Die 14de kykNET Silwerskermfees vertoon vanjaar 22 rolprente, waaronder dokumentêre, onafhanklike kortfilms, asook kortfilms deur gevestigde én opkomende filmmakers. Dié kategorie vir kortfilms deur gevestigde filmmakers voorsien dié skeppers van befondsing en bied ’n geleentheid om hul vakmanskap ten toon te stel. ’n Voorwaarde vir deelname aan hierdie kategorie is dat die filmmakers ook minder ervare tegniese spanlede moet mentor.
Hier is als wat jy moet weet oor die kortfilms wat deur gevestigde filmmakers geskep is en by vanjaar se fees première:
Trilstraat verken verhoudings en onverwagse uitdagings
’n Opwindende aand uit vir ’n paartjie in Kaapstad neem ’n onaangename – en verrassende – wending wanneer hulle op pad terug na hul motor beroof word. Hoewel ’n traumatiese ervaring, is die grootste uitdaging nie om in die middel van die nag hulp te soek nie. Die man (Ludwig Binge) en vrou (Cintaine Schutte) se uiteenlopende reaksies is ’n openbaring. Dit is ’n oomblik van ontnugtering en die band tussen die twee lyk skielik nie meer so sterk nie.
Regisseur Carla Smith hoop mense sal die 11 minute afstaan om na Trilstraat te kom kyk. Volgens haar is dit in wese ’n verhoudingsdrama wat die samelewing se geykte genderrolle ondersoek.
“Ek en my medeskrywer Igna Botha het van ’n soortgelyke storie gehoor en dit baie geniet om die res van die aand te verbeel. Beide van ons is in wat ons sou noem ‘moderne liefdesverhoudings’. Deels los van die vorige generasies se idees oor manwees en vrouwees, so ons kon onsself lekker uitdaag met hoe mens sou reageer en hoe mens sou wou hê iemand anders moes reageer,” vertel sy.
Komplekse verhouding van twee vroue belig in As ek kon kies
Gedurende ’n kerkdiens word ’n jong vrou, Kyleigh (Beáta Bena), se verlowing aan ’n jong man, Jayden, gevier. Met dié openbare gebaar bevestig Kyleigh die lewe wat sy vir haarself kies – een van geloof, gemeenskap en familie.
Lara (Anoecha Kruger), ’n vorige partner, is ’n toeskouer by die geleentheid. Wat op die oog af ’n vrolike geleentheid moet wees, is in werklikheid vir die twee vroue die amptelike bevestiging dat hul diepgaande verhouding finaal verdoesel word. Hulle wil bitter graag na mekaar uitreik en sê wat nie gesê mag word nie, maar elkeen moet haar pyn alleen verwerk, die swye handhaaf.
Die skrywerregisseursduo Kanya Viljoen en Emilie Badenhorst staan bekend as Unusual Bones. Hul eerste kortprent, ekstasis (2021), het pryse gewen by die Cannes Young Directors Awards en die Joburg Film Festival (2021) en die Silwerskermfees in 2022. Hul kortfilm ’n Doop om stilte (2023) het by die Silwerskermfees gedebuteer, waar die duo die prys vir beste regisseur en beste kortprent gewen het.
Dié twee vertel dat een van die belangrikste elemente binne die film was om eerlik te wees oor hoe baie kontras daar in die lewe is. “Hoe ’n mens kan ‘behoort’ in beide jou geloof en binne jou eie seksualiteit. Hoe ’n oomblik van jou grootste vreugde ook ’n oomblik van jou grootste hartseer kan bevat. Hoe ’n mens kan vrede hê met jou keuses, en tog daaroor kan treur. Dis iets wat ons almal so intiem ken. Dat die lewe uit keuses bestaan, maar dat dit nie altyd daardie keuses maklik maak nie.”
Wag ’n bietjie is ’n wekroep om daadwerklik te begin leef
Om te wag, is vir meeste mense ’n pyniging. En vir Suid-Afrikaners is ’n toustanery ’n ware foltering. Die prentjie sien wel gans anders daar uit as dit is hoe jy jou brood en botter verdien. Soos ’n professionele toustaner wat geduldig (en teen betaling) namens ander wag om netelige administratiewe take af te handel…
Lionel (Danny Ross) het so half toevallig daarmee begin, en toe hou hy net aan. Hy is inderwaarheid ’n bekende gesig by staatsdepartemente. Op ’n dag kry hy die aardigste versoek van ’n vreemde man (Germandt Geldenhuys) in die tou: Om by sy sterwende ma (Elzabé Zietsman) te waak tot sy haar laaste asem uitblaas.
Christian Grobbelaar, skrywer-regisseur van Wag ’n bietjie, het aanvanklik ’n riller in gedagte gehad. Weens ’n persoonlike rouproses het hy uiteindelik ’n diep menslike kortprent geskep wat deels handel oor ’n baie bekende tema: die dood. Die interessante invalshoek het hom egter die geleentheid gegee om die tema anders te belig, rond te speel en af te wyk van ’n geykte benadering. Terselfdertyd herinner hy mens daaraan dat jy nie jou lewe om moet wag nie. “Ek was in die proses om oor my ma te rou, en hierdie storie het ’n vorm van terapie geword,” vertel hy.
“Die legkaart van die storie het soveel brokkies wat uiteindelik mooi by mekaar ingepas het. Ek was besig om na ’n grief podcast te luister. Wat vir my uitgestaan het, was dat party mense bly was dat hulle daar was tydens hul naasbestaande se laaste oomblikke. Maar vir ander was dit traumaties. Daar was geen reg of verkeerd nie en daardie tipe grys area was vir my baie interessant. Toevallig die oggend wat Silwerskerm se inskrywings geopen het, het ek ’n artikel gelees oor ’n man wat namens mense wag by binnelandse sake. Die idee dat mens iemand kan kry om jou plaasvervanger te wees tydens die moeilikste wagtery van jou lewe het dadelik soos iets gevoel wat ek wou aanpak.”
’n Poppy op die heuwel vra hoe ons dié eer wat voor ons gekom het
Wanneer hul geliefde ouma Poppy sterf, keer Laila en Josh terug na die Namakwalandse plaas waar sy die grootste deel van haar lewe bestee het. Laila het geen twyfel in haar gemoed nie: Poppy moet langs haar eie ouers begrawe word op die grond waar geslagte van hul familie eens gewoon het. Maar die plaas het intussen van eienaar verander en die nuwe bestuur weier dat sy by haar familie begrawe word. Laila weet daar is net een manier om vir ouma Poppy ter ruste te lê, al moet sy self die graaf opneem. Vir die familie word dit ’n daad om te besin oor wat hulle verloor het en ’n regmatige plek in die verlede op te eis wat hulle nie meer beskore is nie.
Winford Collings, bekend vir die boeiende speelfilm ADAM (saam met Liyema Speelman), is die regisseur en draaiboekskrywer. Hy het ook verlede jaar aan die fees deelgeneem in die opkomende filmmakers-kategorie met die roerende kortprent Melkbrood. Hy vertel dat die idee vir dié prent uit sy eie persoonlike ervarings gespruit het.
Suidooster se Lauren Joseph en Skemergrond-akteur Marunzo Thomas maak deel van die rolverdeling uit.
Die 14de kykNET Silwerskermfees word van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad, aangebied. Kaartjies vir die films, asook die toekenningsgeleentheid op Saterdag 22 Augustus, is beskikbaar by Quicket.
Vir die volledige program, besoek www.silwerskermfees.co.za.