In Skemergrond se Gemoedsdrif wankel verhoudings, geheime kom dramaties aan die lig, en elke besluit het ’n prys. Christine se verlede klop aan haar deur. Hazel verloor beheer oor haar wêreld, en Patty ontdek dat liefde soms onverwags uit die stilte te voorskyn kom. En die dorp se mense word gekonfronteer met beide hul grootste vrese én hul diepste begeertes.
Hou dié Skemergrond-storielyne vandeesmaand dop:
Christine en Tyler se gevaarlike pad
Die Louws kry uiteindelik antwoorde oor wie geskiet is, maar dit bring min vrede. Bobby dra nuus aan Christine oor wat haar met gemengde gevoelens laat. Tyler neem ’n finale besluit oor hul verhouding en verdwyn uit haar lewe. Christine is heel gegooi wanneer sy uitvind hy’s weg. Ruan se ondersoek na die plaasaanvalle lei hom na Christine, en sy voel al hoe meer in ’n hoek gedruk, terwyl Tyler hom – saam met ’n onverwagse medepligtige – op ’n gevaarlike nuwe missie begewe.
Hazel se wêreld stort in duie

Hazel sukkel om haar skuldgevoelens te oorkom en verlang steeds na Junior, maar Fabian sien haar broosheid as ’n geleentheid. Hy begin vir Junior beïnvloed en betrek hom by sy eie planne. Hazel probeer haar seun beskerm, maar Fabian gebruik hom om haar af te takel. Sy manipulasie dryf Hazel tot breekpunt, en die verhouding tussen haar en Junior versleg verder. Ja, die gevolge van haar dade is veel groter as wat sy ooit kon voorspel…
Fabian se gevaarlike spel
Terwyl hy Hazel se lewe ontwrig, probeer Fabian sy invloed op Gemoedsdrif uitbrei. Sy sjarme en berekende optrede hou die mense rondom hom aan die raai oor sy ware bedoelings. Sy planne begin egter stadig uitrafel wanneer mense naby aan hom sy ware aard begin raaksien. Die spanning tussen Fabian, Hazel en Junior word op die spits gedryf, en die uitkoms van dié konflik kan alles verander.
Patty se nuwe hoofstuk
Te midde van die chaos vind Patty onverwags ’n nuwe begin. Ons ontmoet vir Lukas, en hy neem Patty uit. Sy stem later in tot ’n tweede uitstappie. Met Manny se aanmoediging raak die twee nuuskierig oor mekaar en begin ’n sagte band tussen hulle vorm – ’n verhouding wat stadig groei te midde van onsekerheid. Is hierdie die groot liefde waarop Patty al so lank wag?
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.







