Die akteurs Lindie Strydom en Anrich Herbst maak binnekort hul verskyning in Suidooster as die egpaar Amanda en Mike van Wyk.
Lindie het in 1997 in die kollig verskyn toe sy pas van die skoolbanke die rol van Karen Edwards in Egoli begin vertolk het. Anrich het weer as 15-jarige sy groot deurbraak as Wimpie in Orkney snork nie gemaak. Hy het as Dewald Vorster (van 1991 tot 1995) in dieselfde ikoniese M-Net-sepie gespeel.
Hoewel Lindie en Anrich albei Egoli-alumni is, het hulle nog nooit teenoor mekaar gespeel nie. “Soos baie ander kykers, het ek hom as Wimpie van Orkney snork nie leer ken en ook as die stem van soveel TV- en radio-advertensies. Hy was voor my as Dewald Vorster by Egoli betrokke, maar ons paaie het nooit gekruis nie. Tot nou!” vertel Lindie.
Lindie was ook geliefd as aanbieder van die kykNET-geloofsprogram Geloof, hoof en liefde.
Nou kies die twee vir die eerste keer saam koers na Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel. Kykers ontmoet hulle in Woensdag 6 Augustus se episode wanneer hulle as Frankie (Mienke Ehlers) se ouers opdaag.

Amanda is Lindie se eerste sepierol sedert haar Egoli-dae. “Amanda is ’n bekende sielkundige en verhoudingskenner wat al ’n hele paar boeke geskryf het,” sê Lindie.
“Op die oog af lyk dit asof Amanda en haar man, Mike, met wie sy al 32 jaar getroud is, die perfekte voorbeeld is van hoe ’n huwelik moet wees. Maar soos die storielyn ontvou, sien ons ook die minder goeie kant van hierdie vanselfsprekende gemak en voorspelbare standvastigheid.”
Volgens Anrich gaan verwikkelinge in die storielyn kykers se asem wegslaan. “Al wat ek kan sê is: onthou, dis net ’n storie. En dié soort dinge gebeur…”
Vir Anrich, wat ook onlangs in die kykNET-dramareeks Die Nuusmakers, verskyn het, was dit stimulerend om weer sy sepieskoene aan te trek. “Ek geniet die onmiddellikheid van die sepie-styl. Dit het my wel so paar weke gevat om weer gewoond te raak aan die tegnieke wat benodig word.”
Suidooster, wat vanjaar sy tiende verjaarsdag vier, word weeksdae om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.