Lulani, ’n 40-jarige boer tussen Luckhoff en Philippolis, is een van die tien boere wat liefde in die 16de seisoen van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou wil vind.
Lulani boer al van 2012 met bees en skaap op ’n plaas in die Vrystaat. Sy glo ’n mens word gebore met ’n liefde vir boerdery. Haar drie susters, wat ook op die plaas grootgeword het, het nie dieselfde liefde daarvoor as sy nie, maar hulle is baie mal daaroor om te kom kuier.
Sy sê sy was kleintyd al haar pa se regterhand op die plaas.
“Die lekkerste deel van boer, is dat jy elke dag kan besluit wat jy wil doen, en dit voel amper nie soos werk nie.”
Deursettingsvermoë en diere
Sy vertrou ook die proses wanneer dit lyk asof dinge nie gaan uitwerk soos wat sy verwag het nie.
“Ek hou daarvan om aktief te wees. Daarom sorg ek dat daar ’n paar events in ’n jaar is wat ek kan doen. Ek en my pa het ’n klompie jare terug Kilimanjaro geklim, en ek het al ’n paar Argusse [nou bekend as die Kaapstad-fietstoer] gery. My ma moes, toe sy 60 geword het, die Argus saam met my ry.”
Sy is duidelik ’n bondel energie wat hou van hardloop in die berge, visvang, kuier met vriende en om nuwe plekke te besoek. Boonop het sy agt honde.
“Ek neem almal aan wat ek sien,” verklap sy.
Sy erken dat sy ongeduldig kan wees en by tye kort van draad. En dan’s daar nie altyd ’n filter wat inskop nie. Maar dan is daar die groot omgee vir mens en dier. Haar positiewe energie beïnvloed diegene rondom haar, en sy het ’n stewige kwota deursettingsvermoë wat haar aan die gang hou.
Hoe lyk haar ideale pasmaat?
Lulani het vir Boer soek ’n vrou ingeskryf omdat sy iemand spesiaal in haar lewe soek vir wie sy lief kan wees en haar lewe mee kan deel. Sy was wel in ’n langtermynverhouding van tien jaar en “tien pogings wat nie langer as 3 maande gehou het nie”, maar sy sien dit as belangrike groei vir haar volgende verhouding.
“Ek hou daarvan as ek ’n vrou ontmoet om juis te kyk na daardie ietsie wat uniek is, wat haar die mens maak wat sy is. ’n Vrou moet lus wees vir die lewe. Ek dink ’n positiewe mindset is ’n baie belangrike ding.”
Lulani sal glad nie omgee as haar pasmaat by die plaas betrokke wil raak nie, maar as sy nie wil nie, is dit ook reg met haar. Maar . . . “as die kalf in die put is, gaan sy definitief moet help!”
Sy sê sy self is nie juis gek oor vuil hande nie, maar goeters moet gedoen word. En hande sal vuil word.
Haar ouers het haar van die begin af aanvaar as ’n gay vrou nadat sy hulle in haar eerstejaar op Stellenbosch daaroor ingelig het.
“Iemand het vir my pa een keer gesê hulle is so wonderlik dat hulle lief is vir hierdie gay kind van hulle. My pa het gesê: ‘Hoe is dit wonderlik dat ons vir haar lief is? Ons is vir haar lief. Ons is vir ons ander kinders lief. Dis nie meer wonderlik as jy vir jou gay kind lief is nie.’ Ek is 100% aanvaar in my gemeenskap.”
Lulani vertel sy wou nog altyd getrou het.
“Ek sou graag energie wou spandeer in so ’n verhouding en saam ’n lewe bou. Ek spot altyd en sê ek wil ’n vrou hê wat so bly is om my te sien as wat my honde is.
“Dit is so lekker as mens so bly is om mekaar te sien. Liefde vir my is wanneer jy jouself sonder enige filter vir my wys. Ek kyk daarna en ek sê dis perfek, dis wonderlik, dis presies wat ek wil hê.”
Wil jy vir ’n boer skryf?
Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:
- Skryf in op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv.
- Besoek die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER.
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229.
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com.
- Die sluitingsdatum vir briewe is teen middernag op 30 November 2023.
Wanneer kan jy kyk?
Marciel Hopkins bied vir ’n vierde keer Boer soek ’n vrou aan. Dié maatsoekreeks sal van Julie 2024 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144) uitgesaai word. Kykers sal dan die boere se liefdesreise kan volg, en die reeks, wat uit 13 episodes bestaan, sal oudergewoonte fokus op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het.