Het Kupido die hart getref, net gekwes of dalk heeltemal misgeskiet? Die finale episode van die 18de seisoen van Boer soek ’n Vrou het onthul watter boere liefde deur die reeks gevind het en hoe dit met die res van die tiental gaan.
Reandi Grey kon nie wag om uit te vind hoe die boere se sake van die hart staan nie. Dit was ook die afsluiting van haar reis as aanbieder van dié gewilde kykNET-maatsoekreeks en Kate Roothman neem nou die leisels by haar oor.
Sedert die reünie-episode se opname het sommige verhoudings sterker geword, ander se paaie het geskei en nuwe romanses het vlam gevat. Daar was selfs ’n troue!
Hier is ’n oorsig van hoe dit met al tien boere gaan.
Die top-vyf:
Arno, bosbouboer van Tzaneen

Arno en Rosanne is amptelik in ’n verhouding. Hy het haar op dieselfde dag waarop hy haar gekies het, gevra om sy meisie te wees, en sy het dadelik ingestem. Haar avontuurlustigheid, liefde vir diere en selfvertroue het hom aangetrek. Hulle is besig om toekomsplanne te beraam, insluitend die moontlikheid dat sy plaas toe verhuis en haar onderwysloopbaan daar voortsit. Dié twee is vandag steeds baie verlief
Francois, wildbewaarder van Hoedspruit

Francois en Sonel het bevestig dat daar meer as vriendskap tussen hulle is en sy kon betyds uit Katar terugkeer om die reünie met hom by te woon. Afstand bly ’n uitdaging, maar hulle kommunikeer gereeld en beplan besoeke sodat hulle tyd saam kan deurbring. Na die reünie het hul verhouding meer ernstig geraak.
Jack, appel- en peerboer van Hermanus

Jack en Hanli het by die reünie erken hulle nog nie amptelik ’n paartjie nie. Volgens Jack het die proses aanvanklik te vinnig vir sy persoonlikheid verloop. Ná die vakansie het hulle meer doelbewus tyd saam deurgebring en bespreek wat hul verhouding beteken. Hul paaie het na dié finale episode geskei en Jack het intussen iemand anders begin sien.
JD, gemengde boerdery van Reitz

JD en Leonè het ná hul vakansieweek saam besluit om vriende te bly. Hy verduidelik dat die aangetrokkenheid nie heeltemal daar was nie en dat hy eerder vir die regte persoon wil wag as om onseker ’n verhouding aan te gaan. Ondanks die uitkoms beskou hy die ervaring as waardevol: dit het hom buite sy gemaksone geneem en hom meer oor homself en sy vermoë om nuwe situasies te hanteer, geleer.
Willie, bees- en mielieboer van Harrismith

Willie is steeds enkellopend nadat sy veelbesproke gedrag teenoor Lezelle en Madelé nie tot ’n verhouding gelei het nie. Sy belangrikste les uit die Boer soek ’n vrou-ervaring is om ondanks teleurstellings nie op homself op te gee nie.
Die res van die tiental:
David, gemengde boerdery van Vierfontein

David en Frances het mekaar op ’n maatsoek-app ontmoet rondom die tyd dat hy vir die die reeks ingeskryf het. Ná ’n paar weke se gesprekke het hulle hul eerste persoonlike ontmoeting by ’n troue gereël. Hy was van die begin af openlik oor sy deelname aan Boer soek ’n Vrou, en hulle het saam bespreek hoe om die situasie te hanteer. Hulle sien mekaar gereeld en bespreek reeds die volgende stap in hul verhouding.
Jacques, makadamianeutboer van Nelspruit

Jacques is steeds enkellopend, maar het van die briewe wat hy ontvang het, opgevolg. Hy beskou sy soektog as ’n voortgaande proses en wil dit nie oorhaastig aanpak nie. Hy het nog nie een van die briefskrywers persoonlik ontmoet nie, hoewel hy laat deurskemer dat daar moontlik ander ontmoetings was. Hy glo sy deelname aan die program het nuwe moontlikhede geskep en bly hoopvol dat hy ’n geskikte pasmaat sal vind.
Junior, gemengde boerdery van Bethlehem

Junior en Denisé wat teen die opname van die reünie-episode reeds sowat drie maande in ’n verhouding. Hulle het ook onlangs getrou. Denisé het toe die pasmaats vir die boere kon inskryf, vir Junio ’n brief en ’n pakkie met onder meer saadjies, kunsmis en kelp gestuur. Die moeite wat sy gedoen het, het hom beïndruk, en hy het haar die volgende dag gebel. Ná ’n lang telefoongesprek het hulle binne enkele dae ontmoet.
Leandi, beesboer van Ventersdorp

Leandi is steeds enkellopend. Sy het briewe opgevolg en iemand persoonlik ontmoet, maar die romantiese gevoelens was nie daar nie. Sy wil nie ’n verhouding forseer bloot om ’n pasmaat te hê nie. Sy soek ’n man wat leiding neem en erken terselfdertyd dat sy self moet leer om minder te probeer beheer en dinge soms hul eie gang te laat gaan.
Luan, skaapboer van Strydenburg

Luan het die reünie saam met een van sy briefskrywers, Mikyla, ’n finalejaarstudent in biokinetika van Gqeberha, bygewoon. Nadat hulle telefonies gesels het, het ’n wolveiling in Gqeberha hom die geleentheid gegee om haar vir koffie te ontmoet. Dit het tot ’n braai en later ’n weeklange besoek aan sy plaas gelei, waar sy, sy familie ontmoet het. By die reünie-episode was hulle nog nie amptelik in ’n verhouding nie. Dit blyk wel dat die liefde nie vir dié twee beskore was nie en Luan het intussen iemand anders ontmoet.
- kykNET stel die 19de seisoen van Boer soek ’n Vrou se tien boere op Donderdag 29 Oktober 2026 om 20:00 bekend. Volgende op kykNET se werklikheidsreekspyskaart is Kokkedoor: Klassiek met Herman Lensing en Jess van Dyk as beoordelaars. Dit begin op Donderdag 5 November 2026.