Menu terloops
In Recaps & Resensies [3 Jul 2025]

‘Die brug’ S2: Bomskok én ’n gebroke bondgenootskap 


Eers was daar snot en trane én toe begin die wantroue onder van die spelers inkruip in vandeesweek se episode van ‘Die brug’.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk 'Die brug S2' op DStv Stream

‘Die brug’ S2: Bomskok én ’n gebroke bondgenootskap 

In die vorige episode van Die brug, was dit Noordhuis se spelers wat eerste 50 vlotte te water gelaat het en só die halfpadmerk gehaal het. Tydens ’n braai om hul sukses te vier – en  waarheen Suidhuis se spelers genooi is – was daar biegsessies, ’n bietjie skinder en ’n baie ongelukkige Luwellen . . .   

Word grense afgebreek?

“Ek voel soos die weeskind, soos wat ek was toe ek grootgeword het,” erken Wilhrisca by Suidhuis. Sy sê sy besef ook sy’s ’n moeilike mens en die Suidhuis-spelers is nie die eerstes, of die laastes, wat dit ook vir haar sal sê nie.

Dis Melissa wat besluit om Wilhrisca se persoonlike spasie te betree om uit te vind of daar iets is waarmee sy kan help. Van die hardekwas-Wilhrisca is daar min te bespeur met emosies wat hoogty vier. “Ek kan haar nie red nie, maar ek kan ’n skouer vir haar wees,” sê Melissa en noem dat dit haar hart breek omdat Wilhrisca haarself vir alles blameer.

“Ek het nie daai voorbeeld gehad van iemand wat in-check nie,” kom dit tussen Wilhrisca se trane deur.

Wilhrisca, Die Brug S2, kyknet
Daar was geen einde aan Wilhrisca se trane nie… Maar Hanri wonder of dit effe aansit is. Foto: Skermgreep

Die einde van . . .

Vir die eerste keer is altwee spanne volledig betrokke by die bou van die vlotte. Daar word nie weer ’n waarnemende speler aangewys nie. By Noordhuis vloei die positiewe energie. 

Maar vroegoggend gaan daar ’n fakkel af, nog voor die alarm wat die dag se werksaamhede aankondig. Gaan die spelers van beide houthuise die pos-kan se boodskap kan hanteer? Emosies is maar dun geskaaf in hierdie stadium en daar’s altyd die onsekerheid wat immer voort woeker. “Die brug het gegee . . .” kom dit van Noordhuis se Lelani. Soos ’n koor kom dit van die res: “Nou gaan hy vat.”

“Magspel”

Die pos-kan se boodskap is “Magspel” en dit is duidelik dat nie een van die spelers dink dit is ’n goeie boodskap nie. Almal is benoud.

By Noordhuis is dit Johan en by Suidhuis is dit Luwellen wat die boodskap aan die onderskeie spanne voorlees.

“Soms is daar net ’n hartklop tussen wraak en vergifnis. Verskuiwings is moeilik en om aan te pas by ’n nuwe huis, is uitdagend. Wat julle wel tot julle beskikking het, is inligting oor die ander houthuis se spelers. Julle kan dit nou gebruik om hul bouproses te hinder.”

En toe kom daar die kinkel wat niemand ooit in hul wildste drome kon verwag nie. Gaan dit ’n geval van soete wraak wees, of soos Luwellen in ’n vorige episode voorspel het: “Revenge is a dish served very cold”?

Niemand het dié kinkel sien kom nie… Foto: Skermgreep

Vir die eerste keer het die twee underdogs, Hilana en Wilhrisca, die hef in die hand. Hulle altwee is tot nou toe kliphard deur die res van die spelers geteiken en nou moet húlle besluit watter speler van die ander houthuis onmiddellik die spel moet verlaat. Die skok is duidelik. Wilhrisca bars in trane uit. Vir wie gaan sy kies? En vir wie gaan Hilana kies? Gaan haar plan om haar span by die besluitneming te betrek, die beste manier vorentoe wees? 

Ook Wilhrisca volg ’n soortgelyke benadering. Emosies moenie ’n rol speel in hierdie besluit nie, maar dis nie so maklik om dit te ignoreer nie. Tog is dit ’n makliker keuse vir een van die twee om te maak.

‘You’ve got mail’

Kort voor lank het die twee hul keuse gemaak en is die besluit per boot na die onderskeie houthuise geneem.

By Noordhuis sit Lelani se trane vlak. Sy is ’n absolute senuweebol, nie net oor wat moontlik op haar wag nie, maar ook op die res van haar span. 

“Ek is jammer,” begin Hilana voordat sy die res van Noordhuis inlig oor wie deur Wilhrisca gekies is om die huis te verlaat. Toe huil almal.

kyknet, die brug, durand
Die koebaais was swaar toe Durand sy sakke moes pak. Foto: Skermgreep

“Jy hoop so half jy maak dit tot aan die einde saam met hulle,” maar vir Durand is die pad met Die brug nou klaar. En dis ’n harde slag, want hy het werklik sy álles gegee vir die span. En hy hou nie van verloor nie. Dis ’n verslae groepie wat agterbly met die besef dat hulle nie gedink het hulle sal so gou geheg kan raak aan iemand nie.

By Suidhuis gaan dit nie veel beter nie. “Guys, ek het dit verwag. So, nou niks trane vir my nie. Orraait, let’s go,” is hoe Luwellen die nuus aanvaar.

Nou is daar net ses spelers oor in elke span. Gaan dit so bly?

kyknet, die brug, luwellen
Luwellen was glad nie verbaas oor wat gebeur het nie. Foto: Skermgreep

‘Hierdie is nou my familie’

By Suidhuis is dit Jaco wat homself al meer dryf. Hy erken sy vrou en sy kinders is alles vir hom, maar nou is Suidhuis se spelers ook sy familie. “Ek vra nie vir mense vir hulp nie. Ek wys ook nie vir hulle as ek hulp nodig het nie want ek probeer dit maar vir myself hou,” vertel hy.

Jaco noem dat hy 12 jaar gelede deur ’n baie slegte tyd gegaan het. Hy het sy eie besigheid gehad en hy het “briljant” gedoen. Maar hy het druk ervaar om by sy vriende in te pas en dieselfde goed te doen as hulle. “Ek het dwelms begin gebruik. En ek het net in daai gat getrap en ek kon net nie daaruit kom nie. En toe’t ek my besigheid verloor.

“Ek het daai aand seker 4 gram CAT gevat en omtrent 8 ecstasy(-pille) . . . want ek was net moeg vir die lewe, moeg van al die stres, moeg vir die worry.”

Sy swaer het daardie aand na hom toe gery en toe hy weer sy oë uitvee die volgende dag is hy by ’n rehabilitasiesentrum ingeboek. “In daai tyd wou my vrou my ook skei. So, dit was nie net die battle van die dwelms nie, maar ook die battle om my huwelik te red. Ek het daar uitgestap [by die rehabilitasiesentrum] en nooit weer teruggekyk nie,” en met dié vee hy die trane weg. 

Dis nie maklik vir hom om hieroor te praat nie. Maar vandag is hy trots op die persoon wat hy geword het. Hy wou bewys dat mense kan staatmaak op hom en “dis hoekom ek hierdie brug bou.”

Byna-byna ’n ramp

By Suidhuis gaan dit sukkel-sukkel sonder een van die sterker manne wat huiswaarts moes keer. Wilhrisca is in die kano en sy probeer die plastiekdromme bymekaar bring – maar sterk wind en ’n lastige tou laat haar in die water beland.

Dis Elsje wat gaan help en Wilhrisca wal toe bring. Om haar self ’n bietjie te kalmeer, besluit Wilhrisca dat sy nie weer op die water gaan nie maar liefs orde by die huis gaan skep. Sy sê dis die derde keer in haar lewe dat sy byna verdrink het.

Maar haar werkywer weg van die vlotbouery mag haar dalk net weer vol in die visier van haar spanmaats en hul wantroue plaas. Elsje dink Wilhrisca is moedswillig en dat sy die bouproses doelbewus vertraag. 

Maar sy mag dalk verkeerd wees. Wilhrisca se senuwees is aan’t flarde en sy sien beslis nie weer kans om in die kano te klim nie. “Ek is nie hier om my lewe vir hulle op te offer nie, baie jammer,” kom dit van haar.

“Dit was ’n baie harde dag. Party dae is jy onder . . . letterlik,” sê Hanri nadat haar spanlede haar uit die water moes trek omdat Lientjie, die kano begin sink het. Sy sê dit het gebeur toe sy net ’n oomblik lank konsentrasie verloor het. Gelukkig kon Hirome dit met een enkele haal van onder die kaai na bo bring.

Halfpad

Dit neem langer as wat die Suidhuis-spelers voor gewens het om die 50ste vlot te water te laat. “Dit was nie lekker nie. Dit was maar half ’n antiklimaks, maar ons het nie opgegee nie,” sê Hanri. Die Noordhuis-spelers juig baie entoesiasties toe Suidhuis die halfpadmerk bereik, feitlik ’n halwe dag later as hulle.

Vlot-telling

Ná die 8ste boudag raak Suidhuis nog verder agter. Hulle moet nog 49 vlotte bou om by die skatkis uit te kom terwyl Noordhuis net 43 vlotte kortkom. Hierdie wete is dalk net die vonk wat Suidhuis kort om vuur onder hulle te maak. 

Toe die lughoring vir die negende dag van vlotbou afgaan, bestorm hulle die bouplatform soos een mens. Hulle is lús vir hierdie dag en het boonop hul strategie aangepas rondom die bouery met die hoop op meer sukses. Jaco doen inspeksie op die vlotte en maak vas waar die toue losgekom het. Toe Wilhrisca hulp gaan verleen, klap die tonge op die bouplatform. Elsje, Hanri en Melissa is krapperig.

“As jy sulke lang naels het en jy’t nog nie ’n nael gebreek nie, werk jy nie hard genoeg nie,” kom dit droogweg van Hanri terwyl sy opmerk dat al die dromme wat losgekom het, die dromme is wat deur Wilhrisca aanmekaar geknoop is.

Verrassing of foutjie?

Terwyl Suidhuis se spelers deur ’n wipwarit van irritasie en samewerking gaan, is Noordhuis besig om stilletjies vir ’n verrassing voor te berei. 

Suidhuis mag dalk voel hulle is besig om op te vang, maar intussen bou Noordhuis vlotte vir die vale – maar steek dit weg om die draai sodat die opposisie nie kan sien hoe goed hulle vorder nie.

Daar’s ’n drom in die drinkwater . . .

Terwyl Wilhrisca ’n badkamer-breek vat, gaan die span voort om vlotte te water te laat. Maar weer kom daar van die dromme los. En, volgens Hanri, is dit juis die dromme wat Wilhrisca aan die vlotte vasknoop wat telkemale loskom.

Is dit sabotasie of bloot toevallig?

Wantroue 

Terwyl Noordhuis se spelers een ná die ander vlot voltooi en alles oënskynlik seepglad verloop, is daar diep roeringe in die water. Die twee manne begin strategie praat oor wie oor die brug gaan stap. En kan hulle die vier vroue vertrou? “Ek en jy is die meeste van die tyd hier besig om te saag. Ons weet nie watse gesprekke daar aangaan nie.”

Ja, hulle twee sal die kat goed uit die boom moet kyk om uit te vind wie hulle aan hulle kant kan kry.

Agterstand

Ten spyte van die kriewelrigheid by Suidhuis het hulle wel daarin geslaag om die agterstand met hul vlot-telling te laat krimp. Hulle moet nog 41 vlotte voltooi. Noordhuis moet nog 37 bou. 

Maar gaan die gees en die vlees sterk en gewillig genoeg wees om voort te veg? “Jy voel soos ’n pap snoek,” som Hirome van Suidhuis dit op.

Volgende week

Die fakkel wat in die lug in opgestuur word, laat die spanne weer angstig voel. Ja, dit is mos die een ding waarvan jy seker kan wees op Die brug, en dis dat niks ooit werklik seker is nie.

Dis tyd vir die winde van verandering om te waai. En dit waai wyd en syd. En met twee briewe in die kan waai dit ’n paar skokke tot diep binne-in die hart van die twee houthuise.

“Die brug is nie regverdig nie,” moet Elsje maar gelate aanvaar.


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies