Menu terloops
In Sepies [14 Des 2025]

‘Suidooster’ se Jenna gesels oor haar groot TV-deurbraak en waar alles begin het


Die 13-jarige Judi Hattingh is blitsvinnig besig om kykers se harte as Jenna in die kykNET-sepie, ‘Suidooster’, te steel. Sy vertel vir ons oor die oomblik wat sy besef het dat die verhoog haar ware tuiste is en haar ervaring as jong akteur op ’n stel vol veterane in een van die land se gewildste sepies.

Deur Redaksie

Kyk 'Suidooster' op DStv Stream

‘Suidooster’ se Jenna gesels oor haar groot TV-deurbraak en waar alles begin het

Haar Suidooster-rol is wel haar eerste groot TV-verskyning, maar Judi Hattingh, van Durbanville, Kaapstad, was ook die hoofkarakter in die kykNET-fliek Desemberdiewe (2022) en in 2023 het sy die rol van een van die Von-Trapp-kinders vertolk in die musiekspel, The Sound of Music, wat by Artscape in Kaapstad en Monte Casino in Johannesburg uitgevoer is.

En nou vertolk die jong aktrise die rol van Liné (Mila Guy) se sieklike dogter, Jenna. 

Dié talentvolle leerder van Curro Durbanville het vanjaar by die KKNK gehore beïndruk met haar vertolking in Annie+Helen saam met Cintaine Schutte. Soveel so dat sy benoem is vir ’n Kanna as beste aktrise in ’n hoofrol en toe met ’n Kanna bekroon is as die beste opkomende kunstenaar/nuweling vir haar indrukwekkende vertolking van ’n jong Helen Keller.

In 2023 was sy die algehele wenner van Huisgenoot se Eistedfod-kompetisie nadat sy die poësie én prosa-kategorieë gewen het. 

Maar wag! Laat Judie sélf vertel van haar verhouding met teater – waar dit begin het en waarheen sy op pad is.

Hierdie is jou eerste groot TV-rol – hoe het jy gevoel toe jy hoor jy het die rol van Jenna in Suidooster gekry?

Dit het onwerklik gevoel. Ek was ongelooflik opgewonde en kon nie wag vir die dag wat ons begin skiet het nie. Ek kon die vorige aand omtrent nie my oë toemaak nie.”

Judi Hattingh
Dit het onwerklik gevoel,” vertel Judi Hattingh oor haar reaksie nadat sy die rol van Jenna in Suidooster losgeslaan het. Foto’s: Skermgrepe

Waar kom jou liefde vir toneelspel vandaan?

“Ek was nog altyd lief vir die kunste. Ek het grootgeword met baie stories, musiek en drama. My ouers het altyd met slaaptyd die lekkerste stories vir ons gelees en ons het altyd na musiek geluister en ook self musiek gemaak. 

“Ons is van kleins af geneem na uitvoerings en ek was maar 4 jaar oud toe ek na Annie gaan kyk het toe dit in die Artscape-teater in Kaapstad opgevoer was. Toe ek in graad R was, het my skool The Sound of Music opgevoer en ek was mesmerized! Ek en my broer Gerlo het al daai liedjies dag en nag lank gesing en opgevoer. 

“Ek het ook van graad 1 elke jaar aan die Tygerberg en Stellenbosch Eisteddfods deelgeneem en gedigte voorgedra en klavier gespeel. My skool het ook self begin om hul eie kunswedstryd, CAS, aan te bied vir graad 4-7’s vir al die Curro-skole regoor die land. Ek het in graad 4 hieraan begin deelneem. Ek het baie goed gedoen en was gekies om aan ’n konsert deel te neem saam met al die toppresteerders van daardie kunswedstryd.  

“Die oomblik toe ek my voet op die verhoog gesit het met ons eerste vertoning, het ek geweet dit is waar ek hoort – dis my tuiste. Nico Scheepers het my in daardie vertonings raakgesien en voorgestel dat ek moes kom vir ’n oudisie vir ’n fliek. Dit was Desemberdiewe deur Carla Smith. Ek het die hoofrol gekry en dit was ’n fantastiese ondervinding. 

“En nou is ek in Suidooster! Met elkeen van hierdie geleenthede het my liefde vir toneelspel net gegroei en meer ontwikkel. Nou kan ek nie daarsonder nie.” 

Jenna, judi hattingh Suidooster
“Jenna is lewenslustig, spontaan en ’n baie opwindende karakter om te speel,” sê die aktrise Judi Hattingh.

Jenna is ’n splinternuwe karakter in Suidooster. Hoe sal jy haar beskryf en wat het jy van haar geniet?

“Jenna is lewenslustig, spontaan en ’n baie opwindende karakter om te speel. Sy is snaaks en liefdevol en klim vinnig diep in ’n mens se hart in. Ek was mal oor haar oneindige hoeveelheid energie en dat sy in elke slegte of negatiewe situasie die positiewe kant daarvan sien en nooit moed opgee nie.”

Hoe is dit om saam met Mila Guy te werk? Het sy vir jou enige wenke of raad gegee wat jou op stel gehelp het?

“Dit was die beste ondervinding om saam met Mila te kon werk. Sy is ’n ongelooflike goeie aktrise en ’n lieflike persoon. Ek het by haar geleer dat dit heeltemal oukei is om foute te maak. Jy moet net lag daaroor en daaruit leer.”

Wat was tot dusver die grootste verrassing of die lekkerste om in Suidooster te speel?

“Die lekkerste deel is die feit dat almal altyd ongelooflik vriendelik en hulpvaardig is.  As jy enigiets nodig het, is daar altyd iemand om jou by te staan en te help. Daar is ’n spesiale en besonderse atmosfeer wat op stel geskep word. Dit is rustig, vriendelik en baie liefdevol. Ek was nooit angstig of senuweeagtig om ’n toneel te skiet nie, want daar is nooit enige druk op my geplaas nie. Niemand het my ooit laat voel asof ek nie goed genoeg is nie.”

Jenna, judi hattingh Suidooster
In Suidooster vertolk Judi die rol van Jenna teenoor Mila Guy (as Jenna se ma, Liné) en Theodore Jantjies (Aidan).

Hoe het jou skoolwerk gebalanseer terwyl jy in Suidooster verskyn het?

“Terwyl ek Suidooster geskiet het, was ek ook besig om te leer en om toetse te skryf.  Ek het meeste van die tyd my tonele in die middae geskiet sodat ek ’n vol dag van skool kon bywoon.  

“Ek moes hard fokus wanneer ek geleer het en ek het deurgedruk al was ek uitgeput en moeg. Die mense by Suidooster het gelukkig baie begrip gehad vir die feit dat ek nog in die skool is en tussendeur moet leer. Hulle het altyd verstaan as ek moeg was.”

Die oomblik toe ek my voet op die verhoog gesit het met ons eerste vertoning, het ek geweet dit is waar ek hoort – dis my tuiste.

Judi Hattingh

Wie inspireer jou in die Suid-Afrikaanse film- of TV-bedryf?

“Die mense wat my die meeste inspireer en waarna ek geweldig baie opkyk, is Mila Guy, Bianca Flanders, Stian Bam, Cintaine Schutte, Annelisa Weiland, Theodore Jantjies, Eldon van der Merwe, Hennie van Greunen en Pedro Kruger.”

Sonder om iets te verklap… Wat is een spesiale oomblik van jou tyd op die Suidooster-stel wat jy nooit sal vergeet nie?

“Vir my was dit ’n baie spesiale oomblik toe ek ’n video gemaak het vir my ma (Mila Guy) en Aiden (Theodore Jantjies) om vir hulle te sê hoe lief en dankbaar ek vir hulle is.”

Het jy ’n boodskap vir enige ander kind van jou ouderdom wat dalk ook daarvan droom om ’n TV-ster te word?

“My boodskap aan enige kind van my ouderdom wat droom daarvan om ’n TV-ster te word is: Dink baie, baie mooi daaroor. Wees 100% seker dit is wat jy vir ’n lewe wil doen. Dit is lang ure se werk en dit vat baie van jou energie, maar as jy doodseker is dat ’n stel of die verhoog jou tuiste is en dat dit is waar jy hoort, go for it

“Dit is nie altyd maklik nie, maar as dit jou passie is en iets is wat jou gelukkig maak, dan moet jy dit doen.”


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies