In verlede week se episode het Martine Steyn van Kaapstad koning gekraai met R70 000 in haar sak. Gaan iemand dalk in hierdie week se episode van kykNET se vasvraprogram Wie word ’n miljoenêr dalk met meer geld huis toe gaan?
Die ses spelers
- Louis Esterhuizen (Stellenbosch)
- Joshuan du Toit (Pretoria)
- James Styan (Kaapstad)
- Marlin Brown (Strand)
- Cobus Botha (Pretoria)
- Antoinette le Roux (Klein-Brakrivier)
Die eerste vinnigste vingers
Watter van die ses splinternuwe spelers is tydgewys die vlytigste denker met die vinnigste vingers? Verskillende tye moet van vroeg tot laat rangskik word, en as daar vinnig gedink moet word, kan dit soms dinge deurmekaar krap.
Marlin en Antoinette is wel in die kol, maar dis James (43), oud-joernalis en deesdae staatsamptenaar, wat met 9.115 sekondes nie net die tyd in die regte volgorde het nie, maar ook die vinnigste vingers gehad het.
Alhoewel James erken die vrae tot en met die eerste vangnet van R10 000 het hom by tye goed laat twyfel, is sy antwoorde korrek en gaan hy ten minste met R10 000 in sy beursie huis toe.
Hy stel sy tweede vangnet op vraag 11 met die hoop op R70 000 in die sak. Maar voordat dit kan gebeur, het die programaanbieder, Rian van Heerden, eers ’n paar ander vrae om te vra.
James werk in die burgemeesterskantoor in Kaapstad en Rian wil weet hoeveel van die besoeke aan mense word voor die ontmoeting opgestel.
“Party ouens, ek kan nou eerlik vir jou sê, ek het al met baie met hulle gewerk. Maar dié man is genuine. Geordin Hill-Lewis. As ons lees in die koerant ’n tannie word 100, dan sê ons laat hy vir die tannie gaan kuier,” vertel hy. Maar Rian soek daai kuiers sonder die kameras . . .
As oud-langafstandatleet en met sy algemene kennis is James in die kol met Roger Bannister as die eerste mens wat op 6 Mei 1954 die myl amptelik onder vier minute voltooi het. Daarmee skuif hy op na R20 000.
Tussendeur vra Rian hom uit oor die vyf boeke wat hy al die lig laat sien het.
Sy eerste boek was oor Eskom (Blackout: The Eskom Crisis) in 2015 en sy tweede een handel oor die hartpionier Chris Barnard (Heartbreaker: Christiaan Barnard). The Bosasa Billions, Steinhoff: Inside SA’s Biggest Ever Corporate Crash en The Dirty Secrets of the Rich and Powerful maak van hom een van die land se dapperste onafhanklike skrywers, aldus News24.
Die vraag oor in watter stad die Russiese Revolusie in Februarie 1917 begin het, laat hom bietjie kopkrap alhoewel hy glo hy weet wat die antwoord is. Tog besluit hy op die 50-50-hulplyn omdat hy so effe aan sy antwoord twyfel en hy moet kies tussen Sotsji en St. Petersburg.
Hy volstaan by St. Petersburg, wat hy aanvanklik gedink het is die korrekte antwoord. En dis inderdaad in die kol!
Met Djiboeti as ’n instink-raaiskoot beland James op die R70 000-vangnet. Maar gaan hy weet watter bekende skilder se broer is in April 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog in die Vrystaat oorlede?
James het ’n sterk gevoel dat dit Vincent van Gogh se broer kan wees, maar hy gaan sy “Bel ’n pêl”-hulplyn inspan en vir die bekende politieke verslaggewer Jan Jan Joubert bel. Jan Jan is baie seker dis Van Gogh en James besluit om dit as sy finale antwoord te kies. En daarmee bereik hy sy R70 000-vangnet!
Die vraag rondom watter hoof van ’n instelling nie organe mag skenk nie, wil-wil vir James uitknikker. Sy gevoel lei hom na die Rooms-Katolieke kerk – en sy gevoel land hom op R125 000!
Het jy geweet watter simbool op die kloktoring van die Pretoriase stasie ontdek is tydens restourasiewerk ná die 2001-brand? James fokus weer op sy gevoelens, maar besluit om sy laaste hulplyn te aktiveer – die gehoor.
Sowel James as die oorgrote meerderheid van die gehoor dink dis ’n kruis. Maar hulle is almal verkeerd! Dit was ’n swastika . . . maar voordat dit as Nazi-simbool ingespan is.
Die tweede vinnigste vingers
Vier balsporte moet in alfabetiese order rangskik word. Drie deelnemers is reg, maar dis Joshuan wat met 4.827 sekondes seker maak hy sit volgende in die vuurwarm stoel.
Joshuan (19), ’n mediese student van Pretoria, is die tweede jongste deelnemer ooit aan Wie word ’n miljoenêr. Hy maak korte mette van die eerste vrae en die R10 000-vangnet het sommer gou sy naam op. Hy kies vraag 10 vir R50 000 vir sy volgende vangnet.
Tussendeur vertel Rian dat Joshuan se pa, Kallie, ook vir Wie word ’n miljoenêr ingeskryf het. Volgens Kallie het hy “in beseringstyd uitgeval” want hy het die veelvuldige keusevraag gemis tydens die oproep toe hy volgens hom eintlik die antwoord moes weet. Maar volgende keer, belowe hy . . .
Toe die vraag opduik oor watter kolwer wat 400 lopies in ’n enkele beurt in ’n kriekettoets kon behaal het, is Joshuan slaggereed met die antwoord omdat sy pa onlangs met hom daaroor gesels het: Brian Lara.
En met daardie korrekte antwoord beland Joshuan op sy tweede vangnet van R50 000.
Taron Egerton wat “I’m still standing” in Sing, ’n animasiefliek gesing het voordat hy Elton John in Rocketman vertolk het, help Joshuan oor die vangnet.
“Ek is nog besig om hierdie ding in my kop uit te figure, dan’s jy al klaar met ’n antwoord,” kom dit van Rian. Hy is aansienlik beïndruk met die jong student se algemene kennis.
En hy wil summier meer weet oor die gidshondjie wat Joshuan grootmaak.
“Ek mag nie die krediet daarvoor vat nie,” kom dit van die nederige jongman.
“Ons het in 2020, net toe lockdown dit toelaat, ons eerste gidshondjie begin grootmaak”, vertel hy. Deel van die proses is dat die hondjie 12-18 maande by hulle gehoorsaamheid leer vanwaar dit daarna vir ses maande by die Gidshondvereniging afgerond word.
Die enigste land in Suid-Amerika wat aan sowel die Stille Oseaan as die Karibiese see grens, laat hom egter diep nadink. Hy kies die 50-50-hulplyn en dit maak vir hom sin dat die antwoord Colombië moet wees. En hy is reg!
Maar dan weerklink die sirene wat die einde van hierdie episode aankondig. Joshuan moet volgende week terugkeer met nog twee hulplyne tot sy beskikking!
Wie word ’n miljoenêr saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.