Menu terloops
In Gons [22 Aug 2025]

Charlotte Butler maak haar ‘Diepe Waters’-debuut as Aunty G


’n Nuwe karakter in ‘Diepe Waters’ gaan beslis golwe maak. Die charismatiese Charlotte Butler sluit by die rolverdeling aan as Henry se tannie, Ginevra “Aunty G” Rossi, ’n sterk, luidrugtige en liefdevolle Italiaanse mamma met ’n persoonlikheid so groot soos haar goue ringe en armbande…

Kyk 'Diepe Waters' op DStv Stream

Charlotte Butler maak haar ‘Diepe Waters’-debuut as Aunty G

Die aktrise Charlotte Butler sê sy is opgewonde om deel van die Diepe Waters-familie as Aunty G te wees.

Aunty G is in haar sestigs en kom reguit uit Italië, waar sy saam met haar man hul vier kinders grootgemaak het nadat hulle in haar dertigs terug is Italië toe. Nou is sy ’n weduwee, met haar kinders oor die wêreld heen versprei, en keer sy terug na Suid-Afrika om ’n nuwe rol te vervul – as oppasser vir Henry en Lettie.

Vir Aunty G is familie alles. Henry is haar vita mia (haar lewe), en sy respekteer sy vita mia, Lettie. Met haar groot hart en eindelose energie wil sy net help en die las verlig. Maar soms word haar groter-as-lewe teenwoordigheid verkeerd verstaan asof sy die leisels wil oorneem – en dit skep sowel spanning as humor.

Charlotte Butler, Diepe Waters
Kykers kan uitsien na Aunty G se groot hart, haar liefde vir kos, en haar soms oorweldigende manier van help. Foto: Skermgreep

Pizza, pasta, pret!

Om in karakter te kom, het ’n paar prettige uitdagings ingehou, vertel Charlotte. “Wel, om die Italiaanse aksent in Afrikaans reg te kry was ’n uitdaging. Én om ’n paar Italiaanse woorde te leer. En toe moes ek natuurlik baie pasta en pizza eet – dit was verpligtend!”

Kykers kan uitsien na Aunty G se groot hart, haar liefde vir kos, en haar soms oorweldigende manier van help. “Ek hoop kykers gaan haar net so liefhê soos ek, en dalk help dit ons om te besef dat ons eerder na iemand se bedoelings moet kyk en nie sommer dadelik dink hulle is irriterend nie.”

Volgens haar is Aunty G “luidrugtig en warm, maar beslis nie stylvol nie! Sy is ’n bietjie van ’n enigma vir die familie – en daar gaan baie kos wees in haar storielyne. Maar in haar kern sien Aunty G altyd die beste in mense. Sy is lief vir hulle. Nie ’n slegte eienskap om na te streef nie.”

Buite Diepe Waters is Butler se loopbaan net so ryk en uiteenlopend. “Teater is my passie – dit is ook ’n duur stokperdjie! Ek het ’n opleidingsmaatskappy saam met twee wonderlike aktrises, Judy Ditchfield en Jocelyn Broderick, en ’n teatergeselskap saam met die ongelooflik talentvolle Bianca Amato, Kensiwe Tshabalala en Paige Bonnin. Ek show call korporatiewe konferensies, doen verhoogbestuur, rolprente en stemwerk. Ek voel ongelooflik bevoorreg om al meer as 40 jaar deel van hierdie wonderlike bedryf te wees!”


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies