Menu terloops
In Redakteurskeuse [3 Nov 2025]

Wat om te kyk: Moenie dié 8 stories in November misloop


Die finale seisoen van die TV-fenomeen ‘Stranger Things’; ’n nuwe ‘Kokkedoor’; liefdesintrige in ‘Maxton Hall’ se tweede seisoen; en Guillermo del Toro se ‘Frankenstein’ tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Deur Rozanne Els
Wat om te kyk: Moenie dié 8 stories in November misloop

Hier is ons voorstelle vir wat om te kyk vandeesmaand.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

1

Stranger Things S5

Die finale seisoen word in drie sarsies op Netflix vrygestel: Woensdag 26 November – episodes 1 tot 4; Donderdag 25 Desember – episodes 5 tot 7; Woensdag 31 Desember – finale episode. 

Die vyfde – en finale – seisoen speel af sowat ’n jaar na die gebeure van die vierde aflewering. Dis herfs in Hawkins en ons groep helde het een doel voor oë: om Vecna op te spoor en dood te maak. Maar Vecna is skoonveld en sy planne is duister. Hul planne word verder omvergegooi as die regering op Eleven jag maak en die dorp onder militêre kwarantyn geplaas word. Die herdenking van Will se verdwying kom ook al nader en dit blyk ’n finale, dodelike stryd is op hande. 

2

Kokkedoor: Son & see

Kokkedoor Son en see

Weekliks vanaf Donderdag 20 November 2025 om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Vir die tiende seisoen van Kokkedoor, trek dié program nie net ’n ander voorskoot aan nie – daar is ook twee nuwe beoordelaars: die gerekende koskenners Herman Lensing en Yolani Abrahams. Albei is gekwalifiseerde sjefs en het al diep spore in die Suid-Afrikaanse koslandskap getrap.

In Kokkedoor: Son & see val die kollig op die nostalgiese rol wat kosmaak in ’n familieverband speel en die manier waarop dit soos ’n goue draad tussen die verskillende generasies loop. Dié reeks verskil ook van die vorige aflewerings omdat daar geen kinkelkokke (met ’n professionele sjefsagtergrond) deelneem nie – almal is dus huiskokke; die agt spanne bestaan elk uit twee familielede; en daar is ook ’n generasiegaping van minstens 20 jaar tussen die spanlede. 

Ek het al die eerste paar episodes gekyk en kykers kan maar weet hier wag baie pret en lag in die kombuis! En ook, soos altyd, lipafleklekker smulkos. Herman en Yolani is ook ’n wenkombinasie as die beoordelaars en bring ’n warmte wat jou sommer baie tuis laat voel. Hou dop vir die volle resensie van dié nuwe Kokkedoor-aflewering. 

3

Unspoken War 

Vanaf Woensdag 12 November 2025 op Showmax en weekliks om 21:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101).

IdeaCandy, wat ook aan die stuur van dokumentêre reekse soos Devilsdorp, Tracking Thabo Bester en Steinheist was, stel met Unspoken War hul visier op die Grensoorlog. Oor dié oorloog heers daar steeds ’n dawerende stilte – al is die omstrede konflik reeds vir meer as drie dekades verby. Deur openhartige vertellings van soldate, spioene, dogters en vroue, en met behulp van sonderlinge argiefmateriaal, word ’n deel van die Grensoorlog-geskiedenis nou vir die eerste keer in Unspoken War vertel. Met dié stories word daar lig gewerp op die wrede, duistere oorlog wat in Angola, Namibië en Suid-Afrika gewoed het. 

4

Maxton Hall S2 

Vanaf Vrydag 7 November op Prime Video. 

Sjoe, ’n tuimeltreinrit van emosies wag op diegene wat nou al lankal uitsien na die tweede aflewering van Maxton Hall. Maxton Hall, gegrond op Mona Kasten se topverkoperboek, Save Me, se eerste seisoen het begin met Ruby Bell (Harriet Herbig-Matten), ’n beursstudent aan die gesogte Maxton Hall-privaatskool, wat iets sien wat niemand moes nie. En dít laat die arrogante rykmanskind James Beaufort (Damian Hardung) sweet, want daar is baie op die spel as Ruby dié geheim uitlap. Maar as hy haar konfronteer en haar probeer omkoop om haar mond te hou, is daar ’n onmisbare chemie en die vonke spat…

Maar, vind ons met die aanvang van die tweede seisoen uit, blyk ’n gelukkige einde nie vir die twee beskore te wees nie. Iets gebeur in James se familie wat als verander én Ruby se hart in stukke laat. Sy is vasbeslote om haar ou lewe terug te kry – die een waar niemand geweet het wie sy is nie en sy nie deel van die elite se speletjie is. Maar dis makliker gesê as gedaan, want James doen alles in sy vermoë om vir Ruby terug te wen. 

Maxton Hall se eerste seisoen was dié stroomplatform se mees gekykte oorspronklike reeks van alle tye en was bo-aan die kyklyste in meer as 120 lande. Wys jou net – smartsagas is verslawend, of dit nou oor hoërskoolkinders of dokters in die ongevalle-eenheid gaan…

5

The Handmaid’s Tale S6 

Weekliks vanaf Woensdag 18 November 2025 om 22:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101).

Die finale seisoen van dié uitsonderlike reeks is reeds vanaf April vanjaar op Showmax beskikbaar en só ook nou vir M-Net-kykers. 

Ek het vroeër vanjaar, met dié seisoen se bekendstelling op Showmax, só oor die reeks in my resensie geskryf:  “Die uitsaai van die eerste episode van The Handmaid’s Tale in 2017 het gekom enkele maande nadat Donald Trump vir die eerste keer as Amerikaanse president ingehuldig is. Die reeks, gegrond op Margaret Atwood se gelyknamige distopiese verhaal wat in 1985 gepubliseer is, was bedoel om ’n blote TV-verwerking van Atwood se Gilead te wees. Maar toe kom die 45ste president. En ewe skielik het die wêreld van Gilead – een waar die onmenslike onderdrukking van alledaagse regte (meestal dié van vroue) godsdienstige fundamentalisme, verkrampte en toksiese patriargiale hiërargie en ideologieë en ’n diskriminerende klassesisteem – nie so vergesog geklink nie. 

Net ’n televisiestorie sou hierdie dus mos nooit kon wees nie. Daarvoor was die parallelle wat gelyktydig in die regte wêreld afgespeel het te blatant, te herkenbaar, te vreesaanjaend… Ten spyte van kritiek dat die middel-seisoene van die reeks langdradig en onnodig uitgerek was; dat June en haar mede-Handmaidens al lankal in vrede gelaat moes word – voel dié uittog net so dringend en tydig as die eerste een. Die reeks se tydigheid het immers onbedoeld sy troefkaart geword, maar een wat veral nou, amper drie jaar ná die afloop van die vyfde seisoen, mag inhou. Die slotseisoen is wreed by tye. Daar is oomblikke wat jou aan jou strot gryp, wat jou siel ruk. Wat jou diep, diep bang maak. Dis goed so. Ons moet wakker slaap.”

6

Som van twee

Saterdag 8 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

“Dit is al vir tien jaar ’n droom,” het Simoné Pretorius verlede jaar vir my vertel oor haar regisseursdebuut met Som van Twee. Sy is ook een van dié speelfilm, wat sewe Silwerskermtoekennings gewen het, onder meer in die kategorieë vir beste draaiboek, beste regie en beste speelfilm, se draaiboekskrywers. 

Die storie draai om die gevolge van ’n rowwe faux pas wat Henk (Louw Venter) begaan as hy op sy vrou Nicolene se begrafnis bieg dat hy destyds die matriek-wiskundevraestel uitgelek het. Wanneer die onderwysdepartement dan besluit die hele klas van 1990 moet dié eksamen herskryf, vra Henk sy seun, Renier (Adriaan Havenga) om hom te tutor, maar dit sukkel. Dié pa-seun-verhouding is immers al hul hele lewe lank stram en gespanne. Henk se pa Gert (James Borthwick) meng ook kort-kort in en dis nie lank nie of dinge ruk handuit.

Die storie se wortels is so effe absurd, maar ja, dit is gegrond op ware gebeure.
“Liani Janse van Rensburg, die mede-draaiboekskrywer, het op ’n artikel afgekom oor ’n vrou in Nederland, Melissa Kelderhoff, wat tydens ’n skoolreünie erken het dat sy haar matriek-biologievraestel vooraf gesien het. Die storie het by die minister van onderwys, kultuur en wetenskap uitgekom en dié het beslis dat die hele land se 1992-matriekgroep hul biologie-vraestel weer moes skryf. Ons storie het natuurlik ’n paar gedaanteverwisselings ondergaan,” het Simoné ook vertel. 

Lees ook ons onderhoud met Simoné oor Som van Twee.

7

Frankenstein 

Vanaf Vrydag 7 November op Netflix. 

Frankenstein is die Oscar-bekroonde regisseur Guillermo del Toro (Pinocchio, The Shape of Water) se verwerking van Mary Shelley se klassieke verhaal van Victor Frankenstein – ’n briljante maar selfingenome wetenskaplike wat ’n monsteragtige wese tot lewe bring in ’n eksperiment wat uiteindelik tot sy eie ondergang lei. 

Die rolverdeling word gelei deur Oscar Isaac as Frankenstein en Jacob Elordi as The Creature. 

Met Frankenstein verwesenlik del Toro ’n lewenslange droom om sy eie verwerking van Mary Shelley se roman uit 1818 – wat sy voltooi het toe sy net 19 jaar oud was, en wat del Toro al jare lank as ’n inspirasie vir sy werk aanhaal – te skep. Hy het die Britse Gotiese skrywer al as die belangrikste figuur uit die Engelse literatuur-erfenis beskryf: “Soveel kere wanneer ek wil moed opgee, wanneer ek dink om op te gee, wanneer mense vir my sê dat die drome wat ek droom oor films en stories onmoontlik is, dink ek aan haar.”

8

Palm Royale S2

Palm Royale
Kristen Wiig as Maxine Dellacorte-Simmons in Palm Royale. Foto: Verskaf

Vanaf Woensdag 12 November 2025 op Apple TV. 

Palm Royale is een van daai reekse – soos Slow Horses en Mo – wat as jy dit nog nie gekyk het nie, jy 100% uitmis op ’n TV-fenomeen. Die eerste seisoen het 11 Emmy-benoemings ontvang, waaronder vir beste komediereeks en beste aktrise (Kristen Wiig), maar sonder om eens ’n enkele toneel te kyk, is die lys name op die rolverdeling reeds mond-oophang-indrukwekkend. Buiten die bekroonde Wigg is daar legendariese komedie-doyenne Carol Burnett (regtig, te veel produksies en pryse om op te noem!), Laura Dern (Big Little Liars), Ricky Martin (Gianni Versace: American Crime Story), Allison Janney (ook tans te sien in die derde seisoen van The Diplomat), Leslie Bibb (onlangs in White Lotus S3), Josh Lucas (Yellowstone) en ’n hele rits ander. 

Palm Royale is ’n periode komedie-drama televisiereeks en is gegrond op Juliet McDaniel se 2018-roman Mr. & Mrs. American Pie. Die storie speel af in 1969, waar buitestander Maxine Dellacorte-Simmons (Wiig) daarna streef om ’n plekkie in die son van die high society van Palm Beach, Florida, te kry. Dié underdog-storie wys daar’s baie op die spel met die tematiese vraag, “Hoe baie van jouself is jy bereid om op te offer om te kry wat iemand anders het?” wat in die storielyne verweef word. Só volg ons Maxine se eie ontdekkingsproses van wat sy wel bereid is om op te gee – en wat nie – om haar doel te bereik. En daai doel lyk maar bitter ver met die aanvang van die tweede seisoen ná Maxine se ineenstorting…

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer
Sien alle opsies