Wat om te kyk op TV en aanlyn te stroom hierdie week – hier is ons top-keuses.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
The Witcher S3
Deel 1 van die derde seisoen is vanaf 29 Junie 2023 op Netflix beskikbaar. Die tweede deel van die seisoen sal na verneem word kort daarna vrygestel word.
Indulge maar in hierdie laaste bietjie visuele genot van Henry Cavill se perfekte… beenstruktuur. Nee, dis nie die laaste seisoen van The Witcher nie, maar dit is wel die laaste keer wat Cavill as die magiese en magtige Geralt gaan verskyn. Vir geen goeie rede nie, is Liam Hemsworth gekies om Cavill in dié rol te vervang.
Met die aanvang van die derde seisoen, is daar allerlei vyande op Geralt, Ciri en Yennefer se spoor. Terwyl Yennefer vir Ciri help om haar towerkragte baas te raak, probeer Geralt hierdie klein gesinnetjie van hom van toenemende bedreigings en gevaar uit alle oorde te beskerm.
Hijack S1
Vanaf Woensdag, 28 Junie 2023, op Apple Tv+ beskikbaar om te stroom.
Soortgelyk aan Kiefer Sutherland se destydse aksierillerreeks, 24, ontvou Hijack ook in real-time. Die reeks, met die bekroonde Idris Elba in die hoofrol, word oor die verloop van sewe episodes vertel. Elk van die episodes verteenwoordig een uur van Vlug KA29 se sewe ure lange roete vanaf Dubai na Londen.
Elba vertolk die rol van ene Sam Nelson, wat vaagweg aan die kyker as ’n bobaas “business negotiator” voorgestel word. As terroriste dan die vlug kaap, besluit Nelson om hierdie onbepaalde vaardighede van hom te gebruik om die kapers kalm, en die passasiers lewendig, te hou.
Miss Scarlet and the Duke S3
Weeklikse episodes vanaf Maandag, 26 Junie 2023, om 20:00 op BBC Brit (DStv-kanaal 120). Ook op Catch Up beskikbaar.
Dié reeks speel af in Victoriaanse Londen en draai om Eliza Scarlet (Kate Phillips) wat ná haar pa se dood besluit om sy private speuragentskap oor te neem.
Baie soos in die Netflix-reeks The Law According to Lidia Poët, en die Enola Holmes-flieks, blyk ’n groot gros mans te dink dat dié bedryf nie vir ’n vrou beskore is nie. Wel, Scarlet – nes Lidia en Enola – steur haar nie… (Die reeksskepper, Rachael New, het immers haar karakter op dié van Elizabeth Bennet, die heldin in Jane Austen se Pride & Prejudice geskoei.) En nie almal klou aan ou oortuigings vas nie, soos haar vriend, die polisie-speurder William Wellington, oftewel “The Duke” (Stuart Martin). Saam-saam ondersoek dié twee misdade en los sake op, al hap hulle ook heeltyd na mekaar.
Dis ’n lighartige, tog aangrypende reeks, met Scarlet se vasberadenheid om haar plek te vind in ’n wêreld wat deur mans oorheers word, wat help om gravitas te gee.
Is it Cake, Too S2
Vanaf Vrydag, 30 Junie 2023, op Netflix beskikbaar om te stroom.
Die wêreld se top-bakkers ding mee om hiper-realistiese koeke te skep wat presies soos alledaagse voorwerpe lyk. Als van handsakke, naaldwerkmasjiene, ’n replika van die “Mona Lisa”, ’n bord burger en chips… Dis werklik ongelooflik wat dié lot in die kombuis vermag – dis by tye byna onmoontlik om uit te pluis wat wél koek is en wat nie (juis vandaar af die reeks se naam). Al is kosprogramme nie jou voorkeur nie – hierdie een gaan jou mond laat oophang.
Warrior S3
Weeklikse episodes vanaf Vrydag, 30 Junie 2023, op Showmax beskikbaar om te stroom.
Warrior, gegrond op die skrywes van die vegkunstenaar Bruce Lee, speel af in die genadelose wêreld van San Francisco in die laat 19de eeu, met mededingende Chinatown-groepe wat om oorheersing veg. In die nasleep van die vorige seisoen se ras-onluste, gebruik Mai Ling (Dianne Doan van Agents of S.H.I.E.L.D.) haar politieke netwerk om mag te konsolideer, terwyl Ah Sahm (Andrew Koji, Bullet Train) en die Hop Wei-groep nuwe maniere moet vind om te oorleef.
Die reeks is in Kaapstad verfilm en daar is ook verskeie Suid-Afrikaners in die rolverdeling, onder andere Colin Moss, Robert Hobbs en Andre Jacobs.
Warrior, wat deur Inverse as “die mees onderskatte aksiereeks van die eeu” beskou word, se tweede seisoen het ’n punt van 100% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes. Die eerste seisoen is ook as een van Rolling Stone se beste nuwe televisieprogramme van 2019 aangewys, met The Ringer wat dit onder meer as “uiters kick-ass” beskryf het.
Die vorige seisoene is ook op Showmax beskikbaar.
Tom Clancy’s Jack Ryan S4
Vanaf Vrydag, 30 Junie 2023, op Prime Video.
Die vierde – en laaste – seisoen van Tom Clancy’s Jack Ryan, is vandeesweek beskikbaar.
Met die aanvang van dié laaste uittog is die titelkarakter op sy gevaarlikste missie nog. Die storie hervat met Jack (John Krasinski) in die rol van die nuwe waarnemende adjunkdirekteur van die CIA. Sy eerste taak is allermins maklik: daar’s vyande en korrupsie in hul eie geledere wat Jack moet ontbloot. Hy ontdek dan ’n hele reeks ongewone black ops wat Amerika se swakpunte kan ontbloot en só die hele land in gevaar stel. Soos Jack en sy span die korrupsie in die organisasie ondersoek, kom hulle egter op iets nog erger af…
Ook in die rolverdeling tel Wendell Pierce as James Greer, Michael Kelly as Mike November, en Abbie Cornish as Cathy Mueller. Nuwe gesigte dié seisoen sluit in Michael Peña as Domingo Chavez en Louis Ozawa as Chao Fah.
Nog hoogtepunte hierdie week:
Vanaf Maandag, 26 Junie 2023:
- DC League of Super Pets, Showmax
- Charlie and the Chocolate Factory, Showmax
- Dennis the Menace, Showmax
- Marshall, Showmax
- Unaccompanied Minors, Showmax
Vanaf Woensdag, 28 Junie 2023:
- Run Rabbit Run, Netflix
- Eldorado: Everything the Nazis Hate, Netflix
- Muscles & Mayhem: An Unauthorized Story of American Gladiators, Netflix
Vanaf Donderdag, 29 Junie 2023:
- Ōoku: The Inner Chambers S1, Netflix
- Die Valke S1, Showmax
- Torn Hearts, Showmax
- Housekeepers S3, Showmax
- Umbuso S1, Showmax
- Angry Birds Movie, Showmax
- Catwoman, Showmax
- Cop Out, Showmax
- Hot Seat, Showmax
- No Reservations, Showmax
- MasterChef S15, M-Net (DStv-kanaal 101) om 18:00
Vanaf Vrydag, 30 Junie 2023:
- Nimona, Netflix
- Witness Number 3 S1
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →