Menu terloops
In Sepies [22 Aug 2022]

Sepies: Fantastiese toneelspel in ‘Suidooster’, ‘Arendsvlei’ hou ons ingekatrol


Wade (Dean Smith) kry ’n ruggraat in ‘Suidooster’ en Rehane Abrahams verdien ’n staande applous vir haar toneelspel in ‘Arendsvlei’. Hierdie is die sepies met die lekkerste, skokkendste (en soms belaglikste) storielyne hierdie week. Moenie dié hoogdrama misloop nie.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Fantastiese toneelspel in ‘Suidooster’, ‘Arendsvlei’ hou ons ingekatrol

Verlede week het ons sepiekarakters se toneelspel my hoendervel gegee. Dit was die een wen-vertolking ná die ander. Ons talentvolle plaaslike spelers het my selfs hier en daar vir ’n oomblik laat vergeet dat dit net ’n storie is. Sepies op ons radar die week is Suidooster, Arendsvlei en Binnelanders. 

Suidooster 

Ek dink almal by die huis het Kaashifa (Jawaahier Petersen) se pyn deur hul TV-skerms gevoel toe sy vir die eerste keer ná haar mastektomie na haar lyf kyk. So eg, diep en tasbaar was haar emosies, dat my ma – wat borskanker oorleef het – glad nie daardie toneel kon kyk nie. Nee kyk, Kaashifa het gesorg dat my trane vlak lê. Brava! Haar toneelspel verdien beslis ’n toekenning! Rhafiek (Irshaad Ally) was ’n regte steunpilaar vir haar en ek is mal oor hierdie verhouding. Ons kan maar nou troue hou, want #Rhashifa is couple goals. 

Terwyl Kaashifa se tonele my tot trane gedryf het, het Wade (Dean Smith) se tonele ’n slow clap verdien. “No, excuse you,” is my lyn van die week. Ek was so bly toe die skille van Wade se oë afval en hy vir Angie (Char Carrie) in haar plek sit. Sy het regtig gedink hy gaan haar bo sy familie kies. Dit nadat sy hom sy vriende, familie en werk gekos het! Ek het niks teen Angie nie, maar as hulle saam is, is dit nie die Wade wat ons ken nie! Dit was maar touch and go met Wade en nadat hy vir Ty (Maurice Paige) gepot het, het ek gedink Ty kom iets oor. Ek weet nie of dinge tussen die broers gaan regkom nie, maar hopelik is Angie nou finaal uit die prentjie uit. 

Kyk Suidooster op DStv Online.

Arendsvlei 

Ek het ’n groot mond en opinie oor alles, maar twee dinge waarmee ek nie mors nie is die duiwel en bose dinge. Ek raak nie maklik bang nie, maar #Wendgrid (Wendy/Ingrid) se hoftonele het my verlede week laat sweet. Sy het nou amptelik al haar varkies verloor. Ek moes straks my lig aanskakel om Arendvslei te kyk, want as #Wendgrid eers so begin sing en van bose dinge praat, raak ek bang.  Die duiwel floreer in die donkerte en ek gaan nie toelaat dat bose dinge my vang nie!

Daar is nie ’n karakter wat my meer kwaad maak as Wendy/ Ingrid (Rehane Abrahams) nie, maar selfs ék moet erken daar is nie vir #Wendgrid nie. As sy nie ’n toekenning kry vir verlede week se toneelspel nie, dan weet ek nie. Sy was briljant en het al die hare op my lyf laat rys. Ek wil graag hê Ingrid moet tronk toe gaan, maar ek kan nog ’n rukkie langer na #Wendgrid se aansittery kyk. 

Kyk Arendsvlei op DStv Online.

Binnelanders 

Lyk my Binneland verloor een van die dae hul beste paramedikus, want Danny Jantjies (Bradley Olivier) se kop kyk pad toe en hy wil dan nou ’n sjef word. Arme Zee (Mila Guy) weet nie meer watter kant toe nie. Hoe meer sy vir almal probeer oortuig om vir Danny te help, hoe meer dink mense sy is onnodig. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek sê Zee is verlief op Danny, maar wat weet ek! Ten minste lyk dit asof Annelize (Cindy Swanepoel) tog vir Binneland gaan red. Kom ons hoop die Basson-familie vind nie uit waarmee sy besig is nie, anders is dit nag vir Annelize en sal sy dalk nie haarself uit hierdie gat kan grawe nie. 

Kyk Binnelanders op DStv Online. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies