Menu terloops
In Sepies [19 Mar 2026]

‘Suidooster’ se Samsodiens: Tien hartverskeurende krisisse wat dié familie al getref het


Min families in ‘Suidooster’ het al soveel storms beleef én oorleef soos die Samsodiens. Met dié sepie-familie wat tans in ’n nuwe krisis rondom Rhafiek se gesondheid gedompel is, kyk ons terug na van die uitdagings wat hulle oor die jare moes trotseer.

Deur Redaksie
‘Suidooster’ se Samsodiens: Tien hartverskeurende krisisse wat dié familie al getref het

Deur die jare het die Samsodiens se storielyne vir Suidooster-kykers laat lag, huil en soms verbysterd gelaat – met temas wat wissel van verlies en verslawing tot geloof, trauma en geestesgesondheid. 

Nou is hierdie geliefde sepie-familie in ’n nuwe krisis gedompel met Rhafiek (Irshaad Ally) se gesondheidprobleme wat hom in ’n koma in die hospitaal laat beland het. Dit lyk of sy lewe aan ’n draadjie hang. 

Maar die Samsodiens kén van seerkry. Hier is van die grootste ander uitdagings wat hulle al in die gesig gestaar het. 

Die motorongeluk wat alles verander het

Bianca en Jerome was in ‘n verhouding voor die noodlottige motorongeluk.

In een van die sepie se grootste skokwendinge was Mymoena (Jill Levenberg) en Jerome (Danny Ross) saam in ’n ernstige motorongeluk toe hulle na Bianca (Simone Biscombe) gejaag het omdat sy in kraam was. Sy was destyds in ’n verhouding met Jerome betrokke. Terwyl Mymoena kritiek beseer en vir ’n tyd lank in ’n koma was, het Jerome aanvanklik gelyk of hy ongedeerd daarvan afgekom het. Maar in ’n tragiese wending het hy egter later inmekaargesak en is hy breindood verklaar – dit was te wyte aan onopgemerkte inwendige beserings. Die dood van Jerome het ’n golf van hartseer deur Ruiterbosch gestuur en bly een van die skokkendste oomblikke van die reeks.

Bianca se dwelmstryd

Suidooster
Bianca se afdwaling toe sy dwelms begin misbruik het, was een van die pynlikste storielyne om te aanskou. Foto’s: Skermgrepe

Bianca se afdwaling toe sy dwelms begin misbruik het, was een van die pynlikste storielyne om te aanskou. Haar toksiese verhouding met Lloyd (Reuben Engel) het haar ’n gedaanteverwisseling laat ondergaan. Nie net het dit haar eie lewe ontspoor nie, maar haar verhouding met haar familie het ernstige skade opgedoen.

AB en Farah se poligamie-storielyn

Die tonge het geklap toe AB vir Farah as sy tweede vrou geneem het.

AB (Cedwyn Joel) se verhouding met Farah (Lee-Ann van Rooi) was een van die mees omstrede en emosioneel gelaaide storielyne in Suidooster. Dit het nie net spanning binne die Samsodien-familie veroorsaak nie, maar ook groter vrae oor geloof, tradisie en lojaliteit na vore gebring.

Rhafiek en Carmen se verlies van hul baba

Suidooster
Carmen het uiteindelik Ruiterbosch verlaat ná die dood van haar en Rhafiek se baba.

Die dood van Rhafiek en Carmen (Desiré Gardner) se baba, Mikhail, was een van die hartverskeurendste oomblikke in die sepie. Die trauma het hul huwelik uiteindelik vernietig. Carmen het uiteindelik Ruiterbosch verlaat omdat die herinneringe vir haar te pynlik geword het.

Kaashifa se borskankerstryd

Suidooster
Die houe hou net aan kom vir Kaashifa…

Kaashifa (Jawaahier Petersen) se borskankerdiagnose, kort nadat sy aan Rhafiek verloof geraak het, het ’n vreugdevolle tyd in ’n emosionele en uitdagende periode verander. Ná ’n mastektomie en rekonstruksieoperasies het sy boonop haar reuk- en smaaksintuie verloor. Dié onverklaarbare newe-effek het haar emosioneel verder ontwrig. 

AB se onwettige nieroorplanting en die gevolge

AB se nieroorplanting het verreikende gevolge gehad.

AB se gesondheidstryd het ’n donker wending geneem toe hy ’n nieroorplanting moes ondergaan. Eers later is daar ontdek dat die orgaan op die swartmark verkry is. Die operasie, wat deur suster Esther Graaff (Marion Holm) in opdrag van Nazeem (Irvine van der Merwe) gereël is, het ’n web van verraad en misdaad ontbloot. AB het uiteindelik sy eie broer, sowel as suster Graaff, by die polisie aangegee. Dit het ’n kettingreaksie van gebeure ontketen – insluitend Dirk (Evan Hengst) se ontvoering van Bianca as deel van ’n wraakplan teen die Samsodiens.

Die skielike dood van AB

Suidooster
AB is raakgeskiet tydens Bianca en Dirk se troue.

AB se dood het soos ’n tsoenami deur Ruiterbosch gespoel toe hy op Bianca en Dirk se troudag doodgeskiet is. As die familie se anker het sy afsterwe ’n enorme leemte gelaat. Elke familielid moes hul eie pad deur rou en onsekerheid vind.

Mymoena se dobbelverslawing

Suidooster
Mymoena het haar vroomheid vir die dobbeltafels laat staan.

Mymoena se stryd met dobbelverslawing het haar byna alles gekos wat vir haar belangrik was. Haar geheime en toenemende desperaatheid het gelei tot finansiële en emosionele chaos, met haar kinders wat haar al hoe moeiliker kon vertrou.

Kaashifa se postpartum-psigose

Suidooster
Kaashifa se storielyn oor postpartum-psigose het ’n belangrike lig gewerp op ’n onderwerp waaroor baie vroue steeds in stilte ly.

Na die geboorte van Kaashifa en Rhafiek se eersteling, Abdulah, word sy met postpartum-psigose gekonfronteer – ’n intense en ontstellende geestesgesondheidstryd wat groot spanning in haar verhouding met die familie veroorsaak het. In ’n ontstellende kinkel het sy amper vir Abdulah leed aangedoen, en dit het tot die verbrokkeling van haar huwelik gelei. (Sy en Rhafiek het later herenig.)

Rhafiek se skok-diagnose 

Suidooster
Wat aanvanklik na ’n onverklaarbare toestand gelyk het, is later as nie-aansteeklike tuberkulose by Rhafiek gediagnoseer.

Kykers moes die afgelope weke toekyk hoe Rhafiek ’n ernstige gehoorprobleem ontwikkel. Wat aanvanklik na ’n onverklaarbare toestand gelyk het, is later as nie-aansteeklike tuberkulose gediagnoseer. Die siekte het nie net sy persoonlike lewe ontwrig nie, maar ook sy professionele toekoms onder druk geplaas. Dit het selfs spanning tussen die Samsodiens en die Jacobs-familie veroorsaak.


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
30

30 Afrikaanse flieks wat jy vir oulaas op Showmax kan kyk

Met Showmax se dae getel, gaan ons binnekort ’n groot gros Afrikaanse speelfilms, kortprente, reekse en dokkies op dié plaaslike stroomdiens moet groet. Maak dus ’n plan om vir oulaas een van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax te kyk.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Maart 2026

Daar is ’n meer-as-vriendskap-vonk tussen Uys en Nicolette en as Hannah verdwyn, is almal op hol. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Maart 2026

Rhafiek kry skokkende nuus wat die Samsodiens verpletter en Zoë en Angie begrawe – skynbaar – die strydbyl... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Maart kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies