Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (6 tot 10 Oktober) in Suidooster, Skemergrond en Binnelanders kan uitsien.
Binnelanders
Naomi (Je-ani Swiegelaar) en Louis (Germandt Geldenhuys) sukkel om aan te pas met die nuwe lyfie in die huis. Om ’n baba aan te neem, is reeds ’n groot verandering, maar wanneer jy ’n ouer kind met hul eie persoonlikheid in jou huis nooi, is dit ’n perd van ’n ander kleur. Hannah (Rosebelle Clasen) kon ek van die begin af sien, gaan ’n uitdaging wees, maar ek sou beslis nie so cool en kalm wees as sy dit aan my gedoen het nie. Ek kon voel hoe my bloed begin kook oor hierdie storielyn. Maar blessings vir hulle, daar moet goeie mense in die wêreld wees.
Maar hoe moeilik dinge vir die Kosters is, is niks in vergelyking met die situasie waarin Joe (Roberto Kyle) homself bevind nie. Dit is regtig in sulke tye dat jy jou helde en vyande leer ken. In hierdie geval, sien mense hoe Joe eintlik maar net ’n handjie vol supporters het. Ná sy oom se nuutste move, dink ek Joe gaan ’n hele paar mense uit sy lewe moet sny as hy hierdie nagmerrie oorleef. En julle sal nie glo waar die papiere hulself wegsteek nie! Maar gaan iemand dit kry voordat dit te laat is?
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Skemergrond
Ronnie (Mario Haupt) is bewys dat feite nie altyd aan ’n dokter se kant is nie en dat dit lelike nagevolge het. Ek kry hom so jammer, maar moes hy nou daai gedoen het! Hy speel net verder in Christine (Devonecia Swartz) se siek hande in en sy verlekker haarself net verder in sy pyn. Ek weet regtig nie of ek aan Hazel (Carmen Maarman) of Ronnie se kant moet wees nie. Albei sê dinge wat mens nie maklik kan terugtrek nie, maar wie is reg en wie is verkeerd?
Hazel beter oppas want sy vind tans vertroosting in die verkeerde arms. Praat eerder met jou suster of ouers, want op die oomblik speel jy met vuur, meisie! En hoor wat ek sê… Jy gaan jou vingers brand!
Die Louws het alweer iemand wat hulle treiter, maar wie is dit hierdie keer? Ek dink nie hierdie familie gaan gereeld kerk toe nie, want so kan die duiwel jou nie wil onder kry nie. Ek dink dit is juis hoekom dominee Wayne (Denver Vraagom) se gebed hulle so diep geraak het. Gaan iemand seerkry of wil iemand hulle net afskrik? As dit ek was, het ek al lankal getrek. Mens speel nie met sulke bose dinge nie.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.
Suidooster
As Angie (Char Carrie) die reënboog en sonskyn in Ruiterbosch is, dan is haar nuwe partner in crime Tino (Cole Wessels), Ruiterbosch se eie Miss Congeniality met sy groot hart, ikoniese one-liners en vegkrag. Hy shine behoorlik hierdie week noudat hulle weer ’n duo is en ek dink hy gaan gewild wees onder kykers as hulle eers sy omgeehart leer ken.
Terwyl Ruiterbosch se sonskyn-duo harte steel, is dinge yskoud by die nuwe Samsodien-huis. Rhafiek (Irshaad Ally) beter gereed wees, want iets sê vir my hy gaan tussen Kaashifa (Jawaahier Petersen) en Mymoena (Jill Levenberg) moet kies. Om met jou ouers te bly, is klaar ’n uitdaging ná 20, maar om as ’n volwassene met jou skoonmense te bly, is vir moeilikheid vra. Hoe het hulle gedink gaan dit uitwerk? Onthou hulle nie vir Haliehappies en daai hele onenigheid tussen Kaashifa en Moena nie?! Ek is glad nie verbaas met wat tans in hul nuwe woning plaasvind nie. Kry die popcorn, want hier kom vet pret en groot gevegte!
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.







