Menu terloops
In Sepies [4 Aug 2025]

‘Skemergrond’: Dié 4 storielyne laat spanning in Augustus oorkook


Gevaarlike grense word oorgesteek en lojaliteite word beproef in ‘Skemergrond’ vandeesmaand. Hou dié storielyne dop.

Kyk 'Skemergrond' op DStv Stream

‘Skemergrond’: Dié 4 storielyne laat spanning in Augustus oorkook

In Augustus kook die spanning oor in Skemergrond. Ou wonde word oopgekrap, verhoudings spat uitmekaar, en nuwe bedreigings duik op waar jy dit die minste verwag. Terwyl Christine haar oorlog teen die Louws verskerp en ander inwoners met liefde, lojaliteit en hul eie demone worstel, begin die grond onder Gemoedsdrif bewe en skuif. 

Hier is vier storielyne wat jou dié maand op die punt van jou stoel gaan hou:

1

Christine is (steeds) op die oorlogspad

Christine se plan om Everlasting te saboteer raak al meer intens en begin die plaas se fondamente skud. Sy manipuleer die mense rondom haar, dryf ’n wig tussen JP en Jasmine en plaas JP in ’n onmoontlike posisie. Hazel probeer om dinge beter te maak,  maar beland self in die spervuur. Christine se taktieke raak ook meer aggressief. Sy sal duidelik nie ophou voordat sy teruggekry het wat sy glo aan haar behoort nie…

2

Fabian soek ’n plek om in te pas

Ná ’n mislukte eerste dag op Everlasting, begin Fabian uiteindelik sy voete vind, maar sy verlede haal hom in. Ruan se konfrontasie ruk hom, en Gloria bly op haar hoede en bevraagteken sy bedoelings. Sy vriendskap met Junior laat Jasmine bekommerd, en Fabian se ware motiewe is vaag. Al is sommige inwoners bereid om hom ’n tweede kans te gee, bly Gloria skepties. 

3

Dominee Wayne en Erica se band verdiep

Te midde van konflik in die gemeente en ’n ongeluk met die kerk se eiendom, ontstaan ’n dieper verbintenis tussen Wayne en Erica. Hulle deel stil oomblikke en geestelike insigte, en uiteindelik is daar selfs ’n afspraak tussen die twee, maar dit is nie alles maanskyn en rose nie. Wayne worstel met sy plek in die gemeenskap, Erica kry skokkende nuus, en albei sukkel om hul gevoelens en hul verantwoordelikhede te balanseer. Terwyl gerugte begin versprei en die druk toeneem, moet hulle besluit wat hulle werklik vir mekaar beteken.

4

’n Nuwe begin vir Manny en Tillie

Manny bevind homself op ’n kruispad, met lewensveranderende besluite wat dalk die koers van sy toekoms in Gemoedsdrif gaan bepaal. Terwyl hy begin om sy lewe weer op te bou, raak Tillie ’n onverwagse bron van ondersteuning – én spanning. Hul verhouding word getoets in openbare konfrontasies en gemeenskapsvergaderings, maar ’n verrassende eerste afspraak wys ’n sagter kant van albei. Terwyl Tillie en Manny nader aan mekaar beweeg, moet hulle die gewig van hul verlede en die verwagtinge van ander navigeer.


Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 8 stories in November misloop

Die finale seisoen van die TV-fenomeen 'Stranger Things'; ’n nuwe 'Kokkedoor'; liefdesintrige in 'Maxton Hall' se tweede seisoen; en Guillermo del Toro se 'Frankenstein' tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Dikker as water’-kykgids vir November 2025

Doğa maak ’n groot besluit oor haar studies terwyl ’n misverstand tussen Pembe en Abdullah ontstaan. Hier is ’n voorsmakie van wat vandeesmaand op 'Dikker as water'-kykers wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-gids vir November 2025

Karla en Arno se verhouding word op die proef gestel en Danie se gevaarlike obsessie dryf hom tot uiterstes... Hier is waarna ‘Diepe Waters’-kykers vandeesmaand kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-gids vir November 2025

Wade ruk heeltemal handuit en Angie en Zoë wil mekaar weer aan die hare beetkry... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in November kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies