Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (20 tot 24 Oktober) in Suidooster, Diepe Waters, Skemergrond en Binnelanders kan uitsien.
Suidooster
Mymoena (Jill Levenberg) was nog altyd ’n statige vrou en iemand na wie almal in die gemeenskap opkyk. Maar selfs die sterkste mense vou onder druk. Nou, ek is ’n groot familiemens en sal nes Moena enigiets vir familie doen, maar ons almal het mense in ons lewens wat ons bloed laat kook. Die Samsodiens het baie om te vier dié week, maar ’n ongenooide gas slaan almal – veral Moena – van hul voete af. Ek was beslis verras; hierdie kinkel het ek nie sien kom nie! En ná daai stunt van haar het my mond op die grond gehang. Geen wonder Moena weet nie hoe sy dit het nie. Geen mens kan kalm bly met so ’n slinkse energie om jou nie. Iets sê vir my hierdie gaan allesbehalwe ’n gelukkige familie-reünie wees!
Maar die spanning in die Samsodien-huis het kompetisie, want dinge tussen Wade (Dean Smith) en Zoë (Lauren Joseph) word ook op die spits gedryf.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Skemergrond
Daar mag dalk bose dinge wees wat die Louws op Everlasting jaag, maar hoe onnosel kan Hazel (Carmen Maarman) nou wil wees? Jy kan nie iemand van iets beskuldig en dan dieselfde gaan doen nie. Ek het regtig meer van haar verwag en is heel onkant gevang. Party mense kan seker net nie sterk staan teen versoeking nie. Nee, man Hazel!
Teen minste is Manny (Dirk Stoltz) volwasse genoeg om te erken as hy ’n fout gemaak het. Ná al die drama onder die kerktannies oor ’n oondbak, gaan julle nie glo hoe dié saga opgelos word nie. Ai, hierdie was nou ’n classic! Ek het so lekker gelag, want dit is presies wat in die werklike lewe gebeur. Ons almal was al in so ’n situasie waar alles handuit ruk oor ’n onskuldige klein foutjie…
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.
Diepe Waters
Ná die afgelope paar weke se nagmerrie, is dit uiteindelik tyd vir Karla (Daniélle Swanepoel) om te skitter – en ek dink nie daar is enige iemand wat dit meer verdien nie. As ek terugdink aan alles wat Karla tot dusver deurgemaak het, is dit ’n wonderwerk dat haar verhouding tot by dié punt gekom het. En hoe trots kan sy nie wees nie! Dit is hartroerend om te sien hoe almal saamkom om haar te vier, maar ook – wat van DAAI toespraak?! As mense nie na daai toespraak besef daar’s groot fout nie, dan weet ek nie. Maar soms wil mens net nie realiteit aanvaar nie. Kyk maar nou vir desperate housewife Rossouw (Altus Theart)… Hoe pateties! Jy moes aan die gevolge gedink het toe jy nie jou lippe van ’n ander vrou kon hou nie!

Dit maak nie saak hoeveel keer jy met die spoke gesels nie, Sanet (Nadia Valvekens), die Here en almal van ons by die huis sien wat jy doen. Jy kan maar ’n duisend foto’s toemaak, daar is ’n miljoen oë op jou en dit lyk nie goed nie! My maag is al op ’n knop. Wat sal moet gebeur vir haar om dié keer die lig te sien? Ons almal weet hier kom groot moeilikheid op haar pad. Kom ons hoop daar’s minstens die keer nie weer ’n hofsaak nie!
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.
Binnelanders
As daar nou ’n sepiepaartjie is wat my hart het, is dit Louis (Germandt Geldenhuys) en Naomi (Je-ani Swiegelaar). Hierdie twee is al deur diepe waters, maar hul verhouding groei net van krag tot krag. Hulle is die definisie van couple goals. Hulle kry nie altyd wat hulle wil hê nie – die lewe hou mos maar daarvan om vir hulle taai klappe uit te deel – maar hierdie week kon ek die trane nie terughou tydens ’n baie spesiale toneel nie. Soos Louis uitwys: wonderwerke gebeur steeds en sulke mooi oomblikke laat ’n mens sommer weer in die goeie dinge van die lewe glo.
Ek weet nie hoe dit gaan eindig nie, maar ná daardie mooi toneel, hoop ek die skrywers gun vir hulle geluk. Kry maar die tissues gereed, hierdie storielyn gaan aan die hartsnare trek.
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.







