Menu terloops
In Recaps & Resensies [8 Mei 2024]

‘In die sop’:  Daar waar die ‘kerktannie’ agter die Boereworsgordyn gaan ruk en rol!


In die tiende episode van kykNET se werklikheidsreeks In die Sop: Restaurant Evolusie se derde seisoen bevind sjef en restauranteienaar Bertus Basson en dekor-kenner Misi Overturf hulself kniediep agter die sogenaamde “Boereworsgordyn”.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk nou

‘In die sop’:  Daar waar die ‘kerktannie’ agter die Boereworsgordyn gaan ruk en rol!

Ja, dié twee gaan Boston kaalhand pak en seker maak een van Bertus se gunsteling-voorstede kóók!

Die onstuitbare In die sop-span kies koers na die NG Kerk Bellville-Wes se klein koffiewinkeltjie en restaurant genaamd Kruis Koffie.

Andra Badenhorst is die eienaar van Kruis Koffie, ’n besigheid wat sy ’n bietjie meer as twee jaar gelede begin het toe sy die kerksaal se ingangsportaal in ’n koffiewinkel omskep het. Haar man, Willie, is die plaaslike predikant van die gemeente.

In die sop, Kruis Koffie
Andra Badenhorst is die eienaar van Kruis Koffie. Foto: Verskaf

Maar waar het alles begin?

Tydens die pandemie het hulle van hier af kos gemaak vir die gemeenskap en die koffiewinkel het daaruit voortgespruit. Andra is gek daaroor om met mense te gesels en sy het hierdie as ’n gaping gesien vir iets wat sy kan doen.

“Ek het toestemming by die kerkraad gekry om hierdie spasie te huur en te gebruik. Almal was positief daaroor en so is Kruis Koffie toe op die ou einde gebore en het ek die voorreg om my tweede liefde uit te leef,” vertel Andra.

Willie sê verder sy beskik oor daardie persoonlikheid wat mense veilig laat voel.

“Ek meen, ’n huis is mos so – jy kuier lekker by ’n huis as die gasvrou mos nou vriendelik en warm is,” vertel haar vriendin en gereelde kliënt, Elbé Botha. 

Paul Ferreira, lid van die kerkraad, sê die wonder van Kruis Koffie is dat dit ’n plek is waar ook die gemeente hul doelwitte kan uitleef. 

“Bid en dien is definitief die fondasie waarop Kruis Koffie gebou is.”

‘…té lief’

Vir Andra is die naam tweeledig. Enersyds verwys dit na haar Christelike geloof én simboliseer dit die plek waar mense se paaie kruis.

Sy speel kelner en maak koffie op haar manier en word in die kombuis bygestaan deur Kholeka en Justine. Hulle bedien ontbyt heeldag, gepaardgaande met smaaklike broodjies gemaak van die brood wat hulle sélf bak.

’n Gemeentelid rooster die koffiebone vir hulle en hy het ook vir Andra touwys gemaak met die fynere puntjies van koffie. Dis ook sy koffiemasjiene wat in Kruis Koffie gebruik word. Al wat in ruil van Andra verwag word, is om dit in stand te hou.

“Ek het gelukkig ’n handige man wat lief is vir houtwerk,” vertel Andra en noem dat baie van die houtwerk in die koffiewinkel Willie en ’n maat se handewerk. 

Alhoewel sy in die gelukkige posisie is dat heelwat van die toerusting óf skenkings óf op bruikleen beskikbaar gestel is, erken Andra sy het nie die finansies om die regte toerusting te koop nie.

Vir Andra is die koffiewinkel se naam tweeledig. Enersyds verwys dit na haar Christelike geloof én simboliseer dit die plek waar mense se paaie kruis. Foto: Verskaf

“Die besigheidsdeel is, dink ek, ook die ding wat vir ons altwee die moeilikste kom. Om die sente te laat klop, om nie te veel goedjies weg te gee nie . . . Dís te maklik,” kom dit met ’n skewe glimlag van Willie.

“Andra, vergewe my, maar my grootste frustrasie met jou is jy is net té lief vir almal,” is haar vriendin en gereëlde kliënt Francine Boomker se boodskap aan haar. “Sy wil net altyd almal red en sy wil net vir almal help en ek dink dis tog ten koste van haarself.”

In die sop

Andra erken dis nie altyd maklik vir haar om om hulp te vra nie, maar dit kan nou nie anders nie: sy is in die sop . . .

“Ek weet ek het leiding nodig rondom my hantering van die personeel, my hantering van my geldsake. Ek is maar ’n softie. Ek sê maklik, ‘Dis gratis, jy hoef nie vir my te betaal nie, jy’t vir my kom kuier.’ Ek gee afslag, ek pas my pryse aan soos wat ek weet my mense inkom,” bieg sy.

Sentimenteel

Andra vertel daar is ’n paar items in Kruis Koffie waaroor sy sentimenteel voel en waarde aan heg. Die tafels is een van dit want Willie se maat wat daarmee gehelp het, is intussen oorlede.

“Maar op die ou einde, ek gee my regtig oor aan Misi,” kom dit van Andra en sy sê dat sy uitsien na wat Misi hier gaan aanvang. Solank sy net die naam kan behou. 

Bertus parkeer sy Landie

Andra erken sy voel baie senuweeagtig oor die ontmoeting met Bertus. Maar kort voor lank is die senuwees kalmer en vertel sy hom meer oor Kruis Koffie.

“Twee keer ’n week het ons etes wat ons bedien aan mense en dan natuurlik Sondae-koffie. En indien daar een of ander krisis is, hanteer ons dit ook,” sê sy.

“Jy kan baie goeters regmaak deur kos, né?” sê Bertus vir haar. Hy noem aan haar dat iemand gesê het sy het ’n sagte hart en dat sy afslag gee of soms goed net weggee. Bertus wil by haar weet hoe dit haar besigheid affekteer.

“Nie goed nie, dis dalk hoekom ek in die sop is,” kom die eerlike antwoord. Bertus kan nie help om te wonder of sy daartoe in staat gaan wees om die “weggee-brug” te oorkom nie.

Kerkbanke v privaatheid

“Ek weet nie altyd hoe funksioneel [die lang kerkbanke] is vir mense wat dalk ’n bietjie meer privaat wil wees of in ’n privaat-hoekie wil sit en gesels nie, want daar is nie rêrig spasie vir privaat-gesprekke nie. Maar ek dink dis dalk deel van Kruis Koffie se identiteit,” sê Andra.

Die kombuis

“Dit lyk soos ’n regte ou kerk-kombuis,” is Bertus se opsomming van die kombuis. “Jy kan sien hier’t mense al gewerskaf vantevore. Pannekoek gebak, basaarpoeding en kerrie-en-rys ingegrein in hierdie mure.”

Vir Bertus is dit duidelik dat hierdie kombuis, nes ou koshuiskombuise ook, nie gebou is vir “fancy” kos nie. 

“Dis gebou om vir ’n klomp mense lekker bobotie op te skep.”

Proetyd

Daar word ’n groot ontbyt (eier, spek en roosterbrood), ’n tuisgemaakte quiche en ’n hoender-en-mayo-broodjie met skyfies voorgesit. Toe hy uitvind hoeveel sy vra vir die ontbyt, kan hy nie help om te wonder hoe Andra geld maak nie.

“Ek dink Andra is rêrig in die sop as gevolg van haar charity. Sy wil net gee – en daar’s niks daarmee fout nie – maar jy moet dit ook kan beheer,” som Bertus die situasie op.

Gelukkig dink hy die kos is goed voorberei en baie smaakvol. Maar hy gaan die spyskaart aanpas met pannekoek, basaarpoeding en kerrie-maalvleis.

Wat beplan Misi?

In die sop, Misi Overturf
“So en so en so…” Soos gewoonlik het Misi groot planne vir hoe sy wil toor. Foto: Verskaf

Sy is vasbeslote om die lang kerkbanke te behou omdat dit so mooi by die tema inpas. Sy beplan boë, verf op die mure en swart en wit word genoem.

Bertus noem aan haar dat Andra baie aan die gemeenskap teruggee, soms verniet en soms teen afslagpryse. Hy stel die idee van ’n “pay it forward”-muur voor en Misi is dadelik aan boord daarmee.

Misi sê sy is ook baie opgewonde oor die kombuis “want dis soos ’n dans-saal!”.

Dag 1

“Daar’s ’n ou-wêreldse sjarme en nostalgie aan haar. Ek kan dit nog nie 100% place nie,” som Misi vir Andra op.

Die kombuis moet eers leeggedra word voordat Bertus-hulle verder kan beplan. Hy besluit om van die ou kaste vir stoorplek te behou. 

“Wat baie keer met kerke gebeur, is almal gee mos. So, hier’s ’n paar borde, kom ons gee dit vir die kerk, hier’s ’n ou oond, kom ons gee dit vir die kerk en ek dink dis wat hier gebeur het.

“So, as jul kerk-kombuise vol is – hou op gee, asseblief, ons het nou genoeg,” kom dit met ’n laggie van Bertus se kant af.

Sjefs Armand Durandt en Rahim Cassim beplan reeds hul broodbakplanne vir Dag 2.

Intussen steun Misi swaar op die Paintmaster-span om Kruis Koffie se binnemure in ’n japtrap wit te verf.

Vir Andra is dit swaar om te sien dat die plakpapier waai want dit was haar eerste groot projek vir Kruis Koffie. 

Misi pols haar en Willie om uit te vind of hulle oorsee gereis het en watter lande hulle van gehou het. Andra sê sy was nog nooit oorsee nie, maar Skotland hou vir haar ’n bekoring in met al die geskiedkundige ou geboue en kastele. Dit laat Misi dadelik beter voel.

“Toe maak dit my hart bly want toe dink ek miskien het ons nou ’n bietjie van daai wêreld hier na haar tuiste toe gebring,” kom dit van Misi wat geverfde boë vir Kruis Koffie beplan.

Dag 2

Daar is tot byna middernag toe gewerk om die uitleg en raamwerk vir Misi se boë gereed te kry.

“Ons het ook besef laat ons nie gaan verf nie en dat ons met dik paint markers gaan werk om dit in te kleur,” kom dit van Misi.

Bertus neem intussen vir Andra na The Gathering Café in die Paarl, een van die plekke wat in die tweede seisoen van In die sop gehelp is. 

“Bjorgan (Morrie) en Bronnie (Bronwynne Morrie) is amazing mense en ek kon nie dink aan ’n meer perfekte match om mee te gesels nie. Dis altwee presies dieselfde storie, amper,” sê Bertus.

Bjorgan, nes Andra, gee maklik weg en hy verdedig dit deur te sê hy raak baie bekommerd as hy sien daar is ’n profyt. Tot groot vermaak van almal om die tafel, natuurlik.

Maar hy hou voet by stuk: “I don’t want to see a profit, want dan beteken dit ons dien nie ons gemeenskap nie.”

Bertus se wyse woorde aan Andra: “Turnover is vanity, and profit is sanity. So keep yourself sane”. Foto: Verskaf

Hy erken dat daar tye is wanneer toerusting vervang moet word en uitgawes aangegaan moet word. “Maar ek dink as jy ope hand is, dan het jy meer plek om te ontvang.”

Die kandelaar-soektog

Terug by Kruis Koffie het die elektrisiën, Chris Coetzee, vir Misi van plan laat verander oor ligte wat sy wou installeer. Hy het besluit dit gaan nie reg inpas nie, en tot vermaak van die res van die span gee Misi toe. 

Daar is vinnig na hul slimfone gegryp op soek na die regte kandelaar aanlyn – en soos dinge werk, kon Misi ’n vintage-kandelaar bekom. Sommer daar afgelaai ook. Dit het ’n bietjie spesiale aandag nodig gehad, maar weer het Chris hand bygesit en dit ’n nuwe kans op die lewe gegee.

Bertus dink Andra het nog inspirasie nodig ná hul kuiertjie in die Paarl en hulle kies koers na die Greenery Café in Durbanville wat propvol binnenshuise plante is. Hy deel ’n waardevolle lewensles met haar: “Turnover is vanity, and profit is sanity. So keep yourself sane”.

In die sop
Bertus se ringe moes af sodat hy heerlike brode kon bak. Foto: Verskaf

By Kruis Koffie is dit ’n miernes van bedrywigheid soos talle van die spanlede, produksiespan ingesluit, kom help om die lyne getrek te kry. 

En Andra? Sy het baie om oor te dink en sy besef sy gaan vorentoe ’n bietjie meer buite haar verwysingsraamwerk moet beweeg, haar oogklappe moet afhaal en wyer te dink, selfs ’n paar risiko’s te neem.

“Hulle sê nie verniet ’n mens gaan nie leer om te swem as jy nie inspring nie. So, ja . . . ek gaan moet beginne leer om te swem. Letterlik en figuurlik,” sê sy en noem so sydelings dat sy werklik nie kan swem nie. Maar sy gaan leer!

Dag 3

Kort voor lank waai Bertus se knoetserige ringe en begin hy meesterlik die deeg knie. Sy plan is om vir Andra ’n paar brode te bak wat sy kan verkoop. Hy noem dit ’n lekker, ligte plaasbrood.

Toe Andra die deur van Kruis Koffie oopmaak, haal sy baie diep asem en kry kwalik die woorde uit: “Dis baie mooi!”

Foto’s: Verskaf

Sy beskryf die oomblik as oorweldigend. 

“Dis iets van daai ou-wêreldse katedrale, die kerke – en dis vir my soveel mooi saamgevat juis omdat dit ’n voorportaal van ’n kerk is.”

Die nuwe kombuis het ook haar asem weggeslaan. Nou kan sy sien hoe om die spasie reg te gebruik. 

“Julle het wondere verrig,” sê sy vir Bertus.

In die sop
Andra kon haar oë nie glo ná die transformasie van Kruis Koffie nie. Foto: Verskaf

Proetyd

Die nuwe spyskaart met onder andere pannekoeke, kerrie-en-rys en vetkoek word deur Bertus as lekker nostalgiese kerkkos beskryf.

Terwyl hy vir Andra die kerrie aanbied, maak hy dit duidelik dat hy pylreguit na die poedingbak mik. Basaarpoeding. Lekker!

In die sop
Nuut op die spyskaart – heerlike vetkoek! Foto: Verskaf

Nostalgie

Toe Andra die deur van Kruis Koffie oopmaak, haal sy baie diep asem en kry kwalik die woorde uit: “Dis baie mooi!” Foto: Verskaf

“Ons het gepraat van die nostalgie van oorsese plekke waar ek nog graag sou wou uitkom eendag, en ja – hier het julle dit vir my verewig op my mure,” kom dit met blink oë van Andra.

Ook vir Bertus is die nuwe spyskaart iets wat hom baie na aan die hart lê. Hy sê dit verteenwoordig nostalgie vir hom.

Getrou aan hul belofte, het Bjorgan en Bonnie vir Andra kom ondersteun. Bjorgan is gek oor die pannekoeke. Francine maak dit duidelik dat sy haar begroting mooi sal moet vasvat vir wat nou op die spyskaart pryk.

“Sy gaan flippen goed doen, sy gaan rock & roll . . . hierdie kerktannie,” is Bertus se afsluitingswoorde ná nog ’n suksesvolle evolusie. 


In die sop: Restaurant Evolusie word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies