Die Afrikaanse telenovela Skemergrond se derde seisoen begin vandeesweek met skokkende onthullings, nuwe gesigte en moeilike keuses wat verhoudings én die toekoms van Everlasting bedreig.
Christine se web
Dirk word al hoe dieper in Christine se web ingetrek nadat sy hom met ’n onthulling onkant vang. Terwyl die Louws probeer om hul familie en die blomplaas te beskerm, ontstaan daar verdeeldheid in die gemeenskap en word ou vriendskappe en lojaliteite getoets. Tillie word gedwing om moeilike keuses te maak. Christine se invloed op Dirk word al hoe sterker en die stryd om Everlasting eskaleer.
Nuwe gesig, nuwe vrae
Intussen sorg ’n nuwe inwoner vir spanning tussen Ruan en Lily. Cheryl, vertolk deur Robyn Rossouw, wek Lily se agterdog wanneer Ruan al meer tyd aan haar begin afstaan. Namate vrae oor Cheryl se verlede en haar verbintenis met Ruan begin opduik, word Ruan gekonfronteer met gebeure uit sy eie verlede. Lily is later desperaat vir antwoorde.

Chelsea se stryd
Chelsea se lewe neem ook verskeie emosionele draaie wanneer sy en Justin ’n groot besluit neem en alles nie volgens plan verloop nie. Terwyl die mense van Gemoedsdrif om haar saamtrek, spat haar drome aan skerwe en raak haar geliefdes toenemend bekommerd oor haar welstand. Gloria, Kevin en Erica probeer alles in hul vermoë om haar by te staan, maar Chelsea se stryd raak almal rondom haar.
Emosies loop hoog
Ook elders in Gemoedsdrif loop emosies hoog. Erica probeer haar plek as dominee se vrou vind te midde van spanning en verdeeldheid. Dít terwyl Dominee Wayne al meer onseker raak oor Ragel se gedrag. Jasmine bevind haarself in die middel van die dorp se verdeeldheid en moet uiteindelik haar kant van die saak stel.
Manny, Tillie en die Louws word intussen gedwing om moeilike besluite te neem terwyl die toekoms van hul gemeenskap op die spel is.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.