Menu terloops
In TV [9 Apr 2026]

‘Die Toring’: Nog Afrikaanse drama op pad na die kassie in nuwe telenovela


Mag, ambisie en gevaarlike geheime bots in ‘Die Toring’, ’n boeiende nuwe Afrikaanse telenovela wat eersdaags op kykNET première.

Deur Redaksie
‘Die Toring’: Nog Afrikaanse drama op pad na die kassie in nuwe telenovela
Kyk lokprent

Die Toring, ’n Showmax Original, speel af in die wêreld van beleggingsbankwese en begin Maandag 13 April om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitsaai. 

Dit vertel oor ’n groep ambisieuse junior ontleders by ’n elite-firma in Kaapstad en hoe dié groepie die lokkrag van ambisie en mags moet navigeer terwyl hulle teen mekaar om die topposisie meeding. By Meyer Peterson Investments (MPI) hang oorlewing immers af van hoe vinnig jy kan aanpas, mense en situasies kan manipuleer en die leer kan klim. Hulle ontdek egter gou dat sukses in dié genadelose hoëdrukwêreld veel meer as net intelligensie vereis.

Wie’s wie?

Stella Fredericks (Franka Kirby: Mince jou hare, Diepe waters) is pragmaties en het haar voete stewig op die grond. Sy is vasbeslote om ’n toekoms vir haarself te bou wat verder strek as haar beskeie grootwordjare in Caledon. Met die toenemende druk om te presteer, begin haar morele kompas wankel.

Haar mede-ontleders, Theo Burger (Jan Combrink, Summertide, Juffrou X), Cassandra Fouché (Nichola Viviers, My f*k, Marelize) en Ezra Grootboom (Cantona James, Arendsvlei, Spinners), is ewe gedetermineerd om hulself te bewys.

Hulle word gelei – en dikwels gemanipuleer – deur senior bestuurders, Gabriella Mulder (Marguerite van Eeden-Harris, Wyfie, Fynskrif) en Ryan Petersen (Adrian Steyn, Getroud met rugby, Wyfie). Dít terwyl die formidabele uitvoerende hoof, Argos Meyer (Deon Lotz, Reyka, Binnelanders), met ’n ystervuis regeer.

Saam met hulle op die korporatiewe slagveld is komplekse karakters soos die uitvoerende- finansiële hoof, Yolanda Strauss (Jolene Martin, Getroud met Rugby, Arendsvlei). Daar is ook Argos se lojale persoonlike assistent, Chantal du Preez (Nicola Hanekom, Hans steek die Rubicon oor, Binnelanders), en sy seun, Du Toit Meyer (David Viviers, Binnelanders, Troukoors), wie se hoop op sy pa se goedkeuring hom duur te staan kom.

Die Toring
Jan Combrink, Nichola Viviers, Franka Kirby en Cantona James lei die rolverdeling van Die Toring. Foto’s: Verskaf

Nuutjie vir plaaslike storievertel

“Hierdie is ’n wêreld wat Suid-Afrikaanse televisie nog nie voorheen gesien het nie,” sê die kreatiewe vervaardiger, Andréa Frankson-Titus. “Die reeks speel af in die hoëdruk-arena van beleggingsbankwese en is vinnig, sexy en skaamteloos vermaaklik. Ons is ongelooflik opgewonde om kykers in hierdie wêreld in te neem met gevestigde akteurs sowel as ’n nuwe generasie vars talent.”

Die hoofregisseur, Catharine Cooke (Summertide, Reyka), sê: “Die Toring is ’n simbool van mag, geld en genadelose ambisie. Soos wat ons vier jong beleggingsbankiers sukses nastreef, word hulle al dieper ingetrek in die gevaarlike geheime en morele kompromieë van die bedryf se elite. Hulle ontdek hulle dat oorlewing in hierdie klimtog hulle alles kan kos.”

Die regisseur en medevervaardiger Mandilakhe Yengo beskryf die reeks as “ ’n verkenning van daardie eerste jaar in ’n korporatiewe omgewing deur die oë van ambisieuse blinkoog-ontleders. Dis gevul met skandale, drama en samesmeltings in die raadsaal én in die slaapkamer. Dit was pret om te maak en sal net so lekker wees om te kyk.”

Die Toring
Twee bekende TV-gesigte, Jolene Martin en Marguerite van Eeden-Harris, verskyn ook in Die Toring.

Die medeskeppers en skrywers van die telenovela is Igna Botha en Meesha Aboo. “Ons het inspirasie geput uit die meedoënlose kultuur van beleggingsbankwese,” vertel hulle. “Dis ’n wêreld waar mense vinnig moet dink en ewe hard moet werk as partytjie. Dit het gevoel soos die perfekte arena vir plofbare liefdesverhale en gewaagde dramatiese wendings.” 

Die Toring word vervaardig deur Paw Paw Films, Penguin Films se sustermaatskappy. Hulle is bekend vir produksies soos Diepe waters, Sara se geheim, Isikizi, Ingoma en Saints and Sinners.


Die Toring begin 13 April om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die Toring is ’n Showmax Original en sal beskikbaar wees in die Showmax-afdeling van die DStv Stream-app, asook op kykNET. Wanneer Showmax einde-April 2026 sluit, kry Showmax Originals ’n nuwe tuiste op DStv Stream.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies