Quintus, ’n 38-jarige vee- en saaiboer van Winburg in die Vrystaat, is een van die tien boere wat liefde in die 16de seisoen van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou wil vind.
Hy is een van vier seuns en boer saam met een van sy broers, maar hy is die enigste een wat permanent op die plaas bly. Quintus, wat reeds 25 jaar hier woon nadat hy voorheen in Smithfield se wêreld was, sê daar is ’n tekort aan ongetroude vrouens in sy omgewing.
Skoolskoene en vellies
Die inwoners van Winburg ken hom ook die afgelope elf jaar as ’n onderwyser op die dorp, alhoewel hy eersdaags sy skoolskoene vir vellies gaan verruil om voltyds boer te wees. En hy sien baie daarna uit.
Quintus sê hy was baie jonk toe hy in 2010 op 25-jarige ouderdom vir die eerste keer voor die kansel gestaan het. Maar sewe jaar later was die sprokie verby. Daar is wel ’n dogtertjie uit die huwelik gebore. Dit is baie duidelik dat dié jonge dame haar pa se oogappel is.
“Sy maak my hart bly, en dis lekker om haar te sien mens word,” vertel hy.
“Ons word ook gesnoei in die lewe. Net as ons ’n bietjie vinnig groei, kom die Here en dan snoei hy ons weer so ’n bietjie.” Vir hom is die gevolg daarvan dat jy daarna goeie vrugte dra. En hy voel hy groei nou weer – in die regte rigting.
Volgens Quintus is sy swakste eienskappe dat hy tydsaam is, soms ’n introvert kan wees en sterk voel oor netheid. Daarteenoor is hy eerlik, liefdevol en ’n goeie spanspeler.
Dié boer hou daarvan om self ou meubels te restoureer en mooi te maak. Hy belowe dat daar goeters in sy huis is wat nie in winkels aangetref sal word nie.
As hy nie in sy breëbekbakkie, ’n Ford F100, op die plaas rondry nie, sal jy hom ewe gemaklik op sy perd se rug en ander kere op waterponies in die dam aantref. Hy is gek oor die buitelewe en om aktief te wees.
Hoe lyk sy ideale pasmaat?
Terwyl hy rustig aan sy koppie koffie op die groot stoep teug, verklap hy dat hy ook dansskoene in sy kas het.
En dié Vrystater se romantiese kant strek nog verder. Sy idee van ’n romantiese afspraak is ’n perderit na die koppies op die plaas waar ’n heerlike piekniek voorberei is.
Quintus se ideale vrou is iemand wat “lewendig is, wat nie bang is om buite die boks te dink nie en nie materialisties is nie”.
Omdat Quintus se geloof vir hom van uiterste belang is, is hy op soek na iemand wat die Here ken, “iemand wat saam met my kan bid”.
Wil jy vir ’n boer skryf?
Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:
- Skryf in op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv.
- Besoek die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER.
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229.
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com.
- Die sluitingsdatum vir briewe is teen middernag op 30 November 2023.
Wanneer is dit op die kassie?
Marciel Hopkins bied vir ’n vierde keer Boer soek ’n vrou aan. Dié maatsoekreeks sal van Julie 2024 op kykNET en DStv Stream uitgesaai word. Kykers sal dan die boere se liefdesreise kan volg, en die reeks, wat uit 13 episodes bestaan, sal oudergewoonte fokus op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het.