Wie sou kon raai dat die karakter Sam só ’n belangrike rol in Marco (Xander Venter) se pad tot vergifnis sou speel? Hyself was dan die boelie toe kykers hom laas in die tweede seisoen van Diepe Waters gesien het.
Maar nie dié keer nie.
Nou is Sam ’n jong man wat aan homself gewerk het, vertel die nuweling-akteur Kruger Coetsee oor sy Diepe Waters-karakter. “As ek Sam was, sou ek dadelik na Coach Jacques (Werner Coetser) toe gegaan het toe Marco hom geboelie het. Nie om te klik nie, maar om vir myself op te staan,” verduidelik Kruger. “Maar Sam onderdruk ongelukkig sy emosies.”

Sam toe en nou
In die tweede seisoen van dié kykNET-telenovela het kykers in ’n paar episodes gesien hoe Sam se aggressie oorgeborrel het wanneer hy en Tommie (Righard van Jaarsveld) koppe by die Swartmarlyne gestamp het.
Nou is dit die berugte Marco Viljoen wat die boelie is. Maar in ’n mooi volsirkel-oomblik gee dié storielyn vir Sam die geleentheid om vir sy gedrag in die verlede te vergoed en te probeer help om Marco van die woededuiwel te red.
Hy het immers diepe begrip vir Marco se situasie. Nes die gevreesde Schalk Viljoen (Izak Davel), was dit ook Sam se pa (Adriaan Marais) wat sy karakter met aggressie gedruk het om te presteer. “Dis lekker om te weet dat ek nou langer op skerm is en dat Sam ’n groter storie kry. Sam was laas gesien as die boelie vol woede, maar nou kan ’n mens die goeie kant van sy karakter sien,” vertel Kruger.
“Hierdie keer is daar meer nuanse in sy optrede. Hy probeer ’n goeie ou wees wat nie deur sy woede gedryf word nie.”

‘Dit het gevoel of ek daar hoort’
’n Langer storielyn het ook beteken dat Kruger meer van die Diepe Waters-wêreld kon beleef en langer tyd met die ander akteurs kon spandeer. Daar is natuurlik ook sy karakter se aan-en-af liefdesverhouding met Hanneli (Carla Schönfeldt) wat vir verdere intrige sorg.
Hoewel almal in die rolverdeling hom die eerste keer met “ope arms” verwelkom en baie spesiaal laat voel het, was dit tog toe senutergend as nuweling voor die kameras. “Hierdie keer kon ek vinniger gewoond raak aan die stel en dit meer geniet om saam met almal te werk. Dit het gevoel of ek daar hoort,” vertel Kruger.
“Ek het in baie meer Diepe Waters-plekke verfilm. Ek kon byvoorbeeld Lettie se Kêffie beleef, wat so ’n groot komponent van die storie is.”
Die verhoog is hom beskore
Kruger, ’n Pretorianer wat aan Hoërskool Wonderboom gematrikuleer het, is mal oor perdry en om in die gym spiere te bou en fiks te bly. Hy het ook onlangs as onluikende sanger sy heel eerste enkelsnit vrygestel onder die verhoognaam Cappie. Kruger vertel dat “Rigting” nou op alle stroomdiense geluister kan word.

’n Loopbaan ver van die verhoog af was hom beslis nie beskore nie. “Die gevoel en wete dat ek wil toneelspeel en sing was nog altyd daar. As kind het ek saam met my nefie en niggie buite gaan speel en dan het ons ’n hele verbeeldingswêreld binnegegaan,” verduidelik Kruger.
“Hulle het altyd vir my gevra om die storie en karakters te skep, so ek het toe al geweet ek is baie kreatief.”
In 2022 het hy in die Silwerskermfees-kortfilm Begrawe my hart gespeel en binnekort begin hy in Kaapstad aan ’n internasionale produksie verfilm. Meer daaroor kan hy nog nie verklap nie.
Vir nou moet kykers wag om te sien hoe Sam vir Marco help om teen Schalk op te staan en sy aggressiewe boeliegedrag onder beheer te kry. En gaan Sam Hanneli se hart kan terugwen nadat ’n bui van woede hul romanse laat verbokkel het? ’n Mens kan net hoop dat die maand van liefde ’n paar verrassings inhou!
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.