Daar gaan warrelwinde, en by tye selfs orkane, van intrige, konflik, keerpunte en nuwe geleenthede in vandeesmaand se episodes van Suidooster wees.
Hier is vyf storielyne wat kykers moet dophou:
’n Sterk band ontwikkel
Ná Bianca (Simone Biscombe) se motorongeluk en die onthulling van Brendan (Caleb Arnolds) se hand daarin, kom daar uiteindelik ’n emosionele versoening tussen hom en Bianca. Jare se pyn en vrese word oopgevlek en ’n nuwe hoofstuk begin vir die Thuli-huishouding.
Angie en Tino: meer as net mooi naels en lekker lag
’n Hegte vriendskap is besig om te ontwikkel tussen Angie (Char Carrie) en Tino (Cole Wessels) en die twee is byna onafskeidbaar. Angie moedig Tino aan om sy talent as komediant te omarm en tot sy voordeel aan te wend. Tog dra Tino ’n swaar las: sy sieklike ma en sy dubbele lewe as sekuriteitswag. Kan hy sy sparkle behou terwyl hy al die drade van sy lewe bymekaar probeer trek?
’n Huis vol hoop – en spanning
Rhafiek (Irshaad Ally) en Kaashifa (Jawaahier Petersen) koop uiteindelik Mymoena (Jill Levenberg) se huis, maar vir Kaashifa is die vreugde daaroor van korte duur. Sy voel dat sy nooit heeltemal haar eie stempel op die huis kan afdruk terwyl Mymoena nog daar woon nie. En toe Maryam (Celeste Wanneburg), Mymoena se suster, onverwags opdaag, is die gort omtrent gaar.
Is Wade se nuwe begin wel nuut, of bring dit net nuwe moeilikheid mee?
Wade (Dean Smith) besluit dis tyd om sy droom van ’n eie kroeg te verwesenlik. Maar met Zoë (Lauren Joseph) as sy silent partner, Elana (Esther van Waltsleben) wat hom in die pad gesteek het, en Nazeem (Irvine van der Merwe) wat snuf in die neus begin kry, loop dinge vinnig skeef. Chaos, DJ-nagte en geheime kuiers laat hom wonder of dit nie dalk eerder die resep vir ’n nagklub is nie. Of is dit eerder ’n wenresep vir ’n mislukking – vir sy toekoms en sy verhouding?
Pille, plasebo’s en passie
Gary (Craig Adriaanse) en Frankie (Mienke Ehlers) glo hulle het die voordele van ’n nuwe spierbou-middel ontdek. Dis nou totdat die newe-effekte begin opduik… Maar toe die waarheid uitkom, is dit al die tyd toe net plasebo’s wat hulle laat rondhol het! Intussen kry Gary se liefdeslewe vlerke wanneer hy vir Lilly (Lascelles Marias) ontmoet. Het hy dalk sy trouvrou ontmoet?
Suidooster, wat vanjaar sy tiende verjaarsdag vier, word weeksdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET&Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.