Menu terloops
In Wat om te kyk [4 Sep 2024]

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk


Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Skaars ’n week ná die einde van vanjaar se Silwerskermfees, is van die kortfilms en dokumentêre op Saterdagaande van 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) te sien.

Die eerste sarsie, wat hierdie Saterdag, 7 September 2024, uitgesaai word, sluit in die kortfilms Liewe Dudu, Marie se laaste dag, Noise & Neighbours en Die Skynwerper.

Liewe Dudu (kortfilm)

’n Lyk, ’n skoonheidsterapeut en ’n ontploffing van pienk… As Dudu, ’n borrelende skoonheidsterapeut, laat opdaag by die laekoste-spa waar sy in Pretoria werk, tref chaos haar wanneer sy op ’n lyk op een van die masseerbeddens afkom. Met min tyd oor voor die jaarlikse inspeksie van die spa later die oggend, roep Dudu haar beste vriendin Lerato se hulp in om die liggaam te verskuif. Net om dan te besef dat haar baas, Nina, haar lykbesorger-kêrel toestemming gegee het om die liggaam tydelik daar te stoor. Die spa-meisies moet nou saamwerk om die lyk te versteek en alles eksie-perfeksie te kry voordat die swygsame inspekteur opdaag.

Liewe Dudu het verskeie weergawes beleef voordat die teks gefinaliseer is, en sekere elemente het mettertyd in die slag gebly. Hoewel die rolprent hoofsaaklik ’n komedie is, het ek subtiele kommentaar oor relevante kwessies probeer inwerk. Ek hoop kykers sal ’n oomblik stilstaan en daaroor dink, en miskien stimuleer dit gesprekvoering oor dié onderwerpe,” vertel die kortkomedie Liewe Dudu se regisseur, Lydia Anne Stander.

Lees ons volledige onderhoud met Lydia Anne, wat ook die draaiboek geskryf het.

Marie se laaste dag

  • Wenner van die 2024 Silwerskermtoekennings vir beste draaiboek van ’n kortfilm deur ’n opkomende filmmaker vir Lourensa Eckard en Mercy Kannemeyer, beste kinematografie in ’n kortfilm vir Tom Marais en beste kortfilm deur ’n opkomende filmmaker

In Marie se laaste dag, wat die joernalis en aanbieder Lourensa Eckard saam met die skrywer en teatermaker Mercy Kannemeyer geskryf het, ontmoet ons Marie (Mandri Sutherland), die jare lange sekretaresse van die minister van minerale hulpbronne, Hendrik van der Merwe (Deon Lotz) op die eerste dag van die nuutgevormde regering van nasionale eenheid in 1994. 

Mandri Sutherland en Deon Lotz in die bekroonde kortprent, Marie se laaste dag. Foto: Verskaf Silwerskermfees
Mandri Sutherland en Deon Lotz in die bekroonde kortprent, Marie se laaste dag. Foto: Verskaf

Lourensa is bekend as aanbieder van die aktualiteitsprogram In gesprek op kykNET en is ’n aanbieder vir M-Net se Carte Blanche. Maar al hou sy haar daagliks met grensverskuiwende onderwerpe besig, is Lourensa baie lief vir lag en humor. Dié dat sy haar debuut as regisseur en draaiboekskrywer maak met ’n komiese fliek wat ’n doodgewone vrou se perspektief op ’n belangrike tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis bied.

Lourensa het die draaiboek saam met die skrywer en teatermaker Mercy Kannemeyer geskryf.

“Ek wou myself uitdaag op ’n nuwe gebied. My alledaagse werk is baie ernstig. Maar ek geniet humor. Nuuskantore het mos die mense met die beste humorsin, want as jy nie lag nie, gaan jy huil,” vertel Lourensa.

Lees Riëtte van der Wat se onderhoud met Lourensa oor dié bekroonde kortprent.

Noise & Neighbours

In die afwesigheid van dialoog in die opkomende filmmaker Liza Ludick se Silwerskermfees-kortprent, Noise & Neighbours, is dit musiek wat ál die praatwerk doen.


As ’n mens die musiek weglaat, kan Liza Ludick se nuwe kortfilm, Noise & Neighbours, eintlik as ’n stilprent geklassifiseer word. Tog, met treffende animasie en die hartroerende note van komponis Wesley West se klavier, spreek die stilte in hierdie film waarlik boekdele.

Die veteraan-akteur Tobie Cronjé en nuweling Olwethu Kunene speel die rolle van Helmut en Bolelo, bure wat mekaar nie kan verdra nie, maar wat deur die universele taal van musiek unieke rolle vir mekaar begin vervul.

Regisseur Liza Ludick vertel dat sy die film sonder dialoog gemaak het omdat sy ’n film wou maak “wat deur enigiemand verstaan kan word, ongeag taal of kultuur. Ek voel dat dialoog somtyds oormatig gebruik word. Stilte kan die kern van ’n boodskap op ’n universele manier oordra. Daarom voel ek sterk daaroor dat daar ’n wel plek in die mark vir films sonder dialoog is.”

Lees ons volledige onderhoud met Liza oor die besonderse kortprent.

Die Skynwerper

  • Wenner van die Silwerskermtoekenning vir beste regie van ’n kortfilm deur ’n opkomende filmmaker (Dewet van Rooyen) en beste akteur in ’n kortfilm (Ben Albertyn)

Die sielkundige riller, Die skynwerper, spog met ’n ongelooflike rolverdeling wat veterane soos Dawid Minnaar en Antoinette Kellermann insluit, asook die Donkerbos– en Dinge van ’n kind-akteur Ben Albertyn in die hoofrol as Nelis.

Die storie, met Linsen Loots en Dewet van Rooyen as draaiboekskrywers en Van Rooyen ook as regisseur, vertel van Nelis wat ’n afgesonderde bestaan saam met sy verlamde pa (Minnaar) voer. As hy sy werk verloor, steek hy hand op om aan die realiteitsreeks Die skynwerper deel te neem. Maar ná ’n mislukte oudisie raak hy agterdogtig oor die reeks se aanbieder, wie hy glo sy lewe vanuit die skadu’s manipuleer …

Lees Herman Eloff se volledige onderhoud met Dewet oor dié rillerprent.

En die res?

Hier is wanneer die res van die titels op kykNET uitgesaai word.

14 September 2024, 20:00

  • Baas se honne
  • Steek vir steek
  • Die Groot Twis
  • Ons
  • Selah

21 September 2024, 20:00

  • Deuntjie
  • In die verloop van
  • Liminale
  • Die Boodskapper
  • O! Griet, Sy’s droog

28 September 2024, 20:00 (dokumentêre)

  • Maak stil die geblaf
  • Tussen die draad en die dropper
  • Vergeet van my
  • By die soutwater

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies