In VIA se nuwe dokumentêre leefstylreeks Dis wild reis Shari Kennedy van die Oos-Kaap tot die Kalahari om die mense agter Suid-Afrika se wildbedryf te ontmoet.
Sy maak ’n draai by wildboere, veeartse en renosterbewaarders en beleef eerstehands wat die versorging en bewaring van wild verg.
Die reeks van ses episodes begin op Donderdag 12 November om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147). Dit word in samewerking met Wildswinkel aangebied en met trots deur Kalahari Genetics geborg, vir die liefde van die bedryf.

Shari vertel meer:
Wat het jou na Dis wild aangetrek, en wat wou jy deur dié reeks oor die wildbedryf ontdek?
Ek wou verskriklik graag meer oor die wildbedryf leer. Wat my veral aangetrek het, was die mense wat hul lewens aan dié bedryf wy. Dit is ’n enorme bedryf waarin soveel geld belê word, en ek wou beter verstaan wat alles daarin aangaan. Daar is soveel meer daaraan as wat ’n mens van buite af besef.
Jy het in Upington grootgeword. Hoe het jou Kalahari-wortels jou verhouding met die natuur gevorm, en hoe was dit om vir die reeks na dié wêreld terug te keer?
Waar en hoe jy grootword, vorm jou uitkyk op die lewe. Daarom is ek baie dankbaar dat ek in ’n plek en gemeenskap soos Upington grootgeword het. Daar het ek geleer om lief te raak vir die natuur en die fyn besonderhede daarvan raak te sien.
Dit was veral heerlik om vir dié reeks in die Kalahari en op die plase te wees en al hierdie ongelooflike mense te ontmoet. Die mense in die wildbedryf is vir my ’n besonderse klomp.
In die Karoo beleef jy hoe wild gevang en verskuif word. Neem ons na daardie oomblik: wat het deur jou kop gegaan, en hoe naby was jy aan die aksie?
Die Karoo-episode was ongelooflik. ’n Mens besef nie hoeveel mense by die vang en verskuiwing van wild betrokke is voordat jy dit self sien nie. Daar was ’n span van omtrent 50 mense, die adrenalien het hoog geloop en ek was baie naby aan die aksie – selfs in die helikopter!
Dit was ’n behoorlik aksiebelaaide ervaring. Wat my ook opgeval het, was die organisasie en konsentrasie wat dit verg. Dit is beslis nie vir sissies nie.
Julle sluit by renosterbewaarders, veldwagters en teenstropingspanne aan. Wat van dié episode het jou die meeste geraak?
Die mense wat in hul privaat hoedanigheid na renosters omsien, het my diep geraak. Hulle belê enorme bedrae uit hul eie sak in die versorging en bewaring van dié diere.
Dit verg soveel organisasie en bring groot uitgawes mee, maar wat my bybly, is die liefde vir die renosters en die passie in dié mense se oë. Dit is ongelooflik om dit te sien.
Gereguleerde jag en volhoubare benutting kan sterk reaksies ontlok. Hoe het jy dit benader, en wat wou jy deur die reeks daaroor oordra?
Ek kom van die plaas af, so jag is nie vir my ’n vreemde begrip nie. Maar ek weet daar is baie mense wat frons wanneer hulle die woord hoor. Ek wou help om dit beter te verduidelik, want ek dink dit is belangrik dat ons verstaan wat gereguleerde jag behels.
Wanneer iets waarde het, is daar ’n aansporing om dit te bewaar. Dit is ook wat ek in die wildbedryf sien: boere kyk na hul wild, en hoewel daar gejag word, word dit gereguleer. Dit help ook om te voorkom dat daar te veel diere van ’n bepaalde spesie is. Geld word in omheinings en die bestuur en bewaring van die wild belê, en inkomste word weer in die bedryf teruggeploeg.
Die bastergemsbok was byvoorbeeld in ’n stadium amper uitgesterf. Inkomste uit jag het boere in staat gestel om grensdrade op te rig en dié diere se getalle weer te help opbou. Daarom beskou ek gereguleerde jag as ’n belangrike pilaar van die wildbedryf en sy ekonomie.
Die Groot Kalahari Veiling sluit die reeks af. Hoe sal jy die atmosfeer beskryf, en wat sou kykers verbaas oor wat agter die skerms gebeur?
So ’n veiling is ongelooflik opwindend! Daar gebeur soveel dinge tegelyk, maar wat my veral opgeval het, was die enorme hoeveelheid organisasie wat nodig is om so ’n dag te beplan.
Vliegtuie en helikopters kom van oral oor, en mense reis van heinde en verre om daar te wees. Daar is ’n besonderse energie. Mense bie ook aanlyn, en die boere kan nie wag om te sien watter pryse hul bokke sal haal nie.
Almal is op hul senuwees, maar terselfdertyd opgewonde.
Jy het al openhartig oor jou kankerervaring gepraat. Hoe het dit jou prioriteite verander, en het dit beïnvloed hoe jy ’n nuwe projek soos Dis wild aanpak?
Ek dink enige mens se lewe verander wanneer jy die woord “kanker” hoor – of dit nou oor die telefoon is of wanneer ’n dokter die diagnose aan jou oordra. My uitkyk op die lewe het beslis verander. Soos die Engelse uitdrukking lui: “I don’t sweat the small stuff anymore.”
Om in die natuur te wees en God daar te ervaar, beteken nou soveel meer vir my. Ek het weer begin om die klein dingetjies in die lewe raak te sien en te geniet. Ek gryp die lewe met albei hande aan en probeer leef asof elke dag my laaste is.
Jy neem soveel meer in wanneer jy nie alles as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek waardeer my familie, my kinders, my man en my vriende meer. Ek waardeer die lewe, en ek heg groot waarde aan my gesondheid.







