Hier is ons voorstelle vir wat om te kyk vandeesmaand.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Schuster
Woensdae vanaf 1 Oktober 2025 om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.
Sê net, ‘Schuster’, en almal weet presies van wie jy praat.
“Leon Schuster is ’n nasionale skat en waarskynlik, ná Madiba, die bekendste Suid-Afrikaner oor generasies heen,” meen Rian van Heerden, die vervaardiger van ’n nuwe dokumentêre reeks oor dié ikoon.
Schuster is ’n vyfdelige dokumentêr en bied ’n intieme blik bied op die lewe van dié grapjas en poetsbakker soos sy merkwaardige lewensverhaal ontvou. Die vertelling strek vanaf sy kinderjare in Bloemfontein, sy vroeë jare as radio-omroeper, en sy fenomenale sukses met rolprente soos You Must Be Joking en Mama Jack.
Maar dit is nie net lag en plesier nie. In die afgelope jare het Leon gesondheidsuitdagings ervaar wat hom in byna permanente pyn laat. Hy praat in dié dokkiereeks vir die eerste keer openlik oor sy stryd met sy gesondheid, maar ontboesem ook oor die foute wat hy meen hy in sy professionele én persoonlike lewe oor die jare heen gemaak het.
Finding Optel
Vanaf Vrydag 24 Oktober op Showmax beskikbaar.
In die broer-en-suster-duo Mikayla en Jesse Brown se eerste vollengte speelfilm rolprent Finding Optel, soek die 16-jarige amateur-speurder Claire Abrahams na ’n hond wat in die buurt weggeraak het. Dit lei onverwags tot die oopkrap van ou wonde wanneer sy ook op leidrade afkom oor haar ouer broer se verdwyning.
Die lieflike en vermaaklike plaaslike fliek het binnekort sy internasionale première by die gesogte BFI Londen-rolprentfees, waarna dit ook op Showmax beskikbaar sal wees. Dít volg na die fliek se plaaslike première in Augustus by die Silwerskermfees waar dit ’n staande applous ontvang het.
Finding Optel is deur Mikayla en Jesse geregisseer, met Mikayla wat ook die draaiboek geskryf het en die hoofrol van Claire vertolk. Die res van die rolverdeling lees soos ’n droom: Oscar Petersen (Vloeksteen, Kantlyn), Zenobia Kloppers (The Wheel of Time, Spinners, Fiela se Kind), Rodney Goliath en Sherman Pharo (albei van Arendsvlei), Maurice Carpede en Euodia Samson (albei van Summertide)… Noem maar op!
Appels en tee
Appels en tee begin op Dinsdag 21 Oktober om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.
“Bloed is dikker, maar tee is sterker.” Dít is die lokreël van Appels en tee, kykNET se splinternuwe dramareeks wat later vandeesmaand begin.
In Paradysbos lyk Lisa Rossouw (Diaan Lawrenson) se lewe perfek. Sy bestuur ’n teetuin saam met haar gerespekteerde man Dawid (Ivan Zimmermann), en voorbeeldige seun, Francois (Jacques Erasmus). Maar dan is daar ’n motorongeluk voor die teetuin en skielik bots Lisa se verlede met haar hede. Want in die kar is haar langverlore vriendin Henriëtte de Klerk (Tinarie van Wyk Loots) en dié se gesin, waaronder Henriëtte se man, Wessel (Neels van Jaarsveld). Is dit toeval, of die noodlot?
Die De Klerks het intussen hul plaas verloor, en Lisa bied dan vir hulle ’n heenkome aan totdat hulle weer op hul voete is. Dit bring natuurlik herinneringe van hul vriendskap terug, maar eweneens word ou wonde oopgekrap. Hulle het immers vir ’n rede mekaar 27 jaar laas gesien…
Die dramareeks beweeg tussen die hede en die Langkloof in die negentigs waar Lisa en Henriëtte hul hegte tienervriendskap en drome deel, maar ’n reeks donker geheime die twee uiteindelik uitmekaar dryf.
The Paper
Woensdae, vanaf 8 Oktober 2025 op Showmax.
In The Paper het die dokumentêre span wat Dunder Mifflin se Scranton-tak in The Office verewig het, nou hul visier op ’n nuwe onderwerp gestel: die historiese Midwesterse koerant, die Toledo Truth-Teller, en die uitgewer wat dit met vrywilliger-joernaliste probeer herleef.
The Paper is ’n ware ensemble-reeks. Onder die groot rolverdeling tel Domhnall Gleeson (Ex Machina); Sabrina Impacciatore (The White Lotus); die Emmy-bekroonde kykergunsteling uit The Office, Oscar Nuñez; asook die Nigeriese BAFTA-wenner Gbemisola Ikumelo (Black Ops) en die Emmy-bekroonde komediant Alex Edelman, wat ook deel van die skrywerspan is.
The Paper het tans ’n punt van 85% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes, met The Times wat dit as “skreeusnaaks… ’n waardige opvolger vir die geliefde Amerikaanse Office,” beskryf.
Terloops, The Office (die Amerikaanse weergawe) is ook op Showmax beskikbaar.
MobLand
Die volledige reeks is vanaf Woensdag 15 Oktober 2025 op Showmax beskikbaar.
Mag is op die spel wanneer die Harrigans en Stevensons, twee strydende Londense misdaadfamilies, slaags raak in ’n oorlog wat dreig om ryke omver te werp en lewens te verwoes. Harry Da Souza, vertolk deur die enigmatiese Tom Hardy, is ’n straat-slim fixer wat in die kruisvuur beland. En met die opponerende magte wat bots soos nooit vantevore nie, weet Harry alte goed dat ’n belydenis van “familie bo alles” die enigste gewaarborgde reddingsboei is.
Ook in die rolverdeling is Pierce Brosnan, Helen Mirren, Paddy Considine en Joanne Froggatt. Guy Ritchie is die uitvoerende vervaardiger.
Vetkoekpaleis
Vanaf Maandag 6 Oktober om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144).
“Dit is een van die mees ikoniese Afrikaanse komediereekse, en nou kan kykers weer die pret en plesier van Vetkoekpaleis beleef. Ja, die reeks wat die eerste keer in 1996 op lug was, kom maak ’n draai op kykNET,” lui ’n mediaverklaring van dié kanaal.
Vetkoekpaleis se verhaal begin met ene Frik Delport wat sy werk verloor het en dan ’n eetplek oopmaak wat vetkoeke verkoop. Frik, of Frikkadel soos sy vrou, Poppie, hom noem, besef egter vinnig die koswêreld is nie so maklik nie… Gelukkig is Worsie, Poppie se suster Ella se seun, daar om die vetkoeke te maak en die kelnerin Boeboe staan ook by. Die sekuriteitsmanne Sheridan en Fokile sorg dat dinge veilig bly.
In die rolverdeling is Zack du Plessis (Frik), Willie Esterhuizen (Worsie), Hélène Truter (Poppie), Liane Heyl (Boeboe), Alvin Bruinders (Sheridan), Marga van Rooy (Ella) en Hugh Masebenza (Fokile). Ander spelers slui in Tobie Cronjé as Spiros, Lizz Meiring as Sue-Ellen en Cobus Visser as Mnr. Lou. Die reeks is deur Willie geskryf, en die regisseur is Pieter Esterhuizen.
The Diplomat S3
Vanaf Donderdag 16 Oktober 2025 op Netflix beskikbaar.
In die derde seisoen van die bekroonde politieke dramareeks The Diplomat is Kate Wyler (Keri Russell) wéér in ’n tamaai situasie vasgevang. Kyk, dié diplomaat is altyd in iemand of iets se crosshairs… Met die aanvang van die nuwe seisoen het sy pas vise-president Grace Penn (Allison Janney) daarvan beskuldig dat sy ’n terreurplot beraam het, én sy het erken dat sy agter Grace se pos aan is. Maar nou is die president dood, Kate se man Hal (Rufus Sewell) het hom moontlik per ongeluk doodgemaak, en Grace is nou in die amp van Amerikaanse president! Maar niks hiervan stuit Hal se veldtog om vir Kate die vise-presidentskap te verseker nie. Hy’s mos ’n man met ’n missie…
Die reeks het ’n punt van 90% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met die The Wrap wat daarna verwys as ’n kombinasie van “internasionale riller en werkplek-drama met komplekse karakters wat dinamies deur ’n uitstekende ensemble vertolk word”.
Nobody Wants This S2
Vanaf Donderdag 23 Oktober 2025 op Netflix beskikbaar.
Heel teenstrydig met die titel: Almal wil die tweede seisoen van dié trefferreeks hê! Net om jou geheue te verfris, Nobody Wants This is ’n komediereeks wat draai om die onwaarskynlike verhouding tussen ’n uitgesproke, agnostiese podcaster, Joanne (Kristen Bell), en ’n onkonvensionele rabbi, Noah (Adam Brody).
Toe ons dié paartjie aan die einde van die eerste seisoen gegroet het, het als hunky dory gelyk. En ja, die romanse duur voort. Maar hul verhouding is nie sonder struikelblokke nie. Wat van kinders? En as hulle kinders kry… wat van Kersvader? Wag, gaan hulle Kersfees hou? Tog is hulle vasbeslote om hul baie, baie verskillende lewens op ’n manier saam te smelt. En dit sluit hul geliefdes, soos Joanne se prontuit suster Morgan (Justine Lupe), Noah se broer Sasha (Timothy Simons) en dié se vrou, Esther (Jackie Tohn), in. Sal hul ongeëwenaarde chemie en hul liefde genoeg wees om ten spyte van hul verskille saam te bly?
Down Cemetery Road
Vanaf Woensdag 29 Oktober 2025 op Apple TV+.
Wanneer ’n huis in ’n stil Oxfordse voorstad ontplof en ’n meisie ná die ontploffing spoorloos verdwyn, raak buurvrou Sarah Trafford (Ruth Wilson) behep daarmee om haar te vind. So besluit sy dan om die hulp van ’n privaatspeurder, Zoë Boehm (Emma Thompson), in te roep. Zoë en Sarah bevind hulself dan skielik in ’n komplekse sameswering wat onthul dat mense wat lankal as dood beskou is, steeds lewe…
Mr. Scorcese
Vanaf Vrydag 17 Oktober op Apple TV+.
Mr. Scorsese is ’n filmportret van ’n man deur die lens van sy werk. Só word die vele fasette van dié visionêr wat rolprentkuns herdefinieer het, verken.
Dié dokumentêr oor Martin Scorsese word geanker in eksklusiewe en onbeperkte toegang tot sy private argiewe, asook intieme gesprekke met Scorsese self wat die sluier oor talle onderwerpe lig. Daar is ook onderhoude met vriende, familie en kreatiewe medewerkers soos Robert De Niro, Daniel Day-Lewis, Leonardo DiCaprio, Mick Jagger, Robbie Robertson, Thelma Schoonmaker, Steven Spielberg, Sharon Stone, Jodie Foster, Paul Schrader, Margot Robbie, Cate Blanchett, Jay Cocks en Rodrigo Prieto, sowel as sy kinders, sy vrou Helen Morris en hegte kinderjare-vriende.
Onder die bekroonde Rebecca Miller se regie-hand, kyk die dokkie ook na hoe Scorsese se lewenservarings sy visie as kunstenaar gevorm het en hoe temas wat Scorsese gefassineer het – insluitend die plek van goed en kwaad in die wese van die menslike natuur – sy werk beïnvloed het.