Menu terloops
In Realiteit & Speletjie [21 Jul 2026]

‘Het jy geweet?’ Interessante feite oor ‘Boer soek ’n vrou’ voor die nuwe seisoen begin


‘Boer soek ’n vrou’ is een van Suid-Afrika se gewildste en langdurigste werklikheidsreekse. Hier is ’n paar springmieliefeite oor dié trefferreeks voordat die nuwe seisoen op 23 Julie begin uitsaai.

Deur Redaksie
‘Het jy geweet?’ Interessante feite oor ‘Boer soek ’n vrou’ voor die nuwe seisoen begin

Sedert 2008 volg kykers getrou die lief en leed van boere wat na liefde hunker – en oor die jare het dié reeks al talle mense se geloof in ware liefde, plattelandse romanse en tweede kanse herbevestig.

Hier is ’n paar springmieliefeite oor dié kykNET-trefferreeks, waarvan die 18de seisoen op Donderdag 23 Julie begin:

1

Die eerste episode is in 2008 uitgesaai

Die heel eerste episode van Boer soek ’n vrou is op 30 September 2008 op kykNET uitgesaai. Kykers het egter reeds ’n paar maande vroeër, op 14 Julie 2008, vir die eerste keer met die reeks kennis gemaak toe ’n loodsepisode van die tien boere wat liefde soek, gewys is.

2

Seisoen 18 bring die totaal op 180 boere

Wanneer die agtiende seisoen uitgesaai word, beteken dit dat 180 hubare boere sedert 2008 op die kassie verskyn het – almal met dieselfde hoop: om iemand spesiaal te ontmoet.

3

Die reeks het internasionale wortels

Boer soek ’n vrou is op ’n internasionale formaat gebaseer wat in tientalle lande vervaardig word. Die formaat is vyf-en-twting-jaar oud en is die eerste keer in 2001 in Brittanje as Farmer wants a Wife uitgesaai.

4

Die Suid-Afrikaanse weergawe is besonder suksesvol

Boer soek 'n Vrou
Pieter en Anzelle is een van die paartjies wat nog gelukkig saam is. Foto’s: Skermgrepe

In Suid-Afrika is die vervaardigers bewus van ten minste 32 suksesverhale van boere wat as gevolg van hul deelname aan die reeks die pad na die kansel gestap het. Dit maak die plaaslike weergawe van dié maatsoekreeks een van die suksesvolste ter wêreld.

5

Die Wes-Kaap lewer die meeste boere

As ’n mens na die 180 boere oor 18 seisoene kyk, staan die Wes-Kaap boaan die lys met 42 boere. Daarna volg die Vrystaat met 38, die Noord-Kaap met 26, Mpumalanga met 18 en Limpopo met 17. Die Oos-Kaap en Noordwes het elk 13 boere opgelewer, gevolg deur KwaZulu-Natal met 8 en Gauteng met 5.

6

Robertson is die dorp wat die meeste opduik

Robertson is die mees algemene dorp of area onder die boere, met vier boere wat daarmee verbind word. Ander dorpe wat gereeld voorkom, sluit Cradock, Vryburg, Dwaalboom, Harrismith en Clanwilliam in.

7

Johan is die gewildste boerenaam

Wanneer Johan, Johann en Johannes saamgetel word, is dit die mees algemene benaming van boere, met agt boere. Daarna volg Pieter met ses, Francois met vier, en name soos Arno, Hennie, Louis, Albert, Niel en Jacques met drie elk.

8

Daar was 13 vroueboere oor die jare

Daar het 13 vroueboere oor 18 seisoene deelgeneem. Dit was egter eers in 2018 dat boer Toanette die eerste vrou was wat genoeg briewe ontvang het om onder die top-vyf boere te wees wie se liefdespaadjie in die reeks gevolg is.

9

Damian was die eerste openlik gay boer

Boer soek 'n vrou
Damian het in 2019 vir die twaalfde seisoen ingeskryf.

Damian, wat in 2019 vir die twaalfde seisoen ingeskryf het, was die eerste openlik gay boer in Boer soek ’n vrou. Hy het boonop daardie seisoen ook die meeste briewe ontvang.

10

Joachim bly die briefkampioen

Boer Joachim, wat in die eerste seisoen verskyn het, het tot dusver nog die meeste briewe ooit ontvang.

11

Sewe aanbieders het al die liefdespad gestap

Boer soek n vrou S17 Ep 6
Reandi Grey.

Oor die jare het sewe aanbieders die land deurkruis om boere in hul soeke na liefde by te staan. Hulle was Elma Postma, Angelique Gerber, Nadia Beukes, Minki van der Westhuizen, Leah van Niekerk, Marciel Hopkins en Reandi Grey.

12

Die produksiespan kon byna maan toe en terug ry

Oor 18 jaar is daar al meer as 650 000 km deur die vervaardigingspan afgelê terwyl hulle die land deurkruis het. Ter vergelyking: die maan is sowat 384 400 km van die aarde af. Dis dus amper genoeg kilometers om maan toe en ’n groot deel van die pad terug te ry.


Boer soek ’n vrou word vanaf 23 Julie 2026 oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer
Sien alle opsies