Menu terloops
In Wat om te kyk [9 Jul 2026]

‘Elders: Viëtnam’: Wat jy van dié besonderse reisreeks moet weet


In die agtste seisoen van die bekroonde reisreeks ‘Elders’, deurkruis die stapper en skrywer Erns Grundling Viëtnam in ’n reis van noord na suid. 

Deur Redaksie
‘Elders: Viëtnam’: Wat jy van dié besonderse reisreeks moet weet
Kyk lokprent

kykNET se gewilde reis- en leefstylreeks Elders keer eersdaags vir ’n agtste seisoen op dié kanaal terug.

Die vorige seisoen, Elders: Ligtoringroete, is vroeër vanjaar met ’n Safta-toekenning vir beste leefstylprogram vereer. Dit was Elders se tweede SAFTA-toekenning, ná Elders: Japan in 2020.  

In die nuutste uittog, Elders: Viëtnam, verken die stapper en skrywer Erns Grundling dié fassinerende land in Suidoos-Asië tydens ’n reis van noord na suid. 

“Ek het besluit dit is tyd om ’n nuwe, byna wildvreemde land vir die eerste keer te besoek,” vertel Erns. “Viëtnam fassineer my al van kleins af en ek hoop die nuwe seisoen is ’n uitnodiging aan kykers om self die land se natuurskoon, ryk geskiedenis, vriendelike mense en smullekker kos te ervaar.” 

Die roete

Die aksie skop af in die hoofstad, Hanoi, en beweeg dan met ’n wye draai verder noord na plekke soos Sa Pa (naby Fansipan, die hoogste berg in Indochina) en selfs tot by die grens van China. Ikoniese bestemmings soos Ha Long Bay (met letterlik duisende eilandjies) en Ninh Binh (jy het hierdie betowerende landskap dalk al in ’n King Kong-fliek gesien) is volgende aan die beurt. Ander hoogtepunte sluit in Phong Nha se magiese grotte, die Amerikaanse weermagbasis Khe Sanh en natuurlik die bekende en energieke stad Ho Chi Minh City (vroeër bekend as Saigon) in die suide van die land. 

Elders: Viëtnam is in September en Oktober verlede jaar verfilm. “Ons was veertig dae weg van die huis en ek het my vrou Catharien en tweelingseuntjies André Jakkals en Henry Wolf vreeslik gemis,” sê Erns. “Maar dit bly ’n enorme voorreg om my passie vir reis en stories vertel met Elders te kan uitleef en te kan werk met ’n fantastiese kameraspan.” 

Elders, Erns Grundling
Elders: Viëtnam word deur die skrywer en stapper Erns Grundling gelei. Foto’s: Willem van den Heever

Uitdagings op uitdagings…

Erns gee toe dit was een van die mees uitdagende projekte nog. “Viëtnam het ’n komplekse en gedugte burokrasie en ons moes bontstaan met filmpermitte en toestemming. ’n Toesighouer van die regering was ook deel van die filmspan. Ons moes ook twee plaaslike drywers inspan om ons deur die land te vervoer. So ons was vir die eerste keer ’n span van nege en almal moes mooi kophou.

“Verder was daar ook verskeie tifone wat die land getref het tydens ons besoek. Ek het later ophou tifone tel. Maar al ons bestemmings het wonderbaarlik uitgewerk danksy ’n paar flink aanpassings. Ons gaan vir kykers hopelik betower met Viëtnam se vele skatte.” 

Die span agter die skerms

’n Groot bate vir die reeks was die toevoeging van Jurgie Schoeman, ’n Suid-Afrikaner wat in Viëtnam woon en werk, tot die span. “Jurgie kom uit ’n toerfamilie. Sy ouers is Jurgens en Karien Schoeman van Live The Journey. Jurgie woon al meer as vyf jaar in Viëtnam, het sy eie toerbesigheid, Navigator Vietnam, en praat basies vlot Viëtnamees. Sy hulp en lekker menswees tydens die lang skietperiode was van onskatbare waarde,” vertel Erns. 

Regisseur en mede-veraardiger Frankie Opperman, wat al sedert 2020 by Elders betrokke is, meen dit was ’n groot voorreg om deur Viëtnam te kon reis. “Die mense, kos en kultuur was iets uit ’n ander wêreld uit,” sê hy. “Ons sien geweldig baie uit om hierdie unieke land met kykers te deel en hulle hopelik te inspireer om hulle gemaksone te groet en Viëtnam self te gaan geniet.”


Elders: Viëtnam word vanaf Sondag 19 Julie 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies