Dis in die eerste paar minute van Etienne Fourie se nuwe Afrikaanse reeks, Trompoppie, wat die tafel gedek word vir ’n vlak van psychological warfare wat min so goed verstaan – en so bitterlik akuut ervaar – as die deursnee-tienermeisie. Dié krygers se skuiwe is té dikwels ongewillig, met desperaatheid deurdrenk en deur ander beïnvloed. Desperaatheid, weet ons mos goed, kan maklik ’n swak besluit soos die enigste besluit laat lyk. Tonnelvisie. Desperaatheid maak klein probleme groot, en groot probleme haas onoorkombaar.
Die premis van Trompoppie is ’n tematiese seduction vir dié van ons wat naarstigtelik na betekenis en begrip van en in die wêreld soek. Veral soos beide mensdom en menslikheid verdof. Kuns, hier dan die middlebrow-milieu van televisie, bestaan as ’n zeitgeist-speelgrond waar ons probeer sin maak van… wel, alles.
In Trompoppie is dié weerspieëling sowel veelvoudig as beperk tot die kyker se eie lens. Dus – Fourie se reeks bied ’n tematiese buffet, ’n storie oorvloedig ryk in metafore en “wat as?”-vraagstukke; tog, dis die kyker se besluit hoe diep hulle sou wou delf. Jy sou, heel reasonably, die reeks bloot as net ’n drama volop kinkels kon geniet. (As outright riller slaag dit nie heeltemal nie. Meer hieroor later.) Of dalk slag jy die aar van nog ’n laag. Dié van ouers wat hul eie drome en wense deur hul kinders wil bewaarheid en só ’n landskap van oorweldigende verwagtinge en teer wonde skep. Of dalk slaan jy deur na die primitiewe oorlewingsdrang wat ons hoofspelers oorheers: Presies wat sal jy doen, wat sal jy opgee om te kry wat jy wil hê?
Dis Celeste Loots se karakter, Zanne, wat opklink en Trompoppie se bloedgroep weggee: “Dís die prys wat jy betaal – alles.”
Zanne betaal daardie prys reeds in die eerste episode as sy in ’n fratsongeluk tydens ’n ontgroeningstradisie van haar skool se trompoppiespan sterf. Dis ’n klein groepie trompoppies wat weet wat gebeur het – en besluit om dit ’n geheim te hou… Dít ten spyte van die outsider-nuweling by die skool, Luna (Melissa Myburgh), wat daarteen stry. Tevergeefs.
Dis ’n dom besluit, ’n desperate een. Maar daar’s baie op die spel. Vir niemand meer as vir Luna nie. Zanne se ma, Jill (Marion Holm), ’n sepiester past her prime wat nog hoop vir “international” (rol daai ‘r’ sommer baie) roem, het immers ’n beurs vir Luna by die eksklusiewe Deacon College geskep. Nie uit die goedheid van haar hart nie – nee.
Luna, ’n gimnas wie se pa sukkel om kos op die tafel te sit, is net die ticket vir die skool se trompoppiespan om ’n groot kompetisie te wen. Met Zanne as die amper-kaptein is daar niks wat dié ma nie vir haar dogter sal doen nie. En daarmee bedoelende: daar’s niks wat Jill nie vir haarself en haar status sal doen nie. Soos sy vir haar jonger dogter, gespeel deur Luca Human, op ’n keer in die kar sê: “Ek het nie opgesign om losers groot te maak nie, hoor jy my?”
Classic Jill.
Vir Luna is die trompoppies – en dus haar stilte oor wat met Zanne gebeur het – weer die ticket na haar droom om ’n gimnastiekskool oorsee by te woon. Alles, maar alles, het ’n prys.
Dit blyk egter gou dat iemand buite hul groepie weet wat gebeur het. Een vir een word hulle afgemaai. Met die polisie wat na Jill se sin nie vinnig genoeg vorder met die ondersoek na haar vermiste dogter nie, betrek sy ’n voormalige speurder en murder mystery-skrywer om met die saak te help.
Marion Holm lewer as Jill die beste spel van haar loopbaan (tot dusver, kom ons hoop en bid vir nog en nog!). Sy speel die karakter as beide ’n nuutgevonde skepping en as ’n kombinasie van Cruella de Vil en Miranda Priestly. Saam is dit… majestic. Holm maak van Jill ’n kragtoer van contradictions – een wat net so ysingswekkend kil as deernisvol kan wees (of minstens, so kan voorkom). Sy is beide subtiel en heeltemal over the top, en ek weet nie hoe nie, maar sy vind ’n geloofwaardige, gewigtige balans. Sy kon so maklik die een of die ander grens oorskry het – ’n grinnik te veel of te min, ’n groter of kleiner swaai in haar stap. Maar Holm speel dit al dente. Net. Fokken. Reg.
En dis dan teen dié standaard wat die anders spelers gemeet – en sommige te lig gevind – word.
Melissa Myburgh het ’n ystergreep op haar Luna wat besonders is vir so ’n jong aktrise. Hoewel sy in byna elke toneel is – wat baie uit enige akteur sou verg – raak jy nooit moeg van haar nie. Diepe waters, dié een. Sy speel subtiel, saggies, measured.
Melissa Myburgh het ’n ystergreep op haar Luna wat besonders is vir so ’n jong aktrise. Hoewel sy in byna elke toneel is – wat baie uit enige akteur sou verg – raak jy nooit moeg van haar nie. Diepe waters, dié een. Sy speel subtiel, saggies, measured
Daarteenoor is Elzet Nel se Mindy geheel en al overplayed. Of dalk is Mindy reeds as te té in die teks geskryf en is dit nie Nel spel wat hier van die noot af is nie – eerder die aanvanklike skepping van die karakter self. Hoeveel van die koers wat Nel as aktrise in die rol ingeslaan het in opdrag van Fourie as regisseur en skrywer was, weet ons nie. As ’n tipe Regina George op steroids word Mindy se head bitch in charge-karakter wel ’n bietjie absurd. Hoewel dít dalk presies is wat Fourie wou hê, sou iets in die lyn van Sarah Michelle Gellar se koelbloedige Kathryn in Cruel Intentions ’n veel groter en deurdringende impak gehad het. Less is less and more is more.
In teenstelling met Myburgh is die verskil egter té strak soos dit op die skerm uitspeel. Veral omdat die reeks meer swaai in die rigting van ’n sielkundige drama met riller-elemente as ’n riller op sigself.
Dié swaai is juis weens die tematiese buffet van vroeër. Of dit weens die diepte van die teks, die uitvoering daarvan deur die spelers of iets anders is – dis eerder die drama van menslikheid en die vraagstukke daaromtrent wat in die teks geopper word, as die moord-en-dood, wat hier vatplek vind.
Die musiek, deur Loki Rothman, is ’n onverwagte boon vir die vertelling. Dít terwyl die kinematografie werklik besonders is in hoe dit tussen die lyne inkleur om die storie sonder oordrewigheid vorentoe te dryf.
Kyk Trompoppie op Showmax. Nuwe episodes word weekliks op Donderdae vrygestel totdat die reeks op 8 Februarie ten einde loop.