Neil, ’n 30-jarige saai- en beesboer uit Dannhauser se wêreld, is een van die tien boere wat liefde in die 16de seisoen van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou wil vind.
Voor hy hom in alle erns aan die boerdery toegewy het, het hy sy graad in Potchefstroom verwerf en daarna die versekeringsbedryf betree. Maar vyf jaar in die korporatiewe wêreld was vir hom genoeg. Wanneer hy tussen sy beeste en op die landerye besig is, wil hy nie vir ’n oomblik terugkyk nie.
Sy droom is om sy pa, sy oom en sy oupa se nalatenskap te laat voortleef deur die boerdery uit te brei.
“ ’n Boer is ’n man wat homself help. Ek glo die land gaan vorentoe as gevolg van die boere. Jy’t ’n rol in die ekonomie. Jy’t ’n verantwoordelikheid.”
Opgewonde oor die toekoms
Niel sê daar moenie verwag word dat elke dag goed gaan wees nie. Soos die landerye waar hulle die vorige seisoen in September begin plant het. Dié landerye was sopnat, en hy het nie gedink daar gaan ’n oes wees nie.
Maar danksy moderne tegnologie in die vorm van ’n hommeltuig, wat ingespan is om blaarvoeding op die gewasse te spuit, het die mielies ook begin terugbaklei en herstel. Dit maak hom baie opgewonde oor die toekoms. Hy sien sy terugkeer na die plaas as ’n teken dat dit nou vir hom tyd is om ’n lewensmaat te kry.
Niel, wat baie geheg is aan sy broer en skoonsuster, en veral hul twee kleingoed, sê hulle is ’n goeie voorbeeld van wat hy graag wil hê. Hy beskryf dit as “sielsgelukkig”, en hy neem sy verantwoordelikheid as oom van die twee dogtertjies baie ernstig op. Hy besef ook dat hy bereid moet wees om meer kwesbaar te wees en is bereid om oop te maak en sy trots in gevalle opsy te skuif. Niel voel wel sterk daaroor dat die sukses van ’n verhouding net kan werk as beide partye 100% gee op ’n gee-en-neem-basis.
“Opofferinge moet gemaak word, maar vir die regte persoon is dit die moeite werd.”
Niel erken hy kan ongeduldig wees en dat hy beslis ’n alles-of-niks-mens is. En ja, soms is hy geneig om sake te veel te oordink. Maar daarteenoor is hy ’n positiewe mens propvol deursettingsvermoë en met eerlikheid aanmekaar gesit.
Hoe lyk sy ideale pasmaat?
“My vrou moet my beste pel wees. Niks anders nie. Ons moet lekker saam kan lag,” sê hy en voeg by: “Geloof vorm die basis van ons bestaan, en dis belangrik dat ons ook hierdie oortuigings deel.”
Hy erken hy is nie ’n kenner van vrouens nie, maar hy dink hulle wil soms weet jy doen klein goedjies vir hulle reg.
Of dit nou koffie agterop die bakkie of ’n kaalvoetsokkie in die sitkamer is – enige plek kan ’n spesiale oomblik wees. Hy geniet dit ook om kos te maak en kan nie wag om saam met iemand spesiaal ’n nuwe resep aan te pak met ’n knetterende kaggel in die agtergrond nie.
Niel sê hy het nog nooit gevoel daar’s iemand wat hy wou vra om mee te trou nie, maar hy is oortuig daarvan dat as dit wel gebeur met die regte mens, hy nie sal kan wag om dit te doen nie.
Wil jy vir ’n boer skryf?
Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:
- Skryf in op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv.
- Besoek die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER.
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229.
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com.
- Die sluitingsdatum vir briewe is teen middernag op 30 November 2023.
Wanneer kan jy kyk?
Marciel Hopkins bied vir ’n vierde keer Boer soek ’n vrou aan. Dié maatsoekreeks sal van Julie 2024 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144) uitgesaai word. Kykers sal dan die boere se liefdesreise kan volg, en die reeks, wat uit 13 episodes bestaan, sal oudergewoonte fokus op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het.