Silwerskermfees 2022 sluit in nege rolprente wat om die gesogte Silwerskermfees-toekennings meeding. Daar is ook 17 kortfilms wat met die ondersteuning van kykNET en die Silwerskermfees vervaardig is.
Jy kan ál die flieks – én meer – aanlyn as deel van vanjaar se Silwerskermfees kyk. Die nuwe hybrid-formaat beteken dat die fees nie net by die Rotunda in Kampsbaai se Bay Hotel plaasvind nie, maar ook virtueel. Bywoning van die fees is dus nie meer net vir Kaapse gehore beskore nie – kykers landwyd kan via die regstreekse premières, gesprekke en vraag-en-antwoord-sessies met akteurs en dies meer, ook ’n feesblik kry.
Registrasie op die Silwerskermfees-webwerf is reeds oop – dis ’n blitsvinnige en maklike proses met stap-vir-stap instruksies. Die koste beloop R190 vir die vier dae lange fees van 23 tot 26 Maart.
Hoewel die speelfilms in kompetisie tydens vorige Silwerskermfeeste uitsluitlik rolprente was wat hul wêreld- of Suid-Afrikaanse debuut by die fees gemaak het, werk dinge dié keer ’n bietjie anders. Silwerskermfees 2022 se program ook rolprente in wat deur kykNET en M-Net befonds is, maar reeds in teaters of op DStv se BoxOffice vrygestel is omdat die fees weens Covid-19 uitgestel moes word. Dié rolprente neem egter nie aan die kompetisie deel nie.
Die volledige program vir die tiende Silwerskermfees is op die fees se webwerf beskikbaar. Dit sluit tye vir industrie-gesprekke in, asook speeltye vir flieks wat nie aan die kompetisie deelneem nie.
Vollengte films in kompetisie
Beurtkrag
23 Maart om 17:30
Jasper wil nie alleen wees nie. Hy wil sy lewe deel. Fransie is onafhanklik en verkies dit só. Ná te veel verkeerde besluite verdien sy beter. Wanneer Jasper en Fransie saam intrek, is dit ’n hoopvolle nuwe begin. Beurtkrag tref hulle onverwags op die eerste aand en hulle probeer die beste van die donker situasie maak. Hulle dans. Hulle raak dronk op die idee van liefde. Hulle onthou … maar saam met die onthou word die verkeerde boks oopgemaak en ontspoor die aand. Swaar bagasie word uitgepak en hulle word gekonfronteer met die swaar en donker verlede wat hulle saamdra. Beurtkrag is ’n drama wat die kwesbaarheid van verhoudings blootlê.
Indemnity
23 Maart om 20:00
Theo Abrams is ’n voormalige brandweerman van Kaapstad. Hy ly aan posttraumatiese stresversteuring as gevolg van ’n mislukte reddingspoging. Wanneer hy wakker word langs sy vermoorde vrou, kan hy glad nie onthou wat gebeur het nie, maar dit wil voorkom asof hy verantwoordelik is vir haar dood. Theo besluit om te vlug. Kort op sy spoor is Alan Shard, ’n geharde polisieman wat vasberade is om Theo voor sy aftrede vas te trek. ’n Derde party raak betrokke en Theo besef met skok daar’s ’n verband tussen die magte wat hom permanent wil stilmaak en ‘n ondersoek van onwettige internasionale wapenhandel wat deur sy vrou gelei is.
Down So Long
24 Maart om 17:30
Joseph Mabena woon saam met sy vrou, Doreen, hul kinders en eggenote, en hul kleinkinders in ’n oorvol huis in Hangberg. Wanneer hy by sy werkplek beseer word, ontvang Mabena ’n groot kompensasie-uitbetaling vir die verlies van sy een oog. Sy familie is skielik oordrewe besorg oor hom en bely hul liefde in die hoop om ook van dié geld te kry. Mabena sien deur hul vals toegeneentheid en besluit om nie ’n sent van sy “swaar verdiende” geld te deel nie. By die plaaslike kroeg ontmoet hy ’n nuwe liefde, Zelda, en hy bring haar tot die afgryse van sy vrou en kinders huis toe. Wanneer hy aankondig dat hy met haar wil trou, besluit sy vrou en kinders om hom te vergiftig.
Stiekyt
24 Maart om 20:00
’n Akteur wat in die geheim by ’n sukkelende fopdosserklub werk, moet veg vir die behoud van sy huwelik nadat sy vrou hom daar betrap. Hy moet ook die optrede van sy lewe gee om agterdog oor die dood van sy kollega uit die weg te ruim.
Vlugtig
25 Maart om 17:30
Aspirant-akteur Simon Berg se lewe neem ’n onverwagse wending wanneer hy ’n uitnodiging ontvang om deel te word van ’n nuwe herverbeelding van Rooikappie onder regie van sy rolmodel, die befaamde teatermaker Andreas Vog. ’n Reeks gebeure lei daartoe dat Simon onder die sadistiese Andreas se onortodokse metodes deurloop. Dis net sy medester, Chantel Opperman, wat hom bemoedig om voort te stoei.
Gaia
25 Maart om 20:00
’n Boswagter word tydens ’n roetinemissie beseer. Twee natuurliefhebbers, wat volkome van die grid af leef, kom tot sy redding. Die boswagter se dankbaarheid en verligting maak egter gou plek vir ongemak en vrees wanneer die seun en sy rebelse pa se okkultiese toewyding tot die natuur begin blyk.
Kortfilms in kompetisie
GROEP 1
23 Maart, 15:00-16:30
Vrywater
’n Kolonie van wateraanbidders kan hul enigste kans op die vervulling van ’n lank verwagte profesie verbeur. Vera, die uitverkore vrou, moet besluit of sy haar hart gaan volg en die kolonie verraai en of sy sal bly om Evander se derde vrou te word en ’n lewe sonder liefde te leef.
Katvis
Lize het nog nooit te veel van die lewe gevra nie. Sy is meestal gelukkig met haar huwelik, maar Lize het nog altyd daarvan gedroom om ‘n ma te wees, en haar en haar man, Willem, wil dit net nie geluk nie. Met gesinsdruk wat saggies erger raak en die tik van die biologiese klok al hoe harder, gooi die nuus van Willem se steriliteit haar identiteit as vrou omver. Wanneer die droom aan skerwe lê, vergeet Lize en Willem van die samelewing se konvensies en beplan om dit steeds ’n werklikheid te maak. Kan hulle die plan deurvoer sonder om hulself in die proses te verloor?
Nagvoël
Shaun is die Nagvoël – ’n kleindorpse superheld wat daarvan droom om deel van die Suid-Afrikaanse Superheldeliga te word. Wanneer Crimson, ’n beroemde superheld en lid van dié liga, by die nabye Tikbrug land, snel die Nagvoël hom te hulp. Saam reken hulle met boewe af wat ’n dwelmmiddel gebruik om hulle tydelik superkrag te gee. Shaun publiseer ’n video-opname van hul heldedade op die internet wat baie aandag trek, maar dan word sy vriend Kyle ontvoer en die skurke eis hul dwelms terug. Sal die Nagvoël met Crimson se hulp vir Kyle kan red en lid van die liga word?
Die vegan en die jagter
’n Vegan en ’n jagter gaan op ’n date. Tshidi is ’n bekroonde kunstenaar en Jan is ’n PH – afkorting vir “professional hunter”. Tshidi weet nie wat ’n PH is nie en sy is te skaam om te vra, maar die Tinder-date verloop lekker en hulle bestel ’n Uber. Hulle arriveer by Jan se Stellenbosch-huis. Die ligte word aangeskakel en ’n muur vol jagtrofeë word onthul. Is dit ’n droom of is dit ’n nagmerrie? Wie is die jagter en wie is die prooi? Die Vegan en die jagter is ’n donker komedie oor wat gebeur wanneer smaak radikaal verskil – ’n wrong-com wat generasies se trauma ondersoek.
GROEP 2
24 Maart, 10:15-11:30
Baber
Baber speel af in ’n makabere barbierswinkel teen die agtergrond van die Kaapse Vlakte se patriargale waardestelsel. Dônnie vanie Reevas kom in vir ’n skeer. Vikkah, die barbier, herken hom as die man wat na bewering sy enigste seun beroof en vermoor het. Dônnie is in besit van sy seun se sakhorlosie. Mynie, die barbier se dogter, is baie vaardig, maar sy word deur haar pa ondermyn. Vandag het sy ’n kliënt in die stoel – die man wat haar broer vermoor het.
Bennie Bingo
Die opwinding bruis deur die Swanepoel-tuiste. Bennie Swanepoel is op pad terug van sy backpacking trip deur Europa, en dít op die vooraand van die Swanepoels se groot jaarlikse Swanebal-bingo-kampioenskap. Wanneer Bennie egter sy verskyning maak, is dit duidelik dat dinge hierdie jaar baie anders gaan werk. Sy pa is woedend. Sy ma is bleek. En sy ouma… wel, tot die familie se onsteltenis, staan sy vierkantig agter Bennie. Om dinge erger te maak besluit Ouma deur die loop van die bingo-toernooi dat daar meer op die spel moet wees – veral vir Bennie. Terselfdertyd besef Bennie sy nuwe transformasie gaan dit hierdie jaar ’n bietjie moeiliker maak om bingo te speel.
Leemtes en leegheid
Magdaleen, ’n eensame weduwee in haar 70’s, skep ’n denkbeeldige weergawe van haar oorlede man om die hartseer en pyn te verdoof. Nadat sy so lank met haar herinneringe opgeskeep was, probeer sy desperaat om weer die buitewêreld te betree en weer die see te sien waarna sy nou al vir maande smag.
GROEP 3
24 Maart, 15:30-16:35
Sporadies nomadies
Vanessa moet noodgedwonge die laaste paar dae van haar matriekvakansie saam met haar vervreemde, sukkelende rock-muso-pa, Louis, deurbring. Tydens sy kustoer bevind Vanessa haar in die posisie van sy nie-amptelike roadie en sien sy daagliks hoe Louis vir ’n steak en bier voor ’n handjie vol mense sy hart uit sing. Vir die eerste keer in jare is pa en dogter eerlik oor die verlede en probeer hulle, langs die pad, in die middel van nêrens, mekaar weer vind.
Skyn
Martha is ’n enkellopende kelnerin wat nie weet wat sy met haar lewe wil doen nie. Boonop word sy vandag 28, en almal weet 28 is die nuwe 30, en 30 is die begin van die einde vir enige vrou met planne om te trou of ma te word. Sy word die oggend ná haar verjaarsdagpartytjie wakker met ’n onbekende man in haar bed en ’n vreemde gevoel in haar maag. ‘n Apteektoets bevestig haar vermoede – sy is swanger. Die nuus versprei soos ’n veldbrand en binnekort geniet Martha die aandag en liefde waarna sy ’n maand vantevore gesmag het. Wanneer sy uitvind dat dit ’n skynswangerskap is, knak iets in Martha en besluit sy om eenvoudig hierdie nuus vir haarself te hou. Selfs ’n non-baba is beter as die doodloopstraat waarin sy haarself voorheen bevind het.
Bergie
’n Wetstoepassingsbeampte moet haweloses verwyder sodat ’n padwedloop kan plaasvind. Die beampte word só direk met die lyding van ander gekonfronteer. Kan hy, deur sy lewe en loopbaan op die spel te plaas, waardigheid gee aan die dakloses wat sy pad gekruis het?
GROEP 4
25 Maart, 10:30-12:00
Verstikking
Samuel, die eienaar van ’n baie winsgewende tegnologiemaatskappy, word beroof deur ’n gewelddadige aanvaller genaamd Nathan, wat hy as ’n voormalige werknemer herken. Samuel bel nie die polisie nie, maar spoor vir Nathan op en bied hom betaling aan as hy instem om die voorval herhaaldelik vir sy eie plesier te herskep. Hierna ontstaan ’n onstuimige, verdraaide werkgewer-werknemer-verhouding wat afstuur op ’n morsige klimaks en ’n donker, ontnugterende ontknoping.
Bittersoet
Kersfees lê soos ’n berg voor Tilla. Dit was haar voorstel om hierdie Kersete te reël. ’n Soortvan huldeblyk aan haar ma. Maar Stephan, haar seun, is minder beïndruk dat hy nie sy verloofde, Divan, mag nooi nie. Tilla meen hierdie romanse sal net een te veel vir die oumense wees om te sluk. Oupa se Alzheimer’s is juis aangehits deur Ouma se skielike dood. Tydens die ongemaklike Kersete besluit Oupa Andries om groot nuus met sy familie te deel, maar niemand reageer soos hy gedink het nie, en hy deel die geheim weer – ’n paar keer.
Twintig tone in ‘n hangkas
Liefde kan oral toeslaan. Selfs al kruip jy soos die pas ontsnapte Louie in ’n polisieman se hangkas weg saam met ’n ou wat jy nie ken nie – ’n ou wat by daai einste polisieman se huis ingebreek het. Louie is nog in haar oranje tronkpakkie, maar het haar plakkies uitgeskop om vinniger te kan hardloop. Louie hou van tone, en Francois het tien van hulle, en baie oulikes boonop. Francois het nooit iets impulsiefs gedoen nie totdat hy die voordeur oopgemaak en in Louie se bietjie mal, bietjie scary, bietjie sexy oë vasgekyk het. Nou sit hy kaalvoet in ’n kas en probeer hard om sy tone weg te krul van hare af, terwyl hare al nader aan syne kruip. En binnekort gaan die eienaar van die kas – ’n man wat selfs met sy pistool stort – besef hy is nie alleen tuis nie.
Die groensone
Tydens ’n nasionale ramptoestand en grendeltydperk is Daniël en sy siek, bejaarde pa vasgekeer in ’n eenslaapkamerwoonstel. Daniël moet Pa versorg, maar die ou man is verlore in ’n droom van die berge en dring aan om te gaan stap. Dit is onmoontlik. Daniël se moed, hul kos en sy pa se suurstof en medisyne is amper op. Oorweldig trek Daniël sy pa vir sy laaste staptog aan.
GROEP 5
25 Maart, 15:00-16:30
Aan/Af
’n Afrikaanssprekende man help sy bejaarde, Duitse buurvrou in ’n tyd van nood, ondanks die taalgrens tussen hulle. In die proses leer hy boekdele oor homself.
Die Horries
Elke drinker op aarde het ’n Horrie – ‘n geheime agent wat op die oggend ná ’n Groot Aand aan jou verskyn met een doel: om jou Die Horries te gee oor jou dronk gedrag. Wanneer een werkverslaafde Horrie haar werk verloor omdat haar drinker ophou drink het, is sy bereid om enigiets te probeer om haar geliefde werk terug te kry.
My beskermer
In ’n post-apokaliptiese Kaap, waar masjiene die laaste menslike oorlewendes jag, soek die hardkoppige Tink en haar troue hond, Indy, saam na robotparte om haar moedelose suster Kari te help om hul “beskermer” klaar te bou. Kari wil nie hê Tink moet haarself in gevaar stel nie, maar Tink verontagsaam haar bevele en gaan na die skrootwerf om ’n laaste uitstaande part te soek. Daar word sy aangeval deur ’n moorddadige masjien. Sy ontsnap, maar die masjien volg haar huis toe. Sal Tink betyds hulle halfgeboude beskermerrobot kan regmaak om haar en haar gesin se lewens te red?
Net ons
Angel en Lorenzo was lank ’n paartjie. Hulle is ook eeue oue vampiere. Angel sukkel om die einde van hulle verhouding te aanvaar en die eensaamheid van die Covid-19-grendeltyd maak dit nog moeiliker. Sy lok Lorenzo na die Seepunt-promenade – die plek waar hulle destyds ontmoet het – om van sy besittings terug te gee. Lorenzo het dae laas geëet en is sterwenshonger. Hy daag saam met sy nuwe mens-girlfriend by die promenade op en daarop was Angel beslis nie voorbereid nie.