Hier is ons voorstelle vir wat om te kyk vandeesmaand.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Nêrens, Noord-Kaap Deel II
Vanaf Dinsdag 16 September op Showmax.
Dié pragreeks se tweede deel het verlede jaar op kykNET uitgesaai en is nou op Showmax beskikbaar.
Toe die dramareeks Nêrens, Noord-Kaap in 2021 op kykNET première het, was kykers van die begin af geboei en geroer deur die lief en leed van die Adendorffs en die mense in hul lewe. Die reeks is gegrond op die skrywer-regisseur Nico Scheepers se toneelstuk Nêrens, Noord-Kaap, wat in 2017 by die Vrystaatfees in Bloemfontein debuteer het met Geon Nel, Albert Pretorius en De Klerk Oelofse in die rolverdeling. Toe Nico aanvanklik deur kykNET genader is om dit in ’n dramareeks te verwerk, het hy gesê op een voorwaarde: Die rolle van die broers moet deur Geon, Albert en De Klerk gespeel word. Dit was toe ook só.
Ná afloop van die wankelrige reis terug na hul ouerplaas, Nêrens, probeer drie broers en hulle pa mekaar ná jare van vervreemding opnuut leer ken. Maar hoe leer jy liefhê as die dolk van ’n ma se dood steeds diep in almal se harte steek?
Soos met Deel I, vervleg Deel II tonele in die hede met tonele in die verlede toe die drie broers nog jonk was, wat help om die legkaart te bou van hoe hulle beland het waar hulle vandag is.
Task
Weeklikse episodes vanaf Maandag, 8 September 2025, op Showmax.
Task is ’n splinternuwe misdaad-dramareeks van Brad Ingelsby, die skepper van die bekroonde en briljante Mare of Easttown. Verwagtinge is dus – verstaanbaar – hóóg, en die lokprent is meer as 10 miljoen keer gekyk in die eerste drie weke nadat dit vrygestel is.
Die Oscar-benoemde akteur Mark Ruffalo vertolk ’n FBI-agent aan die hoof van ’n taakspan wat ’n reeks gewelddadige rooftogte probeer ontsyfer. Die sterbelaaide rolverdeling sluit in die Suid-Afrikaanse ster Thuso Mbedu, Emmy-benoemde Tom Pelphrey (Ozark), BAFTA-benoemde Emilia Jones (CODA), Jamie McShane (Wednesday, 1923), Alison Oliver (Saltburn) en Fabien Frankel (Ser Criston Cole in House of the Dragon).
Ná haar twee Internasionale Emmy-benoemings as Winnie in Is’thunzi op Mzansi Magic, het Mbedu se loopbaan internasionaal begin blom. Sy het ’n Critics Choice-benoeming as beste aktrise gekry vir haar rol as Cora in The Underground Railroad, en is ook vir haar spel as Nawi in die lokettreffer The Woman King geloof.
Black Rabbit
Vanaf Donderdag 18 September op Netflix.
Black Rabbit draai om twee broers, Jake en Vince Friedken, wat strak van mekaar verskil – tog, bloed is mos dikker as water…
Jake, vertolk deur Jude Law, is die charismatiese eienaar van Black Rabbit, ’n restaurant wat op die punt staan om die gesogste kuierplek in New York te word. Daareenteen is Vince, vertolk deur Jason Bateman (hy het ook die regie van die eerste twee episodes behartig) ’n molesmaker wat oraloor deur moeilikheid gevolg word. As Jake vir Vince toelaat om weer by die besigheid betrokke te raak, volg daar groot marakas, want ja, daar’s (weer/steeds) moeilikheid op Vince se spoor! Jake word al dieper by dié morsige chaos ingetrek soos hy probeer keer dat dié bedreigings sy opmars na sukses stuit.
House of Guinness
Vanaf Donderdag 25 September 2025 op Netflix.
In House of Guinness ontvou ’n epiese verhaal wat deur een van Europa se bekendste families geïnspireer is – die Guinness-familie.
Die storie speel af in 19de-eeuse Dublin en New York en begin onmiddellik ná die dood van Sir Benjamin Guinness, die man verantwoordelik vir die buitengewone sukses van die Guinness-brouery. Dit vertel dan oor die verreikende impak van sy testament op die lot van sy vier volwasse kinders, Arthur, Edward, Anne en Ben.
The Morning Show S4
Vanaf Woensdag 17 September 2025 op Apple TV+.
Die vierde seisoen van The Morning Show begin in die lente van 2024, byna twee jaar ná die gebeure van seisoen drie.
Met die UBA-NBN-samesmelting nou klaar, worstel die nuuskantoor met nuwe verantwoordelikheid, verborge motiewe en die ontwykende aard van waarheid in ’n gepolariseerde Amerika. Wie kan jy vertrou in ’n wêreld vol deepfakes, samesweringsteorieë en korporatiewe toesmeerdery? Hoe weet jy wat werklik is en wat nie…?
Jennifer Aniston en Reese Witherspoon neem weer die hoofrolle in, met onder andere Jon Hamm, Billy Crudup, Mark Duplass en Greta Lee wat terugkeer.
Slow Horses S5
Vanaf Woensdag 24 September 2025 op Apple TV+.
Dié spioendrama is steeds een van die bestes op televisie – en ons trek nou reeds by die vyfde seisoen. Dit wil gedoen wees! Dis droog, dis donker, dis blerrie snaaks en Gary Oldman is manjifiek as die grommige leier van ’n span Britse spioene.
As Jackson Lamb is dié Oscarwenner nommerpas om aan die hoof te staan van ’n groep MI5-agente wat sulke groot foute in hul loopbaan begaan het dat hulle – saam-saam – tot in die uithoeke van die departement gedwing is. Jackson en sy wanfunksionele span takel in elke seisoen ’n nuwe, uitdagende saak en ons volg hul pogings (soms rampspoedig, soms suksesvol, soms net bisar) om dit op te los.
Die vierde seisoen het volpunte op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes, met die Daily Telegraph wat skryf: “Elke seisoen is beter as die vorige een. Om dit te kyk is pure plesier.”
En volgens die London Evening Standard is Slow Horses een van die beste Britse reekse wat al gemaak is.
Nie te versmaai nie!
Hotel Costiera
Vanaf Woensdag 24 September op Prime Video.
Onthou julle vir Jesse Williams se dr. Jackson Avery in Grey’s Anatomy? Wel, hy is definitief nie ’n dokter in die aksiereeks Hotel Costiera nie! Hierin vertolk hy ’n voormalige lid van die Amerikaanse marines wat dan as ’n fixer by een van die wêreld se luuksste hotelle gaan werk. En fixer is hy beslis. As hy nie besig is om die oordadig-ryk gaste se probleme op te los nie, soek hy ook naarstig na Alice, een van die eienaar se dogters wat skielik vermis geraak het. Dit blyk egter gou dat dié opdrag baie makliker gesê as gedaan is…
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →