Menu terloops
In Recaps & Resensies [31 Jul 2025]

‘Die brug’ S2: ’n Hengse skokwending! En dié speler stap toe oor die brug…


En só, met ’n laaste kinkel en ’n stryd teen tyd , kom die tweede seisoen van ‘Die brug’, wat in die skadu’s van die Outeniekwaberge verfilm is en kykers weekliks vasgenael voor die skerm gehou het, tot ’n einde. 

Deur Annelene Oberholzer

Kyk 'Die brug S2' op DStv Stream

‘Die brug’ S2: ’n Hengse skokwending! En dié speler stap toe oor die brug…

Ja, 14 dae het seer sekerlik baie lank gelede so lank en intens gevoel soos hierdie ervaring vir die spelers van Die brug! Daar was nie net die uitdaging om saam met ’n spul uiteenlopende vreemdelinge ’n brug na ’n skatkis te bou nie, maar ook om hul eie persoonlike brûe in die werklike lewe te bou. Kykers het week ná week kennis gemaak met emosionele verhale van hoop, herstel, aanvaarding en vasbyt.

En toe, in die voorlaaste episode is al die spelers onkant gevang deur een van die mees onverwagte kinkels ooit. Ná al die trane, bloedsweet en by tye verraad, het Suidhuis se spelers daarin geslaag om eerste die eiland met die skatkis te bereik. Altans, dis wat hulle gedink het nadat hulle hul 100ste vlot te water gelaat het en tot op die eiland kon stap. Toe volg een van die onwerklikste kinkels . . .

“Julle is halfpad,” is hulle per brief ingelig. Onderhandelinge moes volg om die Noordhuis se brug te bekom om by die eintlike skatkis uit te kom – ’n groen toring wat 150 m aan die ander kant van die eiland dryf. 

Johan het Suidhuis se aanbod aan Noordhuis se Wilhrisca gestel: R100 000 vir hul brug na ’n paar taai onderhandelingsessies. Wilhrisca en haar span het botweg geweier om dit te aanvaar en het besluit om eerder met leë hande weg te stap as om toe te gee vir net R20 000 per speler. Dis natuurlik skaakmat want sonder Noordhuis se vlotte kan Suidhuis onmoontlik binne ’n dag die 150 m-brug voltooi. En as die brug onvoltooi is, verdwyn die skatkis daarmee saam.

Die brug
Wilhrisca was nie beïndruk nadat haar span besluit het om wel Suidhuis se aanbod te aanvaar nie. Foto’s: Skermgrepe

“Alles of niks”

Johan probeer steeds vir Wilhrisca en Noordhuis oortuig dat daar net een opsie beskikbaar is – en dit is dat hulle slegs R100 000 volgens die reëls vir hul brug kan aanbied. Wilhrisca byt nog nie aan sy storie nie. Sy volstaan daarby dat sy oop kaarte sou speel sodat almal die brief kon lees.

Anesca besluit tog om die aanbod van R20 000 te aanvaar, Tiaan is ongeërg en sê die res moet maar besluit. Rechaux wil niks van hulle hê nie, nie eers die R20 000 nie. Maar Wilhrisca, ten spyte daarvan dat sy ontsteld is omdat haar spanmaats nou almal soort van handdoek ingooi, maak dit duidelik dat sy steeds nie glo die “verkoop” van hulle brug is die enigste opsie nie.

“Die laaste keer dat ons iemand vertrou het, is ons in die rug gesteek. Ons hoop julle doen nie,” kom dit van Anesca.

Daar’s ’n fakkel!

Albei houthuise kry ’n pos-kan en daar’s effe kommer aan die kant van Suidhuis. Hulle is dan nou klaar gebou, maar wat as daar weer ’n kinkel wag wat Noordhuis weer terug in die prentjie kan bring?

Die boodskap vir Noordhuis is dat hulle nou wel nie oor ’n brug kon stap nie . . . “Maar ’n brug het julle gebou. Maak gereed, ’n boot wat vir julle.”

Noordhuis-retrospeksie 

Rechaux sê Die Brug was in alle waarskynlikheid een van die beste ervarings wat sy nog ooit gehad het. “Dit het ’n fenomenale impak en verandering in my lewe gebring,” sê sy. “Heel aan die begin het ek gesê die wêreld is nie net ’n dark, scary place nie. En ek dink die mooi ding van hierdie tyd hier spandeer was dat die meerderheid mense rêrig liefdevolle omgeemense was.”

“Dit was lekker, maar dis nou klaar,” kom dit van Anesca. Maar is dit werklik klaar? “My doel omdat ek hierheen gekom het, was om te probeer genees en om amper . . . vrede te probeer maak met die skuldgevoel wat ek elke dag mee leef. En ek voel ek het dit reggekry hiesô. Ek het my genesing gekry wat ek wou gehad het.”

Wilhrisca erken dit sou vir haar baie lekker gewees het om alles te kon deursien tot die einde toe, maar sy is baie opgewonde om terug te keer huis toe, na haar roetine en haar geliefdes. Sy glo sy het uitgestaan onder die spelers, in pas met haar filosofie: “Why try to fit in if you were born to stand out?”

Tiaan het geen spyt oor hoe hy die spel gespeel het nie. “Ek sal hierdie avontuur vir altyd onthou.”

Hilana glo sy het baie mense gehelp om hul persoonlike bruggies te bou. Nie net dit nie, sy’t ook gehelp om Noordhuis én Suidhuis se brûe te bou. Maar sy is spyt dat sy nagelaat het om haar eie bruggie te bou. “Ek dink die enigste manier vir my om ten volle in die wêreld te wees in al die deeltjies van wie ek is, moet ek my eie speletjie maak. So, ek hoop dat ek in die regte lewe dit sal kan regkry,” kom dit van ’n bewoë Hilana.

Dis met gemengde gevoelens dat die groepie in die boot klim en vir oulaas vir Noordhuis vaarwel toewuif.

Slim plan red uitgeputte roeiers

Die brief wat met die pos-kan arriveer het, verduidelik dat Suidhuis tot sonsondergang tyd het om 150 m van Noordhuis se brug na die groen toring te neem. Vir Johan is daar geen ander uitweg nie – daai vlotte moet oorgeroei word na die groen toring. Dis al manier. Drie roei, een haak vlotte af by Noordhuis se brug en ’n ander een ontvang dit dan aan die ander kant.

Die brug
Uiteindelik is die tweede brug ook voltooi!

Gaan 8 uur en 35 minute voldoende tyd wees om die groen toring te haal? Hanri sleep die eerste vyf vlotte. Sy sê dit voel vir haar of die vlotte se handrem al die pad aan is. En toe kom die wind ook nog op . . . Kort voor lank moet Johan erken dat die roeiery besig is om hom te breek. Ander planne moet gemaak word.

Met 2 uur en 25 minute oor besef Hanri daar moet ’n volhoubare plan gemaak word. Die roeiery is te uitmergelend. “Daai dik tou roep my,” merk sy op terwyl Melissa besig is om die vlotte aan mekaar te heg. “Daar’s nog baie tou op beide werkstasies. Dis nie so ’n groot afstand om die eiland nie. Hoekom kan ons nie ’n tipe van ’n pont-stelsel bou nie, en die vlotte oortrek?”

Die tyd is vinnig besig om uit te loop. Met net so onder die twee uur oop, deel Hanri haar idee met die span. Verder moet Melissa op die vlotte sit en haarself met die tou oortrek. Plan B . . . vir briljant solank daar nog tyd oor is. “Dit het soos ’n droom gewerk,” kom dit van ’n baie tevrede Hanri. Hirome sê hy  het tou getrek asof hy ’n toutrek-kampioen was. En toe’s hulle daar – met net 17 minute oor op die klok!

Die brug
Feesvieringe nadat Suidhuis ook die tweede brug voltooi het.

Suidhuis-retrospeksie

“Hierdie brug was dieselfde as my lewe. Ons moes van vooraf begin, ons was die heeltyd agter – en ons kon dit doen. Ons het gewen,” en Hanri kan kwalik ophou glimlag.

“Ek dink my kinders gaan baie, baie trots wees op my want eerste by die rooi toring en toe by die groen toring. Ek het hulle net gewys as ’n mens iets wil aanpak, moet mens dit klaar maak, en jy kán dit klaarmaak,” sê Jaco.

En Melissa? “Dit was nie maklik nie. Daar was baie trane, daar was hartseer, daar was oorwinning gewees. En hier staan jy – ’n volmaakte vrou, ’n Kleurling-volmaakte vrou. Janine Wessels se kind. Period. You did it.”

“Dit was amazing gewees net om te weet dit is klaar. Jy hoef nie weer na ’n saagstasie te gaan nie, jy hoef nie meer [vlotte] te lanseer nie. En dit het letterlik ’n span gevat en nie ’n individu gevat om daai brug daar te bou nie,” sê Hirome.

Nog ’n brief

Johan vind nog ’n brief op die groen toring. “Geluk, die brug is nou voltooi,” basuin hy die woorde uit. “Julle gaan môre vir net een speler stem om oor die brug te loop en die skat te eis.”

Wie gaan die spelers kies? En wat gaan daardie speler besluit oor die skatkis vol geld?

Waardig of onwaardig?

Hirome worstel met die woord want alhoewel hy voel hy het altyd sy beste gegee, dink hy nie hy is waardig om oor die brug te stap nie. Vir hom gaan dit daaroor dat hy nie met baie nuttige idees vir die spel na vore gekom het nie.

Hanri se pad met die dood en materiële dinge hou nie meer vir haar waarde in nie. Die geld sal vir haar ’n bonus wees, maar die werklike skatkis vir haar is die ongelooflike vriendskappe wat sy hier gesmee het.

Die brug
Vir Hanri hou materiële dinge nie meer vir haar waarde nie ná haar pad met haar gesondheid.

Melissa voel waardig om oor die brug te stap omdat haar hart altyd oop is om te gee en sy sal die geld met elkeen van haar medespelers deel.

Die brug
“En hier staan jy – ’n volmaakte vrou, ’n Kleurling-volmaakte vrou. Janine Wessels se kind. Period. You did it,” is hoe Melissa haar ervaring op Die brug opsom.

“As hulle dink ek verdien ’n deel van die geld, sal ek baie bly wees daarvoor,” erken Jaco. Maar hy sal ook verstaan as hy nie ’n deeltjie ontvang nie omdat hy verstaan dat iemand anders dit dalk meer nodig het as hy.

Alhoewel Johan glo hy is waardig om oor die brug te stap, voel hy ook dat daar ander is wat net so waardig is om dit te doen. Vir hom het hy soveel baat gevind by die proses en dis iets wat hom sy lewe lank sal bybly.

Die son skyn weer – en nog ’n fakkel word afgevuur

Dis D-dag. Die atmosfeer rondom die ontbyttafel is effe stram en daar’s min te bespeur van vorige dae se skertsery. 

Die fakkel kondig die aankoms van nog ’n pos-kan aan. Die titel van die brief is: “Die einde” en daar word diep gesug. Die brief bevestig wat hulle wel reeds weet, en dit is dat die persoon wat oor die brug gaan stap, die enigste een is wat kan besluit oor wat met die geld gaan gebeur.

Wie gaan stap?

Johan vertel aan die Suidhuis-span dat hy “binne waardes en binne integriteit en binne vertroue hierdie ding gaan afhandel”. Naasteliefde, waardes en vertroue noem hy ook as deel van sy gewilligheid om namens Suidhuis die brug te betree.

Johan vertel hy het soveel baat gevind by Die brug en dis iets wat hom sy lewe lank sal bybly.

“Ek dink ons elkeen verdien om oor daai brug te stap, want ons het ewe hard gewerk,” is Jaco se antwoord en daarmee laat hy die besluit oor aan die res van die spelers. “Ek dink dit sal nogal ’n groot verskil maak aan my lewe, veral my kinders en my vrou se lewe. Maar ek wil net vir julle almal baie dankie sê vir alles wat julle vir my doen, elke dag,” sê Jaco.

Op haar beurt noem Hanri dat dit nie in hierdie laat stadium van die spel nodig is om spelers te oortuig van wie jy is nie. Dit is iets wat reeds vanaf die begin van Die Brug vir die duur van die spel duidelik moes wees. Maar sy sluit af dat dit vir haar ’n eer en ’n voorreg sal wees as sy vandag oor die brug kan stap.

Op sy beurt vertel Hirome dat die verwerping van kleintyd en op Die Brug hom gaan definieer of dat hy die verwerping gaan definieer. Kykers sal onthou dat hy in die tweede episode deur Noordhuis uitgestem is en op daardie manier by Suidhuis beland het.

Vir Melissa gaan dit daaroor om as vrou en as Melissa oor die brug te stap, ook as die eerste leier van Suidhuis. Sy sê sy wil terugdraai op die brug en sal een en elkeen in ag neem wanneer sy die skatkis bereik.

Vyf stemme, vyf moontlikhede . . .

Die uitslag is gelykop – en nou moet daar tussen twee spelers gestem word wat elk twee stemme ontvang het. Praat van ’n tameletjie! Daar moet weer gestem word, en dié keer is die resultaat asof uit een mond: Hirome.

Hirome kon nie sy trane keer toe hy gekies is om oor die brug te stap nie.
Trots!

Die skatkis

Die 150 m wat tot by die skatkis gestap moet word, is eensklaps klipharde werklikheid. Vir die speler wat oor die brug stap, is hierdie ’n oomblik van besef waarom soveel paaie met Die Brug moes kruis.

Hirome bereik uiteindelik die ware skatkis.

Met die skatkis oop, is daar oudergewoonte ’n brief. Die keer is die nuus net goeie nuus. “Jy is waardig. Die Brug se skat behoort aan jou. Die skat bevat net R720 000 van die R1 m-prysgeld. R100 000 is gebruik om Noordhuis se brug te koop, Lelani het R100 000 gevat toe sy vyf vlotte by Suidhuis en Noordhuis se brûe verwyder het. Elsje het R50 000 gevat toe sy vyf vlotte van Noordhuis se brug verwyder het. ’n Verdere R30 000 is gevat deur drie waarnemende spelers.

“Die res van die span gaan nou een-vir-een oor die brug stap om uit te vind of jy jou skat met hulle wil deel, of nie.”

Dis die R720 000-vraag . . .

En toe?

Hirome het toe wel besluit om die R720 000 met die res van die span te deel – elkeen ’n ander bedrag. Daar word gelag en daar word gehuil en almal is dit eens dat hoewel die geld-gelukkie van Hirome handig te pas vir hulle is, hulle dié ervaring van Die brug vir niks sal verruil nie. 

Jaco was verheug toe Hirome vir hom meedeel hoeveel van die skat hy met hom gaan deel.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies