n berg om uit te klim. En ek dink dis waar hulle hulself nou bevind die afgelope tyd.
“Die molshoop het ’n berg geword. Maar dis oukei, ons gaan hom weer vir hulle wegskoffel, ek is seker,” belowe Bertus.
Dag 2
Misi sê alles wat kon skeefloop, het skeefgeloop. Ook Bertus is baie ver agter skedule. Gelukkig daag die Paintmaster-span op vir die baie verfwerk wat voorlê.
“Alles moet gebeur in ’n baie kort tydjie,” kom dit van ’n effens-benoude Misi.
Bertus en Lientjie stap pad-af na The Whippet.
“Ons het gou daar inge-pull vir ’n paar goeters om te proe, ook om ’n paar wyne oop te maak,” verduidelik Bertus en hy sê vir Lientjie dat wyn ’n groot deel van sy lewe en sy besigheid is. En dat hy die impak van ’n goeie wynlys daar kan sien.
Sy erken dat sy as restauranteienaar baie selde by ander restaurante uitkom. Maar sy sê dit was heerlik om soos ’n “lady of leisure” te voel. Bertus laat ook nie op hom wag nie, en kort voor lank klap die eerste vonkelwyn-prop!
“Altyd, as jy kos en wyn saam sit, gebeur daar altyd ’n bietjie magic,” sê Bertus en hy hoop dat Lientjie meer geleer het oor watter wyne en watter smake mekaar komplimenteer.
“Ek dink die lekkerste deel was net om weer bemoediging te kry by Bertus en net weer lus te voel om dit aan te pak,” sê Lientjie.
By Rustic Vine word daar gewoel en gewerskaf. Selfs Misi is druk besig met boor in die hand om goed aanmekaar te slaan.
“Dis ’n krisis hiersô . . . Of small proportions,” is Misi se noodoproep na diensverskaffers.
Bertus is nog steeds op ’n missie met Lientjie. Hy vertel vir haar, sonder om doekies om te draai, dat die spasie by Rustic Vine vir hom ’n bietjie desperaat voel. Hy verduidelik wat hy daarmee bedoel: verskillende glase, stukkende tent, net twee wyne op die lys…
“As ek dit kan voel, gaan jou gaste dit ook voel,” sê hy.
Sy erken dat hul uitgebreide spyskaart baie spanning by die mense in die kombuis veroorsaak. Bertus smeek haar om nie die spyskaart weer groter te maak wanneer die In die sop-span klaar is nie. Ook dat sy en James hul rolle beter moet definieer. Lientjie gee toe.
Bertus sê ’n goeie restaurant is een waar mense omgee, ongeag die mooi uitsig of wynlys of gehalte van die kos.
“As een mens omgee, dan gaan julle suksesvol wees. As meer as een persoon omgee, gaan julle baie meer suksesvol wees. As almal omgee, kan niemand julle stop nie.”
Bertus glo Lientjie is reg om nou met die bal te hardloop na al die moeilike tye.
Vroeër die dag het Toitnette du Toit, In die sop se opknappingsbestuurder, na Misi gekom met baie goeie nuus. Sy het kontak gemaak met ’n tentverskaffer wat self hul tente maak.
“So lê dit dan nou dat daar ’n klein bietjie geld is wat ons in die nuwe tent se rigting kan stuur. Ja, nou maak ons werk daarvan om ’n nuwe tent-dak te installeer,” kom dit van ’n gelukkiger Misi.
’n Nuwe naam
“Ek dink nie in hierdie seisoen het ons al ’n naam heeltemal verander nie. Hier op die einde het ons ’n groot besluit geneem. Rustic Vine gaan verander na Belle Bistro toe, en ek dink dit spreek net van ’n baie mooi nuwe begin vir Lientjie,” vertel Misi.
In die kombuis is die span nog steeds nie op skedule nie, maar daar is reeds begin met die voorbereiding van die disse wat nou hopelik plek kry op die nuwe, kompakte spyskaart.
Terwyl die son sak en talle ander mense huiswaarts keer, is dit nog lank nie die einde van die dag vir die In die sop-span nie. Misi weet by voorbaat, ten spyte van die aanloklike geure uit die kombuis, dat dit ’n rowwe aand gaan wees.
Dag 3
Misi loof die span vir die laatnag-werk, maar erken aan haar kant is daar nog chaos. Sy het ekstra hulp ingeroep en terwyl sy op die galery gefokus het, het Elize Buys, dekorkoördineerder, en die res van die span op die meubels gefokus.
“Dis ’n groot wa wat ons deur die drif getrek het . . . vir oulaas,” sê sy.
Lientjie en haar hondevriend kom oor die pad aangestap en dis die eerste keer dat sy haar herdoopte restaurant sien.
“Wohohohow, f*kken hel,” is haar eerste woorde.
“Die eerste grootste verrassing was die nuwe naam. Die nuwe bord . . . Ek het dit glad nie verwag nie. Sjoe. Belle Bistro & Wine Bar, dit rol so lekker van die tong af. Dit staan uit, dit is plain en simple, maar striking,” sê Lientjie. “Dit was ’n onverwagse lekker verrassing.”
Min het sy geweet sy is in vir nog meer veranderinge.
“Hoe stunning is dit?” kom dit saggies toe sy die eiendom binnestap. En stil-stil word die trane weggevee.
“Alles is mooi oorgetrek en dis vars en dis lig en die kandelare in die tent is net beautiful. Ek het lanklaas so baie gehuil. Ja, om alles in te neem was baie oorweldigend.”
Bertus maak seker sy hou haar oë toe met die ingaan na haar nuwe restaurant. Sy kon haar oë nie glo nie. Sy het nie baie woorde nie.
“Sjoe, dis beautiful. Askies,” sê sy terwyl sy die trane wegvee.
Bertus wys haar die nuwe kantoorspasie en die wynmuur. Dié vervang nou hul wynlys en die wyne wat beskikbaar is, se name word met wit kryt op die muur aangebring by die vakkie waar die wyne uitgestal word. En die nuwe naam.
“Dit was vir my bietjie van ’n skok, maar ook van ’n, ‘Wow, love it’,” kom dit van Lientjie.
Met die deurstap is dit duidelik dat Lientjie se emosies nie maklik onderdruk gaan word nie. Maar dis beslis trane van blydskap.
“Jissie, hoe koel is dit?” sê sy oor die galery. “Die kuns is pragtig uiteengesit, ge-curate. Al die sculptures wat bymekaar gesit is, wat ek nooit oor enigsins sou gedink het om dit so te doen nie, dis net amazing.”
Natuurlik is een van Bertus se gunsteling-oomblikke om vir Lientjie haar nuwe spyskaart te wys. Koebaai, 60 keuses, hallo, een bladsy!
Die kombuis is ewe indrukwekkend. Soos Bertus dit stel: “Hier’s net niks nonsens nie. Alles is skoon en netjies.”
“Ek sien net uit om te gaan kook en al die nuwe resepte te leer. Ek en Martha. Ek sien uit na ons nuwe journey saam in daai kombuis,” sê Lientjie.
Proetyd
Om die tafel met Lientjie en James, erken Misi die gebou het haar wel ’n bietjie uitgedaag, maar dat dit steeds lekker was.
“Ek het ’n bietjie gevat van jou femininity en, jy weet, die sagtheid wat ek voel jy bring na mense,” deel Misi met Lientjie.
Op die nuwe spyskaart is daar nou onder andere lamskenkel met groente, ’n heerlike lyonnaise slaai, ’n charcuterie, ’n kaasbord en ’n groot steak en tjips, appeltert en die oorspronklike Franse weergawe van ’n pizza met ansjovis en olywe.
Lientjie is gek daaroor dat alles ongekompliseerd en vars lyk. Maar ook James gaan nou iets nuut moet leer: die tableside steak tartar wat hy by die tafel gaan kook. Dit kan bo-op vars focaccia bedien word.
“En as jy dit vir jou gaste gee, James, met ’n smile, gaan jy vol wees elke dag,” moedig Bertus hom aan. Maar dis nie die einde van James se instruksies nie.
Bertus vertel van Jacqui van Hook, Line and Sinker in Pringlebaai wat in die laaste episode van In die sop se eerste seisoen verskyn het. Jacqui is intussen oorlede, maar haar ikoniese crème brulee wat sy aan tafel voorberei het, leef voort.
“So, ter ere van Jacqui, kry julle Jacqui se tableside brulee, en voor die gaste kan jy die brulee brand by die tafel. En dit kan iets wees wat rêrig weer eens ’n talking point vir julle gaan wees, en dis dit,” vertel Bertus terwyl hy demonstreer hoe dit gedoen word.
Die gaste arriveer
“Die gaste is op pad om te kom smul aan ’n nuwe spyskaart en omdat dit die laaste episode is, is dit nou tyd vir ’n golden oldie,” belowe Bertus.
“Dit is vir my ’n spesiale einde vir ’n spesiale seisoen laat ons iemand se lewe op so ’n manier kon verander,” sê Misi.
Dertien restaurante, van die Weskus tot Kaapstad en nou Johannesburg, het onder die skrik-vir-niks In die sop-span se hande deurgeloop danksy die feit dat hulle erken het hulle het hulp nodig.
“Kos vertel sulke wonderlike stories, en daar is sulke wonderlike kosstories in Suid-Afrika om te vertel. Ons moet net begin om na mekaar te luister,” sê Bertus.
En die “golden oldie”?
“Misi, dis die laaste keer wat ons dit doen, so kom ek wys jou hoe ons vir ’n restaurant totsiens sê,” sê Bertus vir haar terwyl hy een van sy kenmerkende blou vadoeke aan haar oorhandig.
“Oor die linkerskouer, né. Oraait, kom laat ons rol. Oukei, daarsy, net soos ’n sjef,” is die woorde waarmee hy en Misi by Belle Bistro & Wine Bar se deur uitstap. Vir oulaas.
In die sop: Restaurant Evolusie word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.