Menu terloops
In TV [18 May 2026]

‘Beter as Gister’: Als wat jy van dié nuwe Afrikaanse dramareeks moet weet


Hoekom word pa’s aan ’n ander standaard as ma’s gemeet? Dít was die vraag wat die idee geplant het vir die nuwe dramareeks, ‘Beter as Gister’, wat 30 Junie op kykNET begin uitsaai.

Deur Redaksie
‘Beter as Gister’: Als wat jy van dié nuwe Afrikaanse dramareeks moet weet
Kyk lokprent

Corné en René van Rooyen, bekend as skrywers en regisseurs van reekse soos Alles Malan en Summertide, is vir die nuwe reeks van 13 episodes verantwoordelik. Tascha van der Westhuizen is, soos met al Red Letter Day Pictures se produksies, ook aan boord as vervaardiger van Beter as Gister.

Die saadjie vir die storie

“Dit het alles begin met die geboorte van ons dogtertjie, Hannah, gedurende Covid. Soos baie pa’s in daardie tyd was ek vir amper ’n jaar op kraamverlof by die huis,” vertel Corné. “In daardie tyd het ek begin verstaan wat dit regtig beteken om ’n eenhonderd persent teenwoordige pa te wees, maar ook hoe anders die wêreld na ’n teenwoordige pa kyk as na ’n teenwoordige ma.

“Ek ruil haar doek om en kry amper ’n staande ovasie. Ek stap met haar rond om haar aan die slaap te kry en mense sê: ‘Sjoe, jy is darem ’n goeie pa’. Maar wanneer ’n vrou presies dieselfde doen, is sy nie ’n held nie. Sy is net ’n ma.

“Dit het my laat besef hoe laag die standaard vir mans is om as goeie pa’s gesien te word. Én hoe ongelooflik hoog die standaard vir vroue is om as goeie ma’s erken te word. In die publiek se oë is dit maklik om ’n goeie pa te wees. Doen net die basiese dinge, en almal klap hande. Maar vir my het dit verkeerd gevoel. Want om ’n goeie pa te wees, vra baie meer as dit.”

Wie’s wie in dié reeks

Beter as gister draai om vier families en fokus veral op die mans se rol in elke gesin.  

Marco Fouché (Neels van Jaarsveld) is ’n toegewyde tuisbly-pa. Hy bestuur al vir 10 jaar die huishouding terwyl sy vrou, Cecile (Rolanda Marais), haar ambisie gevolg en uiteindelik burgemeester van Kaapstad geword het. Hulle het drie kinders: die 17-jarige Jessica (Nina Strydom), die agtjarige Coenie (Gerhard Conradie) en die sesjarige Luca (Sebastian La Cock). Die Fouchés se lewe begin egter ontrafel wanneer Marco besluit om weer te begin werk. 

Beter as gister, Neels van Jaarsveld
Neels van Jaarsveld as Marco Fouché. Foto’s: Verskaf

Bernard Kruger (Frank Rautenbach) is ’n meedoënlose sakeman wat alles sal doen om sukses te behaal. Hy is getroud met Karen (Hanna Grobler), ’n saggeaarde onderwyseres, en hulle het twee kinders. Reynard (Sebastian van Niekerk) is ’n 17-jarige probleemkind, wat ’n baie swak verhouding met sy pa het. Die Krugers se jongste is Benji (Eben Kotze), wat ses jaar oud is. ’n Traumatiese voorval verander in ’n oogwink hul lewens. Daarna moet veral Bernard herdefinieer wat dit vir hom beteken om ’n man en pa te wees. 

frank Rautenbach, beter as gister
Frank Rautenbach as Bernard Kruger.

Eben Strauss (Edwin van der Walt) is ’n liefdevolle enkelpa en skrywer. Sy dogtertjie, Lilly (Luna Coetzer), is op die outisme-spektrum, en Eben doen alles in sy vermoë om aan haar behoeftes te voorsien. Eben en Lilly se lewens word deurmekaargekrap wanneer Lilly se ma, Sally (Greteli de Swardt), ná jare weer haar verskyning maak. 

Beter as gister, Edwin van der walt
Edwin van der Walt as Eben Strauss.

Tariq Cupido (Elton Landrew) is ’n nors, 62-jarige voormalige polisie-offisier en wewenaar. Hy het jare tevore sy enigste dogter uit die huis gedryf, maar dan vind hy onverwags uit sy is oorlede. Boonop is hy ook die oupa van die sesjarige Katinka (Alexis Newman)… Hy moet dan ’n besluit neem wat hul albei se lewens gaan verander. 

Beter as gister, Elton Landrew
Elton Landrew as Tariq Cupido.

Ook in die rolverdeling is June van Merch, Mila Guy, Daneel van der Walt, Charlene Brouwer, André Weideman, Melanie du Bois en Danny Ross. 

“Die reeks is gebou op daardie gevoel wat ’n ouer kry wanneer hulle hul kind in die bed gesit het en kyk hoe rustig hulle slaap,” sê Corné. “Moontlik was dit ’n lang dag vol emosie, uitbarstings, skuldgevoelens en ongeduld. Maar dan kyk jy na hulle en dink: Môre gaan ek beter wees. In daardie stil oomblik langs die bed, kom daar liefde, hoop en ’n nuwe voorneme. Dít is eintlik die hart van die reeks.” 


Beter as gister begin op 30 Junie om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies