Menu terloops
In Recaps & Resensies [18 Sep 2025]

‘Boer soek ’n vrou’: Een braak gal, een weer ‘gillend gelukkig’ ná nog gaste tasse pak


Daar was trane van hartseer (maar ook ’n paar gille van blydskap) toe nog kuiergaste hul tasse moes pak in vandeesweek se episode van ‘Boer soek ’n vrou’.

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n vrou’: Een braak gal, een weer ‘gillend gelukkig’ ná nog gaste tasse pak

In die vorige episode van Boer soek ’n vrou moes twee kuiergaste hul tasse pak en huiswaarts keer. Daar in Badplaas se omgewing het die makadamia- en wildboer Willie vir Yvonne die trekpas gegee. By Beestekraal het toerisme- en wildboer Rudi op sy beurt vir Nelius ’n veilige reis huis toe toegewens.

Hoe het die aanbieder, Reandi Grey, se besoeke op die res van die plase afgeloop? “Ons weet almal wat die hart wil hê, wil die hart hê,” het sy gesê. Maar hoe gemaak as twee harte verskillende dinge wil hê?

Wie moet volgende tasse pak?

Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo

Wie kuier? Lauren en Theresa 

In die vorige week se episode het die kompetisie om dié gawe boer se hart te probeer wen, straf begin raak. Maar het die boomklimmery dalk iewers iets by hom laat kliek? Ja, boomklimmery – en nie sommer so ’n boom nie, die sesde grootste van sy soort in Suid-Afrika, wat op die Sunland-plaas staan.

Boer soek n vrou
Evert en sy gaste het geskarrel om dié grote boom te klim. Foto’s: Skermgrepe

Van boabab-bome tot die kwelvraag: Kinders of nie? Evert het hulle nie teleurgestel nie. Dis iets wat hom na aan die hart lê, en hy’t grappig klip-papier-skêr gespeel om te illustreer hoe hy en sy toekomstige maat gaan besluit hoeveel kinders hulle gaan hê. 

Hy het toegegee dat hy waarskynlik graag twee seuntjies (vir chaos in die huis) en ’n dogtertjie as ’n prinses wil hê. Maar ongeag daarvan, het hy besluit hy gaan na sy hart luister.

Reandi kom loer in

Sy wou sommer dadelik alles weet, want dit het tog gelyk asof Evert se oë vir haar al klaar meer geblink het as die dag toe die kuiergaste op die plaas aangekom het. Reandi het die spyker op die kop geslaan! Evert het boonop erken dat hy dalk nie die enigste een is wat al opgewonde is nie.

Boer soek n vrou
Reandi wou dadelik weet hoekom Evert se oë só sprankel!

Toe sy wou weet wat hom so emosioneel stem, het hy na sy pa verwys, wat ’n baie stil man was vir wie dit moeilik was om emosie te wys. 

Vanweë chemoterapie was sy pa in die laaste maande van sy lewe bles. En hy het in die gewoonte gekom om sy pa se kop te vat en hom daarop te soen. Dit was duidelik ’n baie emosionele tydperk vir Evert, en alhoewel sy pa kon, het hy nooit vir Evert gevra om te stop nie.

“Tog is dit so amazing om liefde te kan wys in so ’n oomblik,” het dit bemoedigend van Reandi gekom. En sy het bygevoeg dat dit vir haar wonderlik is dat daar nou weer iemand is met wie hy ’n spesiale band kan vorm.

boer soek n vrou
Evert het vir Reandi vertel hy’s wel versigtig om “gat-oor-kop in iets in te hardloop”, maar daar is definitief iets waarna hy uitsien.

Hy het die oopvou van ’n roos se blare vergelyk met die gevoelens wat hy begin ervaar het. En ja, hy hou baie van rose en van wat hy sien, het hy laggend erken.

Hy het vertel hy’s wel versigtig om “gat-oor-kop in iets in te hardloop”, maar daar is definitief iets waarna hy uitsien.

Tussendeur het Lauren en Theresa aan Reandi erken dat hulle al twee werklik baie hou van wat hulle tot dusver van hierdie boer gesien het. 

Wat hulle al drie nog groter laat glimlag het, was toe Reandi die goeie nuus deel dat nie een van die twee gaste met hierdie kuier hul tasse hoef te pak nie. Omdat Elouise vroeër moes huiswaarts keer vanweë werksverpligtinge, was dit nie nodig vir Evert om iemand op die tweede dag huis toe te stuur nie. Daar is nog ’n paar dae tyd.

Reandi het aan Evert verklap dat beide vroue baie graag langer op die plaas wil bly. En toe bloos hulle heerlik!

Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond, Noord-Kaap

Wie kuier? Anzelle, Elizma en Lisa.

Hy het nog nie iemand gekies nie, maar dit kriewel onder die drie kuiergaste. Hulle het maar gesukkel om die man gelees te kry, al glimlag hy so maklik. 

Die vuurproef was nie die kaasborde wat hulle moes maak nie, maar die afval wat skoongemaak moes word. Daai kop wat vir hulle lê en loer het vanuit die emaljeskottel was ’n uitdaging wat hulle nie verwag het nie.

Boer soek n vrou
Wie bly en wie ry? So tussen al die kombuis-en-kos-eskapades deur het Pieter erken hy het reeds ’n idee wie se tasse gepak moet word

Pieter het nog steeds sy kaarte naby aan sy bors gehou. Hy het wel erken daar is een onder die drie wat vir hom so ’n bietjie uitstaan bo die ander twee. Gaan Anzelle se gevoel dat Lisa en Elisma baie gemakliker in die kombuis is as sy, dalk iewers ’n rol in Pieter se besluit speel?

So tussen al die kombuis-en-kos-eskapades deur het Pieter erken hy het reeds ’n idee wie se tasse gepak moet word.

Reandi kom loer in

“Harder as skaapwerk, want hulle sê ook niks nie, en jy gaan maar aan,” het Pieter laggend erken toe hy vir Reandi vertel hoe moeg hy saans is met die drie vroue as geselskap. Maar hy’s nie spyt oor die geselskap nie. En hy het na ’n hoër rat oorgeskakel omdat die gesprekke meer ernstig geraak het.

“Daar’s definitief iemand, ja,” en daarmee het hy volstaan. 

Ná Reandi se gesprekke met die drietal, was dit duidelik dat al drie graag langer wil aanbly. Kupido se pyle het getref, en in drie harte is daar drome wat blom.

Toe Pieter sy besluit moes deel, het hy dit duidelik gemaak dat hy besef hy moet sy hart volg. En dit was Lisa wat nie weer afval op die plaas gaan bewerk nie.

Die twee wat agtergebly het, het verlig gevoel. Maar Lisa kon nie die trane keer toe sy saam met Reandi van die plaas af weggery het nie.

Boer soek n vrou
Anzelle en Elizma was verlig dat hulle nog ’n bietjie langer op die plaas by Pieter kan kuier.

Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap

Wie kuier? Paola, Ella en Lizelle.

Met die vorige episode was daar al ’n hele kwota skewe kyke en geniepsige opmerkings wat net soos die dreigende onweerswolke ’n skadu oor Rudi H se soektog na liefde gewerp het.

Reandi kom loer in

Reandi het sommer met die deur in die huis geval en die drietal uitgevra oor die warboel van emosies wat veral vanaf Sondag ingeskop het. Ella was eerste om te erken dat dit ’n baie emosionele dag was.

Rudi H het gevoel die wrywing onder sy gaste het net onnodige drama veroorsaak.

“Moeilike dag, vol emosie. Vol trane sluk, tong byt en vergewe,” het Paola daarna bygevoeg. Was dit bloot verbeelding of het iemand se oë byna hoorbaar gerol?

Paola was die een wat in die vorige episode gal gebraak het omdat sy gesien het dat Lizelle by Rudi H se kamer ingeloer het. Maar die piksoentjie wat sy op haar beurt vir Rudi op die wang gegee het, “is nie goed deur die groep ervaar nie,” aldus Lizelle. 

Dit was duidelik dat hierdie twee veral nie juis ooghare vir mekaar gehad het nie. Maar dit het nie daar opgehou nie. Lizelle het vermoed Paola verdink haar daarvan dat sy by Rudi H oorgeslaap het. O, die sonde… En Ella het deurentyd kliphard probeer om vrede tussen die ander twee te bewerkstellig. Sy het ’n appeltjie te skil gehad het met Lizelle wat “oorgeneem het” in die kombuis. 

Maar nie een van hulle het die woorde verwag waarmee Lizelle tydens hul gesprek met Reandi na vore gekom het nie. Sy het aangedui dat sy die plaas wil verlaat omdat die ander twee gaste goed met mekaar oor die weg kom. 

Reandi moes haar egter inlig dat sy nie namens Rudi H kan besluit nie. Toe loop die trane. “Weet jy, ek sal eerder gaan,” het sy volgehou. 

Wat het Rudi H besluit? Hy het gevoel dis net onnodige drama wat dinge vir almal onplesierig maak. Dit was egter duidelik dat die drie gaste nie graag saam om dieselfde tafel sit nie. 

Paola was steeds glad nie geneë met ’n voorstel wat Lizelle die vorige aand gemaak het nie: ’n afspraaktydjie vir elkeen met Rudi H. Sy wou geïrriteerd by Lizelle weet wat hulle veronderstel is om te doen terwyl sy en Rudi H piekniek buite?

Haar reaksie daarop was dat Paolo iets moet vind om haarself mee besig te hou, net soos wat sy en Ella hulself moet besig hou terwyl sy alleentyd met Rudi H deurbring.

Reandi moes mooi praat om die vrede tussen dié drie te bewaar…

Reandi het mooi met hulle gesels en gevra dat hulle moet ophou om op mekaar te fokus.

“Moenie emosionele besluite maak nie. Gun mekaar die geleentheid om hom beter te leer ken en wees respekvol teenoor mekaar,” het sy voorgestel. “Haal diep asem – en bly uit mekaar se spasie uit.”

Rudi H het aan Reandi erken dat hy glad nie gedink het die verhouding tussen sy drie gaste gaan ontaard soos wat dit het nie. Hy dink hulle het baie tyd gemors met die onderstrominge, en hy voel nou anders oor sy gaste as die vorige aand. “Lizelle, jy en Elmarie – sal julle nog asseblief aanbly?” het hy sy keuse met die drietal gedeel.

Boer soek n vrou
Ná al die drama het Rudi H vir Lizelle en Elmarie gevra om langer te bly.

“Ek is kinderlik gillend gelukkig,” het Lizelle ná die tyd gesê. Sy was waarskynlik dankbaar dat Reandi hulle tot kalmte gemaan het en nie haar wens om die plaas te verlaat aan Rudi H oorgedra het nie.

I was me. Dit voel reg,” het Paola aan Reandi gesê toe hulle van die plaas af weggery het.

Maar dit voel asof hierdie nie die einde is van die drama wat nog op van die boere wag nie. Tyd – en liefde – sal leer.


Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.

Lees al ons Boer soek ’n vrou-stories.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies