Menu terloops
In Recaps & Resensies [24 Jul 2025]

‘Die brug’ S2: Eers vreugde, toe frustrasie ná woeste kinkel


Net toe Suidhuis gedink het dis tyd vir feesvier, het ‘Die brug’ hul (weer eens) herinner dat dié speletjie baie wreed kan wees…

Deur Annelene Oberholzer

Kyk 'Die brug S2' op DStv Stream

‘Die brug’ S2: Eers vreugde, toe frustrasie ná woeste kinkel

“Gaan groot of gaan huis toe,” was Wilhrisca se wens vir die voorlaaste episode van Die brug. Maar wie gaan die grootste gaan? En gaan die “duur spykers” die antwoord wees of gaan die spanne met ’n paar vermiste dromme en stukkende drome die pylvak aandurf?

Kykers sal onthou dat die pos-kan die woord “Hupstoot” na die spelers gebring het. Die spanne moes kies: Of een speler gaan onmiddellik huis toe in ruil vir 300 spykers wat gaan help om vlotte vinniger te bou, of hulle moet vasbyt met al hul spelers en sonder daardie hupstoot die laaste vlot te water laat.

By Noordhuis het leier Wilhrisca gevoel daar’s nie plek vir twee leiers nie – en Lelani moes haar tasse pak. By Suidhuis het Elsje die span van ’n moeilike besluit gered en haarself gewillig verklaar om die houthuis te verlaat.

Met nog net twee bou-dae oor is dit Suidhuis wat vir die eerste keer die meeste vlotte in die water het.

Nou wat nou?

Dis Jaco by Suidhuis wat met ’n skitterende plan na vore kom rondom die 300 spykers. “Ek het gedink aan die middelpaal – dat ek hom vasmaak met tou eerder en hom dan vasslaan met spykers aan die kantpale. Dan maak ons vyf ekstra vlotte met spykers.”

“Dit is vlymskerp,” kom dit van Johan en Hanri besluit Jaco is so skerp, hy moes in die messelaai geslaap het. Terwyl Jaco nog vertel hoe hy spykers gaan slaan dat die vonke spat, verbreek die lughoring die span se oggendritme. Boudag 12 het aangebreek.

Maar daar wag ’n verrassing op hulle toe hulle by hul werkstasie aankom. Dis dan nou so ver vorentoe. Wat het gebeur? Dan sien hulle die boodskap: “Lees my”.

“Dit lyk nie goed nie,” kom dit van Hilana by Noordhuis waar hulle deur dieselfde boodskap gekonfronteer word.

“Ek kon dadelik nie dromme, planke of tou sien ronddryf sien nie. Dit was vir my baie vreemd. Dis asof dit gesteel was,” is Tiaan se reaksie. 

Twaalf ure vroeër

Wel, dit was toe nie die laaste sien van die twee houthuis-kantiene nie. Elsje van Suidhuis en Lelani van Noordhuis was nog lank nie klaar met Die Brug nie . . . Hulle kon vir oulaas nog een daad verrig wat ’n impak op die spel gaan hê.

die brug
Elsje en Lelani het elkeen ’n laaste brief ontvang. Foto: Skermgreep

Toe hulle van die onderskeie houthuise wegtrek, het elkeen ’n brief ontvang. Gaan hulle ’n selfsugtige keuse vir finansiële voordeel maak of gaan hulle dalk hier op die laaste nog ’n verskil kan maak vir hulle span?

In die kassie wat saam met elkeen se brief gekom het, is daar R100 000 kontant. Om dit te verdien moet daar vyf vlotte van elk van die houthuise se brûe verwyder word. As ’n speler sou kies om vyf vlotte van net een van die houthuise te verwyder, word daardie speler se kontant na R50 000 verminder.

Lelani sê sy weet wat sy gaan doen. Ja, Wilhrisca se besluit om haar te laat gaan, was beslis nie een wat Lelani net so gaan aanvaar nie. Sy neem ’n klipharde besluit om die nuwe leierskap op die proef te stel. Haar lojaliteit aan die span self is nou van mindere belang . . . “Ek hoop die son skyn flippen warm môre. Hulle gaan môre k*k,” lag sy.

Die brug
“Ek hoop die son skyn flippen warm môre. Hulle gaan môre k*k,” het Lelani gesê nadat sy besluit het om haar eie span ’n hou toe te dien.

Elsje besef hoe belangrik haar besluit vir haar Suidhuis-span gaan wees. En sy baseer haar keuse daarop. Die prys van lojaliteit tussen die twee spelers verskil hier soos dag en nag.

Terug in die hede

Johan kan sy oë nie glo toe hy lees dat Lelani vyf van Suidhuis se vlotte verwyder het nie. Dis soos ’n hou in die maag en die span sukkel om dit te verwerk.

By Noordhuis is die skok dubbel so erg want Lelani en Elsje het elk vyf vlotte van hul brug verwyder. Hulle is nou 10 vlotte kwyt – en hulle was reeds agter Suidhuis die vorige dag. Anesca is absoluut uitgeboul. Lelani was die allerlaaste mens van wie sy dit sou verwag.

By Suidhuis is Hanri oortuig dat Elsje die regte besluit sou neem toe die span besef alles wat by Suidhuis gebeur, moet ook by Noordhuis gebeur.

Die brug
Anesca se woede oor Lelani se verraad het in trane verander. Foto: Skermgreep

By Noordhuis is Rechaux ewe ontsteld. Nie eers vir driekwart van die prysgeld sou sy dit gedoen het wat Lelani nou aangevang het nie. Maar gaan hulle tou opgooi? Gaan die Noordhuis daarin slaag om hul moraal uit die modder te lig? Dis net Hilana en Tiaan wat spykers kap, maar daar’s ’n wrewelrigheid onder die spelers wat die druk verder opjaag.

“Hoe de f*k gaan ons 20 vlotte in ’n dag bou? Dit is impossible,” kom dit van Rechaux terwyl Anesca se trane oor haar wange stroom, trane van woede. Sy wil sommer alle vloekwoorde in alle tale wat sy ken, inspan. Maar Wilhrisca is nie gelukkig met dié twee nie. Hulle klets meer as wat hul spykers inkap…

Hulle het wel 13 vlotte te water gelaat, maar die agterstand het toegeneem. Hulle is nou nog ’n verdere twee vlotte agter.

Dié twee se geklets het Wilhrisca warm onder die kraag gemaak. Foto: Skermgreep

Daai fakkel

Wat hou die woord “Leeflyn” in vir die twee houthuise wat in so ’n kort tydjie nou al byna soos ’n tweede tuiste vir die spelers voel? Net twee spelers kan boodskappe van hul geliefdes ontvang. En elk van die spanne moet self besluit watter twee spelers hierdie boodskappe gaan ontvang.

Moedeloos, emosioneel, uitgemergel. Die hoop lê laag en die trane vlak.

By Suidhuis sê Hanri sy is bereid om uit te sit. En Johan skaar hom by haar. Dis Jaco wat eerste deur hulle gekies word om daardie hartsboodskap te ontvang. Melissa staan 100% agter hierdie besluit en voel ook dat Hirome die ander een is wat ’n boodskap van die huis moet kry.

Noordhuis besluit dat dit Rechaux en Anesca is wat hul boodskap moet ontvang. “Maar jy’t ook ’n kleintjie by die huis,” kom dit van ’n snikkende Anesca aan Wilhrisca. “Dis oukei,” troos Wilhrisca haar.

Hirome vertel hoe lekker dit was om sy ouers te sien want “dis die mense wat my gekies het na álmal my verwerp het” en dat hy diep dankbaar is dat hy sy boodskap kon kyk.

Die brug
Hirome was baie emosioneel oor die boodskap van die huis af. Foto: Skermgreep

By Noordhuis vier emosies ook hoogty. Rechaux sê haar hart het in 10 000 stukke gebreek toe sy almal sien en besef hulle is oukei. Wilhrisca sukkel om haar trane terug te hou, maar sê sy het een vir die span gevat deur die kans aan Rechaux en Anesca te gee omdat sy besef het dat hulle geestelik en emosioneel nou op hul swakste is. Hilana is, soos altyd, byderhand om te troos.

“Liewe Jesus, jy moet weet, hy beskerm jou in jou hart as jy bang is. God ook,” is Anesca se dogtertjie se gebed vir haar. Saam voel sy en Rechaux of hulle nou ’n tweede asem gekry het.

Suidhuis se Johan kan nie heeltemal in woorde uitdruk wat dit vir hom beteken het om daardie videoboodskap van sy gesin te kon kyk nie. Saam besluit hy en Hirome om hul geliefdes trots op hulle te maak. Praat van motivering!

Ook Jaco kon nie die trane keer nie. Foto: Skermgreep

Die laaste bou-dag

“Tien vlotte, dis ’n klipgooi weg,” kom dit van Melissa nadat Johan ’n inspirerende boodskap met sy Suidhuis-spelers gedeel het.

“Maak nie saak wat aan die einde gebeur nie, ’n wenner stop nooit voor die wenpaal nie,” is Wilhrisca se boodskap aan die Noordhuis-spelers.

Wie se innerlike krag en fisiese vermoëns gaan vandag sëevier? Almal se energie is in die rooi, maar hul moed registreer volspoed op die meter. 

Nul tot 100 in 13 dae!

Daar word getimmer, geknoop (toue en woorde!) en gehoop dat daardie 100ste vlot eerste aan die ander kant gaan kom. Wie gaan dit wees – Noordhuis of Suidhuis? 

Die laaste bietjie! Foto: Skermgreep

Noordhuis kon sien die laaste paar Suidhuis-vlotte word deur die water getrek en dit het onwerklik gevoel. Alhoewel Melissa effe jammer vir Noordhuis gevoel het, was sy vasbeslote dat hulle Suidhuis-span hierdie brug gaan oorwin. Dis Jaco wat eerste aan die eiland raak.

“100 vlotte, 10 ton met ons hande,” kom dit van Hanri terwyl die span van vyf oor die brug loop. En tussendeur onthou hulle hul spanmaats wat reeds huiswaarts moes keer. Dis Hanri wat die fakkel seëvierend die lug instuur waarna van die ander spelers ook triomfantelik ’n beurt kry om dit vas te hou.

Suidhuis het dit eerste tot by die eiland gemaak. Foto: Skermgreep

Noordhuis wil nie bes gee nie. Tiaan en Hilana bly aan saag, hierdie span gaan bly bou tot waar hulle nie meer kan nie. Maar van die realiteit kan daar nie ontsnap word nie. As hulle net nog daai 10 vlotte gehad het, was hulle lankal daar. Maar Lelani se skaakmaat-skuif het hulle heeltemal uit die prentjie gehaal. Hulle het nog sewe vlotte gekort om die wenstreep te haal. Wilhrisca sê sy het al baie harde lesse met verloor geleer, maar die belangrikste is: “You win gracefully, you lose gracefully”.

Die regte kombinasie

Dit lyk asof Suidhuis oor die regte spankombinasie beskik het, maar wat nou belangrik is, is om uit te vind wat die kombinasieslot se kode is wat die skatkis veilig hou. Dis Hanri wat die kode op die kis ontsyfer en Melissa wat die slot daarmee oopmaak. En daar is nog ’n briefie . . . Gaan hier nog ’n kinkel wag?

Jaco se moed val tot in sy skoene toe hy besef daar’s dalk nog iets op hul pad en hy glo as hy nou nog iets moet bou, hy dit nie sal maak nie.

Die eiland openbaar nog ’n skokkende uitdaging!

“Geluk, julle is halfpad” lees Melissa voor.  Nie een van die spelers kan hulle ore glo nie. Toe gaan Melissa voort: “Die skatkis waarna julle op soek is, is aan die ander kant van die eiland, 150 m van die oewer af, onder die groen toring”.

Die brug
Dié boodskap het Suidhuis se gemoed laat sak… Foto: Skermgreep

“Die ‘halfpad’ was ’n harde hou,” erken Johan. 

Dan is daar nog ’n brief wat aan ’n boom op die eiland hang wat wag om gelees te word. “Om die skat te eis, moet julle die groen toring bereik met ’n brug voordat die son môre onder gaan. Dit is onmoontlik om ’n 150 m-brug in een dag te bou. Die enigste manier hoe julle betyds by die groen toring kan uitkom, is met die hulp van die ander span en hulle brug. Julle sal moet onderhandel. Maar daar is slegs twee opsies om te oorweeg.”

Sou die Suidhuis die eerste opsie kies – om Noordhuis se brug vir maksimum R100 000 te koop, sal slegs Suidhuis-spelers kan kies watter speler oor die brug na die groen toring sal loop. Hoe aanloklik gaan die tweede opsie vir Suidhuis wees? Dis die een waar hulle Noordhuis kan nooi om saam met hulle te span. Dan sal al die spelers stem vir die een persoon wat hulle as die waardigste ag om na die groen toring te loop en die skat te eis.

Watertand-verwelkoming

Nadat Suidhuis hul besluit geneem het, keer hulle huiswaarts. Min het hulle geweet wat op hulle wag. Kebabs, tjoppies, avokado’s, burgers, skyfies, noem maar op – alles wat lekker is. “Ek dink ons wou almal begin huil want as ek nog een dag rys eet, gaan ek dit nie maak nie,” erken Hanri.

Selfs Noordhuis vind baat by hierdie fees toe hulle by Suidhuis aankom. Soos Tiaan opmerk: “Daai biltong het vir my geloer!” 

En nou moet daar ernstig gesels word . . .

Watter span gaan die slimste speel? 

Johan word deur Suidhuis aangewys om die onderhandelinge met Noordhuis te hanteer. Hy lig hulle in dat die eiland bloot net die halfpadmerk in die soeke na die skatkis was. 

Die eintlike skatkis… En nou het Suidhuis vir Noordhuis nodig om dit te bereik… Foto: Skermgreep

Wenkbroue het gewip en daar kon gesien word hoe die ratte in die Noordhuis-spelers se koppe begin inskop oor wat moontlik nog kan gebeur. “Ons het julle brug nodig vir dit,” kondig Johan aan. Noordhuis is heel gewillig, tot waar Wilhrisca in ’n oomblik van helderheid noem dat hulle daaroor kan onderhandel. Tiaan, daarenteen, was aanvanklik bereid om dit sommer verniet vir Suidhuis te gee.

Gaan Johan se eerste aanbod van R50 000 voldoende wees? Maar Rechaux is ook nie onder ’n kalkoen uitgebrei nie. Sy sien die potensiaal van onderhandeling teen ’n baie hoër prys. Hilana stem saam – en Tiaan is die een wat nou daarop aandring om die brief te lees wat Suidhuis ontvang het.

Maar, ontken Suidhuis, daai briefie is op die eiland agtergelaat . . . en Hirome word stilweg aangesê om die brief te laat verdwyn. Tiaan is stadigaan besig om ’n rot te ruik. Noordhuis gaan vir R50 000 élk vra. En dis Wilhrisca se taak want haar span glo sy gaan vir niks terugstaan nie. Johan is heeltemal ontwrig deur die versoek. 

Gaan Wilhrisca se voorstel dat, indien hulle nie R30 000 elk gaan ontvang nie, sy gaan opstaan en uitloop, vrug afwerp? Maar Hilana wil eers onderhandel . . . Sy sal tevrede wees met R15 000-R20 000.

Noordhuis se meerderheidstem is egter nie geneë om Johan se aanbod van R20 000 per persoon te aanvaar nie. Onthou, hy mag nie R100 000 oorskry in sy aanbod nie. “Hulle kan maar daai R20 000 vat en in hul g*tte opdruk,” is Tiaan se oorwoë mening.

Die brug
Wantroue vier hoogty tydens die onderhandelinge… Foto: Skermgreep

Volgende keer

Johan sukkel om Wilhrisca se “taaigat-geit” te verwerk. Maar sy is baie seker dat die opsie wat Johan aan hulle verduidelik het, wel die enigste opsie is. Wantroue vier hoogty. Tiaan volstaan daarby dat hy die brief op die tafel gesien het. En Wilhrisca maak dit duidelik dat as die skoen aan die ander voet was, sy oop en eerlik met Suidhuis sou wees.

Dae van frustrasie kook oor en humeure vlam op . . .


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies