Spoed is nie vir almal nie, maar vir hierdie mense is dit a way of life. En hulle sal dit vir niks en niemand ruil nie. Dis die adrenalien, dis goed-voorbereide motors en dan die hoop om daardie 400 m die vinnigste kaf te draf. Hier is wat ons geleer het – en mense wat ons ontmoet het – tydens die sewende episode van Op skou, kykNET se realiteitsreeks oor buitengewone kompetisies.

Ontmoet die jaers
Dian Meyer, Krugersdorp
Dian (34) is ’n renjaer en versnelrenne is sy passie. Hy onthou as kind het sy oupa met motors rondgespeel en gebou, klankstelsels vir die motors geïnstalleer en die wielvellings (mags) aangepas.
Dian noem dat daar baie geleenthede is om te kompeteer, maar die begroting moet tog wel dopgehou word. Die vier renbane is by Midvaal (Johannesburg), Dezzi (Durban), Aldo Scribante (Gqeberha) en Killarney (Kaapstad).
Hy en sy vrou, Anja, wat hom van laerskooldae ken en toe al ’n crush op hom gehad het, is al 14 jaar bymekaar en het 10 jaar gelede voor die kansel beland. Hy was toe reeds doenig met motors en van die eerste dag af het sy hom daarin ondersteun. Sy ouers was aanvanklik nie so ondersteunend nie, tot waar hulle een dag kom kyk het. Vandaar mis hulle geen byeenkoms nie. Sy grootste ondersteuners is egter sy seun, Xavier, en dogter, Skylar.
Dian het sy Toyota Corolla tydens ’n versnelren by Tarlton teen ’n spoed van nagenoeg 210 km/h afgeskryf, waarna ’n vriend, Morné Oosthuizen, vir hom ’n ander motor gegee het om op te bou. Fisiek het Dian net ’n klein merkie opgedoen, maar emosioneel het dit wel ’n groot tol geëis.
Gunther Bronkhorst, Potchefstroom
“Ek kan julle wys wat is ’n burn-out as julle ’n burn-out wil sien,” bied Gunther fluks aan. Hy het sy eie besigheid vir die afgelope agt jaar, maar buite werksure is daar vir hom net een ding: versnelrenne.
Hy vertel dat sy liefde vir spoed van sy pa af kom, maar dat hy die enigste een is wat aktief jaag en hy doen dit vir die afgelope twee jaar. “Enigiets waarin ek klim, wil ek vinnig ry. En hoe vinniger ek dit kan ry, hoe beter.”
Sy verhouding met versnelrenne het begin met een van daardie ikoniese Nissan-bakkies (1600 cc) wat hy by ’n vriend gekoop het. Hy wou dit in ’n “rustige straatbakkie” omskep en het by Kabouter Oosthuizen op die dorp gaan aanklop om dit in een te verander. Kabouter het hom uitgelag . . . want Kabouter het geweet dis net die begin van iets nuuts.

Kort voor lank het hy egter met die einste Nissan na die Midway-renbaan gegaan. En met sy terugkeer huis toe was die koeël deur die kerk. En hoe hy sy tweede bakkie in die hande gekry het, is nog ’n storie waarna geluister moet word.
Sy droom: Maryland in Amerika se opwindende renbaan. In sy eie motor.
Intussen, met Dian se nuwe motor, het daar komplikasies ingetree met mense wat nie hul kant gebring het nie. Dis waar die groter familie inskop, want Gunther het hom genooi om na hulle werkswinkel in Potchefstroom te kom waar hulle gaan hand bysit om hom renvaardig te kry.
Gunther vertel dat sy vrou, Michelle, aanvanklik nie van die jaery gehou het nie. Deesdae skuif sy sommer self agter die stuur in – en jaag vir hom weg . . . Vyf jaar gelede is sy met skildklierkanker gediagnoseer en dit het sedertien versprei. Maar hulle stry voort daarteen. Intussen het Gunther self onlangs uitgevind alles nie wel is met hom nie. Groeisels is op sy lugweg en longe gevind. En sy hart is nie heeltemal gesond nie. Maar hy sê sy vrou, sy kinders en karre hou hom positief.
Johan “Kabouter” Oosthuizen, Potchefstroom
Beter bekend as Kabouter, neem Johan al vandat hy 16 jaar oud was, deel aan renne. En toe Gunther hom nader vir daardie “straatbakkie” het hy hom uitgelag want hy het geweet dit gaan veel verder gaan. En hy was in die kol. Tussen hulle twee en ander gewillige hande het die beskroomde Nissan-bakkie in ’n brullende spiertier ontaard.
Kabouter glo hierdie klein parmant het die potensiaal om die tweede vinnigste A-1400 in die wêreld te wees.
Gunther se span
Dulan van der Merwe is Gunther se persoonlike motorwerktuigkundige en Kabouter is sy oom. Dan is daar Johan ‘Mossie’ Mostert, Kabouter se swaer, wat vir solank as wat Kabouter aan renne deelneem, ook daar ondersteuning verleen.
Casper Combrinck, Boksburg
Casper is baie trots op sy BMW G80 M3, die eerste en enigste een in hierdie stadium in die land wat met ’n enkel-turbo aangejaag word. En ja, dis ook die vinnigste een in Afrika.
Sy pa het met motorfietse grootgeword, en later het hy en Casper aan die motorfietse bly timmer en daarmee aan renne deelgeneem. Dit was tot waar hy in 2018, volgens homself, ’n “midlife crisis” gehad het. Die krisis het opgedaag in die vorm van ’n Golf 7.5 R . . . Vandag droom hy om sy Springbokkleure in die sport te verwerf.
Aan sy sy is Tanya. Hulle ken mekaar reeds 24 jaar en het 22 jaar gelede in die huwelik getree. “Sy haat die sport, sy haat die feit dat ons vinnige karre jaag,” erken Casper. Hy vertel hulle twee was op ’n Vrydag die 13de in ’n ernstige ongeluk betrokke toe ’n ander persoon in sy Jeep die stopstraat verontagsaam het. Tanya was ses maande swanger en hul seun is vroeggebore as gevolg van die ongeluk. “Dit was ’n helse storie,” sê Casper. En sy sê dis waarskynlik hoekom sy ná al die jare steeds effe senuweeagtig rondom motors is.
Suid-Afrikaanse nasionale kampioenskappe, Killarney


Dis Gunther se eerste kennismaking met die Kaapse renbaan en hy is ’n bietjie senuweeagtig. Al wat hy wil doen, is om ’n goeie tyd op te stel met sy bakkie.
Op sy beurt wil Colin weer die rekord breek want as daar hier ’n rekord gebreek word, word dit internasionaal erken.
Maar gaan almal die baan haal?
Op Skou saai uit op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Op Skou se episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.







