Menu terloops
In Onderhoude [4 Jul 2025]

Hannelie Warren oor ‘Diepe Waters’ se Anna en die swaar van rou en verlies


Anna se tyd op ‘Diepe Waters’ is verby, maar die rol het iets nagelaat: ’n herinnering aan die kompleksiteit van verlies, die krag van ’n moederhart, en die pynlike reis om die waarheid te vind – selfs wanneer dit jou wêreld uitmekaar ruk. En Hannelie Warren se fyn, deurleefde vertolking het dit moontlik gemaak. Sy vertel meer.

Kyk 'Diepe Waters'

Hannelie Warren oor ‘Diepe Waters’ se Anna en die swaar van rou en verlies

Anna se storielyn in Diepe Waters het wel nou op die skerm tot ’n einde gekom, maar vir kykers sal dít nog lank bybly. 

Vir die aktrise Hannelie Warren (Binnelanders, 7de Laan) was Anna ’n karakter wat haar nie net professioneel uitgedaag het nie, maar haar ook op persoonlike vlak geraak het. Ná ’n paar intense jare waarin sy haar man versorg het terwyl hy aan Alzheimer se siekte gely het, het sy aanvanklik getwyfel of sy gereed was vir ’n rol soos dié. Maar toe haar agent vir haar die oudisieteks vir Diepe Waters stuur, het sy geweet: sy moét vir Anna lewe gee.

Veelvlakkige Anna

As die ma van Wessel Kritzinger (Francois van Rensburg), het Anna stadig maar seker haar pad tot in kykers se harte gevind. Nie omdat sy maklik was om lief te hê nie, maar omdat haar pyn en haar vrae eerlik, rou en menslik was.

Sy het teruggekeer na Suid-Afrika met ’n missie: om geregtigheid vir haar seun te kry. Om die waarheid te onthul. Om antwoorde te vind. Maar soos met soveel ouers wat hul kinders aan tragiese omstandighede verloor het, het Anna uiteindelik meer vrae as antwoorde oorgehou.

Hannelie beskryf Anna as ’n vrou met soveel lewensbagasie – iemand wat deur trauma, verlies en teleurstelling gevorm is. Dit was juis daardie emosionele diepte wat haar tot die rol aangetrek het. Sy sê daar is soveel vroue wat sal aanklank vind by die onderliggende temas van Anna se storie – ’n ongelukkige huwelik, mishandeling, en die ondenkbare verlies van ’n kind. Vir haar was dit belangrik om daardie rou en hartseer eerlik te vertolk.

Diepe Waters, Hannelie Warren as Anna, Mandi Baard as Teresa, kykNET,
Teresa (Mandi Baard) en Anna (Hannelie Warren) in ’n hoogs emosionele toneel in Diepe Waters. Foto: Verskaf

Parallelle

As ma van een seun, kon Hannelie haar maklik inleef in Anna se intense liefde en beskermingsdrang. Hoewel sy gelukkig is dat haar eie seun nog leef – al is hy nou volwasse en uit die huis – sê sy sy verstaan die gevoel van verlies wanneer ’n kind nie meer daagliks deel van jou wêreld is nie. Dit het haar help vorm gee aan Anna se rou. Dié rou gaan nie net oor dood nie, maar ook oor die verlies van sekerheid, van geloof, van waarheid.

Waar Anna van haar man moes vlug weens mishandeling, moes Hannelie haar man in ’n ander opsig afstaan – die verlies aan ’n geliefde wat teen ’n ongeneeslike siekte stry. Hierdie kontraste het haar nog meer empatie gegee vir ’n vrou soos Anna, wat, alleen en gebroke, moes leer oorleef. 

‘Deernis en menslikheid’

Wat Diepe Waters se skrywers besonders reggekry het, sê Hannelie, is dat hulle nie net Anna se pyn blootgelê het nie, maar dit met deernis en menslikheid verbeeld het. Sy hoop kykers het nie net gesien wat Anna doen nie, maar ook verstaan waarom sy dit doen. Haar oortuiging dat haar seun nie in staat was tot geweld nie, haar onvermoë om die volle waarheid in die oë te kyk – dít alles kom vanuit ’n plek van liefde. Selfs al was daardie liefde dalk blind.

Volgende vir Hannelie

Met die storielyn nou afgehandel, fokus Hannelie op nuwe uitdagings. Ná ’n tyd van selfherontdekking en rou, is sy nou besig met verskeie projekte wat haar tussen Gauteng en die Kaap neem. Sy werk ook voltyds in stemwerk. Boonop beplan sy om binnekort na ’n kleiner woning te verhuis – ’n nuwe fase van haar lewe wat sy met opwinding én ’n bietjie hartseer aanpak. Daar wag ook internasionale besigheid op haar, maar sy maak seker daar is plek vir pret tussenin.


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies