Menu terloops
In Recaps [10 Sep 2026]

‘Boer soek ’n Vrou’ S18: Familie se insette verhoog druk op boere


“Vir twee harte om mekaar te vind, moet daar so min as moontlik onbeantwoorde vrae tussen die boer en sy pasmaat lê,” het Reandi Grey, aanbieder van ‘Boer soek ’n Vrou’, met die aanvang van vandeesweek se episode gesê.

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n Vrou’ S18: Familie se insette verhoog druk op boere

Die soeke na liefde het in die negende episode van die 18de seisoen van die kykNET se Boer soek ’n Vrou ’n belangrike wending geneem toe familie en vriende by die proses betrek is. Vir Arno, JD en Willie het vrae oor hul pasmaats en die toekoms al hoe dringender geword.

Die episode volg op Jack van Hermanus se besluit verlede week om Lené huis toe te stuur. Elders het die oorblywende pasmaats die kans gekry om die boere beter te leer ken – deur plaaswerk, individuele gesprekke en kuiers saam met hul naastes.

“Vir twee harte om mekaar te vind, moet daar so min as moontlik onbeantwoorde vrae tussen die boer en sy pasmaat lê,” het Reandi Grey, die aanbieder van die program aan die begin van die episode gesê. 

Haar woorde het die pas aangegee vir ’n aand vol openhartigheid en spanning wanneer die hart en die kop nie dieselfde pad loop nie.

Arno se pa het reeds ’n voorkeur

Boer soek 'n vrou
Arno met sy twee pasmaats, Joanè en Rosanne. Foto’s: Skermgrepe

In Tzaneen het Arno, die 28-jarige bosbouer, sy twee pasmaats, Joanè en Rosanne, dieper aan sy leefwêreld blootgestel. Hulle moes hul eie bome plant onder sy bekwame leiding. 

Tydens die individuele gesprekke het vrae opgeduik oor sy grootste vrese en sy verwagtings van ’n toekomstige vrou. Haaie is eerste op sy banglysie, maar oor sy toekomstige vrou het hy minder angs. Arno het erken dat hy al hoe meer potensiaal vir die toekoms sien.

Die spanning het later die dag toegeneem toe dit tyd geword het om Arno se vriende en familie te ontmoet. Alhoewel hy gesê het hy laat hom nie voorsê nie, moet hy tog luister na wat sy geliefdes te sê het. 

Sy pa het erken dat hy klaar besluit het wie by Arno pas, maar die besluit berus nie by hulle nie. Een pasmaat se oë het al hoe meer begin blink en sy het duidelik gevoel sy is op die regte plek. Maar gaan dit so bly?

JD bly verdeeld

Boer soek 'n vrou
JD het sy twee gaste, Lara en Leonè, ingespan om sy Bonsmara-kudde te help voer. 

Daar op Reitz het JD sy twee gaste, Lara en Leonè, ingespan om sy Bonsmara-kudde te help voer. 

Hulle het heel gemaklik gelyk en daar was heerlik gelag. Maar JD moes erken dat sy kop op twee plekke was en die individuele gesprekke het nie sake makliker gemaak nie. 

“Want altwee is so blêddie oulik,” het hy gesê – juis dié eienskap wat die keuse so moeilik maak. 

Die senuwees het verder toegeneem namate die “oordeelsdag” genader het, want JD het gesê hy het nog nooit sulke mooi meisies na ’n braai geneem nie.

Willie soek duidelikheid ná Tayla se vertrek

Boer soek 'n vrou
Willie se bekommernis was dat hy nog nie heeltemal seker was of hy meer vir die een as vir die ander potensiële pasmaat voel nie.

Ten spyte van die Tayla-skokaankondiging het die volgende oggend op Willie se plaas by Harrismith met nuwe hoop aangebreek. 

Nie net vir Lezelle en Madelé nie, maar ook vir Willie se mielies waar die twee moes help om swamme te bekamp. Gelukkig was daar ’n hommeltuig om dinge makliker te maak. 

Dit het gelyk of Tayla se vertrek sake ook vir Willie en sy gaste makliker gemaak het – en hulle het gevoel of hulle eindelik die ware Willie ontmoet het.

Een van die twee gaste het gevoel of sy ernstiger gevoelens ontwikkel, tog het dit gelyk of “ware Willie” rem wil aandraai. 

Sy bekommernis was dat hy nog nie heeltemal seker was of hy meer vir die een as vir die ander voel nie. Een ding waaroor almal eens was: dit is hoog tyd vir Willie om ’n maat te kry.

Tyd sal leer

Reandi het dit so opgesom: “Stap vir stap begin elkeen hul mure laat sak en hul harte oopmaak. Elke tree op pad na liefde is ingewikkeld, maar die einddoel? 

“Iets waarna elkeen van ons hunker. Net tyd sal leer of hierdie gesprekke genoeg aan elkeen se hart kon raak om ’n besluit te kan neem.”


Boer soek ’n vrou word op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies