Die een storm ná die ander bars in Junie in Ruiterbosch, die fiktiewe woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afspeel, los.
Ava en Nazeem: ’n Vurige verhouding met gevaarlike ondertoon
Ava (Simone Neethling) en Nazeem (Irvine van der Merwe) begin mekaar in vele opsigte onweerstaanbaar vind, en hul verhouding vat vinnig vlam. Maar dit word gou duidelik dat daar meer op die spel is as romanse…
Bridgette (Denise Newman) waarsku vir Ava oor Nazeem se verlede en dat hy nie vertrou kan word nie. Dít terwyl Nazeem vir Ava op sy beurt probeer oortuig dat hy verkeerd verstaan word.
Wanneer ’n roekelose uitdaging tot ’n ongeluk lei, slaan hul verhouding ’n donkerder rigting in. Nazeem se behoeftes en versoeke skep nuwe probleme, terwyl Ava se eie geraamtes ook lustig begin ratel.
Wade, Zoë en Angie: ’n Onmoontlike balans

Nadat Wade (Dean Smith) en Zoë (Lauren Joseph) besef het hulle is vir mekaar bedoel, wil hulle alles in hul vermoë doen om hul verhouding te maak werk. Die nuus van Angie (Char Carrie) se swangerskap verander egter alles.
’n Nuwe dinamika ontwikkel. Angie wil haarself en haar baba beskerm, Wade wil sy pligte as toekomstige pa nakom, en Zoë moet besluit hoeveel ruimte daar in haar verhouding vir Angie en haar baba gaan wees.
Dit is nie net ’n liefdesdriehoek nie – dit is ’n storie oor verantwoordelikheid, jaloesie, ou wonde en die vraag of liefde sterk genoeg is wanneer die lewe skielik baie ingewikkeld raak.
Bridgette meng in
Bridgette se rol in Junie is een van die sterkste emosionele dryfvere. Haar hooffokus is Zoë en sy wil keer dat sy weer seerkry, veral nadat Wade se lewe deur die onverwagte swangerskapnuus verander word.
Haar beskermingsdrang raak egter al meer beherend. Sy bevraagteken Wade en waarsku Zoë teen hartseer. Sy begin later selfs die idee van ’n huwelik as ’n vorm van beskerming voorstel.
Haar bedoeling kom uit ’n plek van liefde vir Zoë. Maar die vraag is of sy Zoë help, of dalk net onder nóg meer emosionele druk plaas.
Mike se leuens haal hom in

Mike (Anrich Herbst) se verhouding met Lee-Ann (Portia Joel) begin krake wys. Dit blyk immers dat hy dalk nog gevoelens vir Amanda (Lindie Strydom) het. Maar hoe harder hy probeer om dit weg te steek, hoe meer ingrypend raak die gevolge.
Dit veroorsaak ongelooflike spanning, en dit spoel oor na JPD. Mike se behoefte om beheer te behou en dinge “reg te maak” laat hom ’n besluit neem wat moontlik sy loopbaan en reputasie groot skade kan berokken.
Bennie: ’n Kwessie van die hoogste bome?

Tussen al die groot drama in Ruiterbosch sorg Bennie (Richard September) se storielyn vir ligter oomblikke.
Sy passie vir voëls kry ’n onverwagse platform op Radio Dassie waar sy kennis en unieke manier van praat hom in die kollig plaas. Maar wanneer kritiek hom tref, verloor hy skielik sy selfvertroue.
Justin (Eden Classens) en Frankie (Mienke Ehlers) probeer hom weer moed gee, en Bennie moet besluit of een nare stem harder gaan tel as die res wat hom geniet.
Die Thuli’s en Samsodiens stamp koppe oor geld en trots
Bianca (Simone Biscombe) en Siya (Gantane Kusch) se finansiële probleme word moeiliker om weg te steek. Veral wanneer Kaashifa (Jawaahier Petersen) en Rhafiek (Irshaad Ally) hulle by duur planne betrek sonder dat hulle die volle prentjie verstaan.
Wat as goeie bedoelings begin het, ontaard in ’n ongemaklike situasie wanneer trots, vernedering en misverstande kruis. Die storie wys hoe sensitief geldsake tussen vriende en familie kan wees – veral wanneer daar probeer word om iemand te help, maar nie besef hoe seer dit daardie persoon kan maak nie.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.