Menu terloops
In Sepies [2 Feb 2026]

‘Suidooster’ in Februarie: Vergeet van stormsterk – ’n orkaan van drama gaan Ruiterbosch tref! 


Die maand van liefde in ‘Suidooster’ gaan nie ’n mak maand wees nie. Kykers kan hulself daarop voorberei dat hulle emosioneel én moreel uitgedaag gaan word. Hou dié storielyne dop.

Deur Redaksie

Kyk 'Suidooster' op DStv Stream

‘Suidooster’ in Februarie: Vergeet van stormsterk – ’n orkaan van drama gaan Ruiterbosch tref! 

In Februarie staar die inwoners van Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel, nuwe krisisse in die gesig. Magsmisbruik en diep persoonlike struwelinge is maar net twee van die uitdagings wat vir ingrypende opskuddings gaan sorg. 

Ja, so seker soos die wind sal waai, gaan die komende weke vir stormsterk-drama sorg en kykers moet veral hierdie vyf storielyne dophou: 

1

Wanneer magsug belangriker is as die waarheid

Suidooster, Nazeem
Nazeem (Irvine van der Merwe) speel weer vuil. Foto’s: Skermgrepe

Nazeem (Irvine van der Merwe) saai Ruiterbosch se geliefde pastoor, Siya (Gantan Kusch) se paadjie om Ruiterbosch se wyksraadslid te word vol duwweltjies. En tipies Nazeem speel hy vuil – veral omdat sy halfsuster Bridgette Jacobs (Denise Newman) vir Siya ondersteun. 

Siya se veldtog wys kykers hoe maklik openbare simpatie gemanipuleer kan word wanneer tragedie, media en politieke ambisie saam in een groot pruttende hutspot beland. Onskuldige mense word as pionne misbruik en sogenaamde “goeie dade” is bloot ’n rookskerm vir wraak en eie belang. 

Wat almal natuurlik wil weet is hoeveel skade een persoon kan aanrig voordat die waarheid hom eindelik inhaal? Dis natuurlik as die waarheid ooit die kans kry om te seëvier . . .

2

Die lang pad van herstel ná trauma

Angie, Suidooster
Angie (Char Carrie) moet die stukke van haar lewe optel ná sy uit Tristan se kloue ontsnap.

Angie (Char Carrie) se lewe is in skerwe as gevolg van haar toksiese verhouding met Tristan (Arno Greeff), maar sy skraap tog die moed bymekaar om haar uit sy manipulerende kloue te wikkel. 

Maar dan vang Tristan iets aan wat die inwoners van Ruiterbosch tot in hul diepste wese ruk. 

Genesing vind ook nie oornag vir Angie plaas nie, want die groot stryd met selfbeeld, skuldgevoelens en vrees lê nog vir haar voor. Tog is daar ook hoop – in vriendskap, ondersteuning en die moed om haar hart weer oop te stel vir liefde. 

3

Liefde wat nie volgens plan verloop nie

Die dinamiek tussen Zoë (Lauren Joseph) en Wade (Dean Smith) was nog altyd alles behalwe eenvoudig. En as ’n nuwe ridder op ’n wit perd Zoë se lewe binne-galop, begin ou gevoelens, onsekerheid en verborge verwagtinge onafwendbare spanning skep. 

Zoë probeer haar hart beskerm en Wade worstel met jaloesie, iets wat hy nie wil erken nie. Eerlikheid maak soms die seerste, maar dis ook die nodigste.

Suidooster
Wade (Dean Smith) sukkel met jaloesie as Zoë (Lauren Joseph) iemand nuut ontmoet.
4

Drome teenoor realiteit: wanneer ’n nuwe lewe lok

Suidooster
Wanneer Susan (Natasha van der Merwe) se jonger suster, Linda (Melissa Willering), kom kuier, word Susan en Elana se wêreld omgedolwe. 

Susan (Natasha van der Merwe) en Elana (Esther van Waltsleben) word voor ’n lewensveranderende besluit gestel: hou vas aan stabiliteit, of waag ’n kans met hul toekoms. Die moontlikheid van ’n nuwe begin bring hoop, maar ook vrees. 

Wanneer Susan se jonger suster, Linda (Melissa Willering), kom kuier en ’n skokonthulling maak, word Susan en Elana se wêreld behoorlik geskud. 

5

Wanneer jou liggaam jou waarsku, maar niemand luister nie

Rhafiek, Suidooster
Wat is fout met Rhafiek (Irshaad Ally)?

Die Samsodiens kom voor ’n nuwe toets te staan wanneer Rhafiek (Irshaad Ally) begin vrees dat daar iets ernstig met sy gesondheid skort. Aanvanklik word dit afgemaak as stres of lewenstylbesluite wat sy welstand affekteer, maar intussen word ’n ernstige gesondheidskwessie misgekyk. Sy frustrasie neem al hoe meer toe wanneer ander namens hom praat of besluite vir hom probeer neem. 


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer
Sien alle opsies