Menu terloops
In Sepies [1 Jan 2026]

Gedink 2025 was ’n stormagtige jaar in ‘Suidooster’? Ha! Stormsterk-drama vir nuwe jaar voorspel


Daar is diepe hartseer, ou vetes wat weer vlam vat, harte wat versplinter, nuwe ambisies en gevaarlike persoonlikhede – hier is die ses grootste storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in Januarie voor die skerm vasgenael gaan hou.

Deur Redaksie

Kyk 'Suidooster' op DStv Stream

Gedink 2025 was ’n stormagtige jaar in ‘Suidooster’? Ha! Stormsterk-drama vir nuwe jaar voorspel

2026 skop af met ’n behoorlike knal in Ruiterbosch, die denkbeeldige Kaapse woonbuurt waar die gewilde kykNET-sepie, Suidooster, afspeel. 

Hier is die ses grootste storielyne wat in Januarie kykers vasgenael gaan hou.

1

Die Jacobs-susters slaan terug – en Nazeem betaal die prys

Suidooster
Die vrede het beslis nie lank gehou nie… Nazeem (Irvine van der Merwe) maak weer moeilikheid. Foto’s: Skermgrepe

Lee-Ann (Portia Joel) en Wade (Dean Smith) ontbloot eindelik Nazeem (Irvine van der Merwe) se dwelmhandel waarby hy vir Carlo (Jadon Booysen) betrek het. Nou is die gort behoorlik gaar! 

Die oënskynlike vrede en harmonie wat oor die afgelope maande in die Jacobs-gesin geheers het nadat Nazeem en sy halfsuster, Bridgette (Denise Newman), versoen het, is nou beslis iets van die verlede. 

Maar Nazeem is immers nie iemand wat gaan lê nie. Hy is reeds weer besig met slinkse planne om te verhoed dat hy aan die pen ry. Hy draai almal, behalwe die Jacobse, ’n rat voor die oë. Lee-Ann soek sy bloed en saam met Bridgette en Zoë (Lauren Joseph) beraam hulle ’n nuwe plan om Nazeem behoorlik te laat les opsê. 

2

Liefde, verlies en trauma: Aiden en Liné se hartverskeurende pad

Suidooster
Die tragiese afsterwe van Jenna op Nuwejaarsdag skud Aiden (Theodore Jantjies) en Liné (Mila Guy) se wêreld tot in sy fondamente.

Die tragiese afsterwe van Jenna (Judi Hattingh) op Nuwejaarsdag skud Aiden (Theodore Jantjies) en Liné (Mila Guy) se wêreld tot in sy fondamente. Voor haar dood kry Jenna nog die kans om te hoor dat Aiden Liné wil vra om te trou – ’n oomblik van lig wat tragies kort van duur is.

Wat volg is ’n emosionele wipwarit: Liné hou haarself besig met begrafnisreëlings sonder om werklik te rou. Sy hardloop weg van haar pyn en uiteindelik wil sy net wegkom van alles en verdwyn. Haar motor en besittings word weldra gevind, maar van haar is daar geen teken nie. Ruiterbosch hou asem op…

3

Tristan en Angie: Wanneer romanse gevaarlik word

Wat begin het as ’n speelse romanse, verander vinnig in een van Suidooster se donkerste verhoudings tot dusver. 

Tristan (Arno Greeff) se jaloesie en agterdog raak al hoe erger: hy kritiseer Angie (Char Carrie) se vriende, haar kleredrag en selfs haar werkbesluite. Wanneer Kaashifa (Jawaahier Petersen) en Frankie (Mienke Ehlers) hul kommer daaroor uitspreek, draai hy teen hulle.

Angie, vasgevang in die warboel van manipulasie, glo telkens dat Tristan homself “probeer verbeter”, maar die situasie versleg by die dag. En dinge raak gevaarlik.

4

Bridgette se geheime alter-ego – en Ruiterbosch se nuwe radioster

Bridgette word teen haar sin ’n radio-persoonlikheid wanneer sy noodgedwonge vir Justin (Eden Classens) by Radio Dassie moet inspring. In die hitte van die oomblik skep sy ’n alter-ego, die jong en sogenaamd super-suksesvolle “Cecily”. Die gehoor val onmiddellik vir Cecily se skerp raad en wenke, en Bridgette ontaard onverwags in ’n sensasie. Maar ai, dit skep nuwe kopsere vir Bridgette.

Suidooster
Bridgette se alter-ego, ene Cecily, skep baie onvoorsiene kopsere.
5

Siya staan op vir die bejaardes – en die politiek roep

Wanneer Siya (Gantane Kusch) uitvind dat PanVista beplan om drastiese verbeteringe aan die aftree-oord te maak wat dit onbekostigbaar vir inwoners sal maak, besluit hy genoeg is genoeg.  Sy optog na die maatskappy se kantore misluk, maar dit lei tot ’n groter idee: hy moet sy gemeenskap op politieke vlak dien.

Met Bridgette wat sy veldtog finansier, begin Siya voorberei om vir wyksraadslid te staan. Maar niemand anders nie as die sluwe Nazeem sien hier ’n gulde geleentheid raak en kort voor lank is die duiwel weer behoorlik los in Ruiterbosch.

6

Susan en die rooikat-saak: ’n Stryd vir geregtigheid

Suidooster
Susan (Natasha van der Merwe) se lewe word vervleg met dié van Oliver (Stefan Erasmus), ’n eko-kryger.

Susan (Natasha van der Merwe) se behoefte om haar radioprogram meer impakvol te maak, lei haar na die hofsaak van Oliver (Stefan Erasmus), ’n eko-kryger wat probeer het om rooikatte van ’n boer se plaas te red. 

Wat begin as ’n kontroversiële storie word vinnig ’n nuwe missie. Susan kom agter dat beide kante van die storie ’n punt beet het. Sy begin na ’n oplossing soek: die hervestiging van die rooikatte, al kos dit ’n fortuin. Susan se lewe word vervleg met dié van Oliver – op professionele én persoonlike vlak.


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies